25 APRIL 2018
ERITREA
Twee bejaarde Getuies sterf in ’n tronk in Eritrea
Vroeg in 2018 het twee Getuies van Jehovah, Habtemichael Tesfamariam en Habtemichael Mekonen, in die Mai Serwa-tronk naby Asmara gesterf. Albei mans is in die somer van 2008 gearresteer en in die tronk gesit as gevolg van hulle godsdiensoortuigings. Hulle het amper tien jaar lank swaargekry as gevolg van slegte toestande in die tronk.
Mnr. Tesfamariam het op 3 Januarie 2018 skielik op die ouderdom van 76 in die Mai Serwa-tronk gesterf. Diegene wat saam met hom in die tronk was, dink dat hy ’n beroerte gehad het. Mnr. Tesfamariam is in 1942 in Adi Yakulu, Mendefera, Eritrea, gebore. Hy het in 1970 een van Jehovah se Getuies geword en het geweier om sy geloof prys te gee, al is hy onregverdig in die tronk gesit en sleg behandel. Hy word oorleef deur sy vrou, Leterberhan Bezabih, vier seuns en drie dogters.
Mnr. Mekonen is op 6 Maart 2018 op die ouderdom van 77 in die Mai Serwa-tronk dood. Diegene wat saam met hom in die tronk was, dink dat hy aan nierversaking dood is. Mnr. Mekonen is in 1940 in die dorpie Kudo Felasi in die suide van Eritrea gebore. Hy het meer as 55 jaar gelede ’n Getuie geword, en soos mnr. Tesfamariam, het hy geweier om sy geloof prys te gee, al is hy sonder rede in die tronk gesit en sleg behandel. Hy word oorleef deur sy vrou, Mihret Ellias, sowel as ’n seun en ’n dogter.
Onregverdig in die tronk gesit en mishandel
Mnr. Mekonen was by die huis toe hy in Julie 2008 sonder aanklagtes gearresteer is. Mnr. Tesfamariam was ook by die huis toe hy in Augustus 2008 gearresteer is. Albei mans is in die berugte Meitir-gevangeniskamp in die woestyn noord van Asmara gesit, waar hulle wrede en onmenslike toestande deurgemaak het. Die owerheid het die Getuies wat gevange gehou is, erger gestraf deur hulle vanaf Oktober 2011 tot Augustus 2012 in ’n gebou aan te hou wat half begrawe was. Die gebou is beskryf as die “ondergrond”. Die mense wat daar in die tronk was, het deur die genadelose somerhitte gegaan sonder genoeg kos of water. Party het as gevolg hiervan langtermyn-gesondheidsprobleme ontwikkel.
In 2017 het die owerheid die Getuies wat in die Meitir-kamp aangehou is, oorgeplaas na die Mai Serwa-tronk. Hulle kan hier kospakkies van familielede kry en mediese behandeling ontvang as hulle baie siek is. Die gevangenes was bly oor hierdie skuif na ’n tronk met beter toestande, maar mnr. Tesfamariam en mnr. Mekonen het nooit heeltemal herstel van die mishandeling wat hulle vroeër deurgegaan het nie.
Mnr. Tesfamariam en mnr. Mekonen is nie die eerste Getuies wat in ’n tronk in Eritrea dood is nie. Getuies in Eritrea is ook al dood kort nadat hulle uit die tronk vrygelaat is. As gevolg van onmenslike toestande en slegte behandeling in die tronk is nog twee Getuies dood terwyl hulle in die tronk was, en drie Getuies is dood kort nadat hulle vrygelaat is. Ten minste sewe Getuies wat ’n paar jaar terug uit die tronk vrygelaat is, het nog steeds ernstige gesondheidsprobleme as gevolg van wat hulle in die tronk deurgemaak het. Drie-en-vyftig Getuies is nog steeds in Eritrea in die tronk vir hulle geloof, insluitende mnr. Tesfamariam se broer, Tareke.
Vervolging is eintlik “’n misdaad teen die mensdom”
Op 8 Junie 2016 het die Verenigde Nasies se Raad vir Menseregte ’n verslag uitgegee wat gebaseer is op die bevindinge van die Kommissie van Ondersoek oor Menseregte in Eritrea (COIE). Die raad het hierdie kommissie begin sodat hulle skendings van menseregte in Eritrea kon ondersoek. Die COIE het vir Eritrea gesê om “vryheid van godsdiens of geloof te respekteer” en om “’n einde te maak aan die gebruik om mense sonder rede te arresteer en gevange te hou as gevolg van hulle godsdiensoortuigings, veral volgelinge van spesifieke godsdiensgroepe, soos Jehovah se Getuies, . . . en om almal wat onwettig en sonder rede aangehou word, dadelik en onvoorwaardelik vry te laat”. Die COIE het tot die gevolgtrekking gekom dat Eritrea se vervolging van mense as gevolg van hulle godsdiens eintlik “’n misdaad teen die mensdom” is.
Jehovah se Getuies hoop dat die onlangse dood van mnr. Tesfamariam en mnr. Mekonen deur die internasionale gemeenskap opgelet sal word. Hulle hoop ook dat hierdie sterftes amptenare in Eritrea wat onpartydig is, sal beweeg om iets te doen vir diegene wat onregverdig in die tronk is vir hulle geloof.