Spring na inhoud

Van links na regs: Broer Emin Mkhitaryan, Gor Mushkambaryan, Mikayel Davtyan, Artsakh Tumanyan en Hovhannes Sargsyan maak skoon as deel van hulle alternatiewe burgerlike diens

11 JANUARIE 2024
ARMENIË

Tien jaar van alternatiewe burgerlike diens vir Jehovah se Getuies in Armenië

Volgens ’n verteenwoordiger van die land se Republikeinse Komitee oor Alternatiewe Diens ‘was dit een van die beste besluite deur ons Staat om alternatiewe diens in te stel’

Tien jaar van alternatiewe burgerlike diens vir Jehovah se Getuies in Armenië

Op 14 Januarie 2024 is dit tien jaar vandat alternatiewe burgerlike diens in Armenië ingestel is. Die reëling vir alternatiewe burgerlike diens laat gewetensbeswaardes toe om tot hulle gemeenskap by te dra deur in verskillende dele van openbare diens te werk eerder as om in die weermag te dien. Party van die werke sluit konstruksie, tuinmaak, gemeenskapswerk of ander openbare dienste in. Vandat hierdie reëling ingestel is, het meer as 450 Getuies van Jehovah, almal jong mans, die persoonlike besluit gemaak om hieraan deel te neem.

Broer Samuel Petrosyan doen alternatiewe burgerlike diens in ’n park

Broer Samuel Petrosyan werk op die oomblik as ’n tuinier as deel van sy alternatiewe burgerlike diens. Hy het gesê: “Ek werk hard om ’n goeie reputasie op te bou. Ek probeer byvoorbeeld om my werkstoewysings deeglik te voltooi en om in alles eerlik te wees. As gevolg hiervan het my toesighouers my altyd goed en met respek behandel.”

Broer Artur Martirosyan het drie jaar lank burgerlike diens in ’n hospitaal gedoen. Hy het gesê: “Ek was bly om mense wat in die nood is, te help. Die ondervinding het my ook gehelp om ’n beter mens te word. Ek het geleer hoe om meer aanpasbaar te word, stres beter te hanteer en beter te kommunikeer.”

Voor 2014 het ons jong broers in Armenië lang tronkstrawwe gekry omdat hulle gewete hulle nie toegelaat het om in die weermag te dien nie. ’n Senior amptenaar het oor die sukses van die program vir alternatiewe burgerlike diens in Armenië gesê: “Aanvanklik het ek alternatiewe burgerlike diens teëgestaan omdat ek bekommerd was oor die land se veiligheid en dat dit dalk misbruik kon word. . . . Maar ek is mettertyd verkeerd bewys. Ná ’n hele paar jaar is dit duidelik dat . . . Jehovah se Getuies nie ’n gevaar inhou vir die land se veiligheid terwyl hulle alternatiewe diens doen nie. Hulle werk eerder hard in verskillende dele, danksy die [reëling vir] alternatiewe diens.”

Broer Spartak Sholyan en Artyom Aghbalyan werk by ’n verpleeginrigting as deel van hulle alternatiewe burgerlike diens

’n Lid van die Republikeinse Komitee oor Alternatiewe Diens het ook gesê: “Dit is al tien jaar vandat alternatiewe diens in Armenië ingestel is . . . Ons is trots om te erken dat dit een van die beste besluite deur ons Staat was om alternatiewe diens in te stel. Ná gereelde inspeksies by instansies waar alternatiewe diens gedoen word, het ons gevind dat dié wat daar werk, hardwerkend en gelukkig is. Jaar ná jaar kry ons baie briewe van waardering vir die uitstekende werk van Jehovah se Getuies wat aan alternatiewe diens in die gemeenskap deelneem. Dié wat in beheer van die instansies is waar Jehovah se Getuies werk, prys hulle gereeld omdat hulle hulle beste werkers is.”

Jehovah se Getuies in Armenië is dankbaar vir die geleentheid om tot die gemeenskap by te dra deur middel van alternatiewe burgerlike diens terwyl hulle Jehovah deur hulle “goeie werke” loof. – 1 Petrus 2:12.