5 AUGUSTUS 2013
VERENIGDE STATE
Getuies begin met die bou van nuwe wêreldhoofkwartier in Warwick, New York
NEW YORK—Jehovah se Getuies het op Maandag 29 Julie 2013 amptelik begin met die bou van hulle nuwe wêreldhoofkwartier in Warwick, New York, nadat die terreinplan deur plaaslike amptenare goedgekeur is.
Op Woensdag 17 Julie het die beplanningsraad van die stad Warwick die terreinplan vir die Getuies se nuwe wêreldhoofkwartier eenparig goedgekeur. Dit was die laaste goedkeuring wat nodig was om boupermitte te verkry om met die bouwerk te begin. Hierdie goedkeuring is ontvang presies vier jaar nadat die Getuies op 17 Julie 2009 die eiendom in Warwick gekoop het. Nadat die Getuies hulle eerste boupermit op Vrydag 26 Julie verkry het, het hulle op Maandag 29 Julie met voorbereidingswerk en fondasie-uitgrawings begin.
Die Getuies se bereidwilligheid om ’n omgewingsvriendelike bou-ontwerp te gebruik, het ’n belangrike rol gespeel in die stadsbeplanningsraad se eenparige goedkeuring. Bewaringspogings sal byvoorbeeld die oprigting insluit van ’n erosieheining, wat ook wilde diere, soos ratelslange, sal beskerm deur hulle van die bouterrein weg te hou.
“Ons is baie bly om die projek voort te sit in samewerking met die amptenare van die stad Warwick”, sê Richard Devine, ’n woordvoerder vir die Getuies. “Hierdie goedkeuring deur die stadsbeplanningsraad is ’n belangrike verwikkeling in die verskuiwing van ons wêreldhoofkwartier van Brooklyn na Warwick.” Enrique Ford, wat saam met mnr. Devine op die Getuies se bouprojekkomitee dien, voeg by: “Toe ons in Julie hierdie terreinplan en spesiale permit verkry het, is die eerste belangrike mylpaal bereik om die projek binne die beplande vier jaar te voltooi.”
Die eiendom het voorheen behoort aan die International Nickel Company, wat dit vanaf 1960 tot 1987 vir verskeie doeleindes gebruik het, insluitende as ’n hoofkantoor asook ’n navorsings- en ontwikkelingsfasiliteit. Nadat dit omtrent vier jaar lank in onbruik was, het King’s College dit gekoop met die doel om die eiendom in ’n kampus te omskep. Dit het nooit gebeur nie, en die eiendom is meer as twee dekades lank nie gebruik nie, totdat die Getuies dit in 2009 gekoop het.
Mediaverteenwoordiger(s):
Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000