Spring na inhoud

1 NOVEMBER 2012
OOSTENRYK

Oostenryk beveel om Jehovah se Getuies te vergoed vir diskriminasie

Oostenryk beveel om Jehovah se Getuies te vergoed vir diskriminasie

STRAATSBURG, Frankryk—Op 25 September 2012 het die Europese Hof van Menseregte die regering van Oostenryk skuldig bevind aan diskriminasie teen Jehovah se Getuies en het dit die regering beveel om byna 13 000 euro (nagenoeg R143 000) vir die Getuies se regskoste en uitgawes te betaal.

In 2002 het die Oostenrykse regering geweier om verblyf toe te staan aan twee bedienaars van Jehovah se Getuies uit die Filippyne wat pastorale werk onder die Tagalog-sprekende Getuies in Oostenryk wou doen. In ’n ander saak het die regering die Getuies beveel om geskenkbelasting te betaal op ’n godsdiensbydrae wat hulle in 1999 ontvang het. In albei gevalle was die rede vir die regering se optrede dat hulle Jehovah se Getuies nie as ’n “godsdiensgenootskap” erken nie, maar net as ’n “godsdiensgemeenskap”, ’n laer vorm van erkenning. Die gevolg was dat die Getuies sekere voorregte ontsê is wat aan ander gevestigde godsdienste toegestaan is.

Dit is die Hof se sesde uitspraak teen Oostenryk en ten gunste van Jehovah se Getuies, en dit herbevestig ’n vroeëre beslissing van 2008. In hierdie vroeëre uitspraak het die Hof beslis dat die Getuies in ’n “aansienlik korter tydperk” erkenning moes ontvang het as ’n “godsdiensgenootskap”, aangesien hulle “al lank internasionaal bestaan” en “al lank gevestig is” in Oostenryk.

Die Getuies verwag dat hierdie jongste oorwinning in die Europese Hof sal help om basiese vryhede te beskerm en godsdiensdiskriminasie te voorkom, wat nie net hulle medegelowiges tot voordeel sal strek nie, maar alle burgers van lidlande van die Europese Raad.

Mediaverteenwoordigers:

J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Oostenryk: Johann Zimmermann, tel. +43 1 804 53 45

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000