Video’s wat harte bly maak
“Dit is asof Jehovah die harte van ouers gelees het.” Dit is hoe ’n pa in Maleisië die geanimeerde videoreeks Word Jehovah se vriend beskryf het.
Sedert die eerste episodes vrygestel is, het Jehovah se Getuies ’n reeks video’s oor Caleb en sy gesin vrygestel. Die video’s, wat nou op jw.org beskikbaar is, leer kinders belangrike sedelike en geestelike lesse, soos waarom hulle nie moet steel nie en hoe hulle tot God kan bid.
Die eerste video van hierdie reeks is reeds in 131 tale vertaal en help kinders regoor die aarde.
Die geesdriftige reaksie
’n Ma met vyf kinders het geskryf: “Sedert ons die DVD Luister, wees gehoorsaam en word geseën ’n week gelede gekry het, het ons al 50 keer daarna gekyk.”
Millie, ’n 12-jarige in Engeland, het ’n 15-jarige broer, Thomas, wat Downsindroom het. Millie skryf: “Omdat Thomas die video’s oor Caleb op sy iPad het, kan hy dit vir sy vriende by die skool wys. Hy hou baie van die liedjies en sing dit so mooi dat dit ’n suster selfs laat huil het. Dit is wonderlik om te sien.”
Ava, wat sê dat sy 8 jaar, 9 maande en 25 dae oud is, skryf: “Caleb en sy suster leer kinders baie goed.”
Mikaylah skryf: “Ek is ses jaar oud. Baie dankie vir die DVD Luister, wees gehoorsaam en word geseën. Dit leer my om na my ouers te luister, want dit maak Jehovah bly.”
Betekenisvolle inhoud
’n Jong animeerder wat nie een van Jehovah se Getuies is nie, het na die video Dit is verkeerd om te steel gekyk. Hy was baie beïndruk, veral toe hy uitvind dat net ’n klein span animeerders dit gemaak het. Hy het gesê: “Ek ken mense wat vir groot sowel as klein animasie-ateljees werk, en soms het ek gewonder hoe dit sou wees om by so ’n plek te werk. Maar op die ou end lewer al hulle werk en moeite maar net iets op wat mense ’n paar uur laat lag, en dis al. Julle geanimeerde video’s verander kinders se lewens, leer hulle wat reg en verkeerd is en help hulle om goeie besluite te neem. Julle doen iets wat sinvol is, iets wat mense help.”
Ouers regoor die wêreld stem heelhartig saam. Een ma skryf: “My driejarige seuntjie, Quinn, het na die video Verkry Jehovah se vriendskap gekyk. In die middel van die liedjie het hy vir my gekyk, sy handjie op sy bors gesit en gesê: ‘Mammie, hierdie video maak my hart bly.’ ”