Spring na inhoud

Dennis Christensen word op 25 Mei 2022 verwelkom deur sy pa en suster by die Kastrup-lughawe in Kopenhagen

25 MEI 2022
RUSLAND

Dennis Christensen vrygelaat en gedeporteer

Dennis Christensen vrygelaat en gedeporteer

Irina Christensen wag op 24 Mei 2022 buite Tronk nr. 3 in Lgof, Rusland, vir Dennis om vrygelaat te word

Dennis Christensen het op 25 Mei 2022 veilig in Denemarke aangekom. Hy is die vorige dag uit ’n Russiese tronk vrygelaat en dadelik gedeporteer. Hy het altesaam vyf jaar in verskillende detensie-fasiliteite deurgebring.

Dennis het gesê: “Ek is baie bly om uit die tronk vrygelaat te word en weer saam met my dierbare vrou, Irina, te wees. Die ondersteuning en aanmoediging van die broers en susters regoor die wêreld was ’n geskenk van Jehovah af. Ek hou aan bid vir my moedige broers en susters wat vervolg en in die tronk gesit word vir hulle geloof.”

Dennis en Irina by die Domodedowo-lughawe in Moskou

Dennis en Irina word geestelik en finansieel deur vriende en familie ondersteun. Hulle het gesê: “Ons sien uit daarna om Jehovah vryelik te aanbid saam met ons broers en susters in Denemarke.”

Dennis is op 25 Mei 2017 gearresteer en aangehou toe gewapende en gemaskerde Russiese owerhede ’n gemeentelike vergadering in Oriol wat hy bygewoon het, deursoek het. Hy is daaraan skuldig bevind dat hy die bedrywigheid van ’n godsdiensorganisasie organiseer wat een maand tevore deur Rusland se Hooggeregshof ekstremisties verklaar en verbied is.

Die Russiese owerheid het herhaaldelik bevestig dat die 2017-verbod beperk is tot die regsentiteite van Jehovah se Getuies. Hulle beweer dat dit nie inmeng met die regte van individuele Getuies om hulle geloof te beoefen nie. Maar Dennis se aanhouding was die begin van ’n aggressiewe kampanje waar baie Getuies van Jehovah regoor Rusland en die Krim gearresteer en in die tronk gesit is.

Twee Turkse broers wag saam met Dennis en Irina op Istanboel se Internasionale-lughawe terwyl hulle op pad was Denemarke toe

Tot vandag toe is 91 broers en susters nog steeds in die tronk. Ons bid dat Jehovah sal aanhou om hierdie lojale broers en susters te ondersteun en hulle op ’n “spesiale manier” te behandel. – Psalm 4:3.