Hoe om te bid – Is die Onse Vader-gebed die beste manier?
Die Bybel se antwoord
Die Onse Vader-gebed help ons om te sien hoe ons moet bid en waaroor ons moet bid. Jesus het hierdie gebed vir sy dissipels geleer toe hulle vir hom gesê het: “Here, leer ons hoe om te bid” (Lukas 11:1). Maar die Onse Vader-gebed is nie die enigste gebed wat God aanvaar nie. a Jesus het dit eerder as ’n voorbeeld gegee van die soort gebede waarna God luister.
In hierdie artikel
Waarvoor bid Jesus in die Onse Vader-gebed?
Die woorde van die Onse Vader-gebed wat in Matteus 6:9-13 opgeteken is, is nie dieselfde in alle Bybelvertalings nie. Hier is twee voorbeelde.
Nuwe Wêreld-vertaling: “Ons Vader in die hemel, laat u naam geheilig word. Laat u Koninkryk kom. Laat u wil plaasvind op die aarde, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons brood vir hierdie dag, en vergewe ons ons sondes, soos ons ook die mense vergewe het wat teen ons gesondig het. En moet ons nie in versoeking bring nie, maar verlos ons van die Duiwel.”
Ou Afrikaanse Bybelvertaling: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” b
Wat beteken die Onse Vader-gebed?
Jesus se leringe stem ooreen met die res van die Bybel. Daarom kan ons verwag dat ander dele van die Bybel ons kan help om die betekenis van die Onse Vader-gebed te verstaan.
“Ons Vader in die hemel”
Dit is gepas om God “ons Vader” te noem, want hy het ons geskep en vir ons lewe gegee. – Jesaja 64:8.
“Laat u naam geheilig word”
God se naam, Jehovah, moet geëer word en as heilig beskou word. Mense help om God se naam te heilig wanneer hulle vir ander vertel van sy eienskappe en wat hy in die toekoms gaan doen. – Psalm 83:18; Jesaja 6:3.
“Laat u Koninkryk kom”
God se Koninkryk is ’n hemelse regering waarvan Jesus die Koning is. Jesus het ons geleer om te bid dat hierdie Koninkryk oor die hele aarde moet regeer. – Daniël 2:44; Openbaring 11:15.
“Laat u wil plaasvind op die aarde, net soos in die hemel”
Net soos daar geen goddeloosheid of dood in die hemel is nie, is God se doel vir die aarde dat die mens vir ewig daarop in vrede en veiligheid moet lewe. – Psalm 37:11, 29.
“Gee ons vandag ons brood vir hierdie dag”
In Jesus se dag was brood iets wat mense elke dag geëet het. Ons moet onthou dat ons van ons Skepper afhanklik is om vir ons die dinge te gee wat ons nodig het om te lewe. – Handelinge 17:24, 25.
“Vergewe ons ons sondes, soos ons ook die mense vergewe het wat teen ons gesondig het”
Alle mense sondig en moet vergewe word. Maar as ons wil hê dat God ons moet vergewe, moet ons bereid wees om ander te vergewe wanneer hulle teen ons sondig. – Matteus 6:14, 15.
“Moet ons nie in versoeking bring nie, maar verlos ons van die Duiwel”
Jehovah God bring ons nooit in die versoeking om iets verkeerds te doen nie (Jakobus 1:13). Maar ons word versoek deur “die Duiwel” wat Satan genoem word. Hy word ook “die Versoeker” genoem (1 Johannes 5:19; Matteus 4:1-4). Ons vra vir Jehovah om ons te help om gehoorsaam aan hom te bly wanneer ons versoek word om verkeerde dinge te doen.
Is ’n woord-vir-woord-herhaling van die Onse Vader-gebed die enigste manier om te bid?
Jesus het die Onse Vader-gebed as ’n voorbeeld gegee. Dit moenie woord vir woord herhaal word nie. Net voordat Jesus die Onse Vader-gebed gegee het, het hy die volgende waarskuwing gegee: “Wanneer julle bid, moet julle nie dieselfde dinge oor en oor sê . . . nie” (Matteus 6:7). Toe hy by ’n ander geleentheid nog ’n gebed as ’n voorbeeld gegee het, het hy ander woorde gebruik. – Lukas 11:2-4.
Die beste manier om te bid is om uit die hart uit vir God te sê wat ons dink en voel. – Psalm 62:8.
Hoe moet ons bid?
Die Onse Vader-gebed is ’n goeie voorbeeld van hoe ons moet bid sodat God na ons gebede luister. Kyk hoe dit ooreenstem met ander Bybelverse wat oor gebed gaan.
Bid net tot God
Bybelteks: “Vra God in elke situasie om julle te help deur tot hom te bid, hom te smeek en hom te dank.” – Filippense 4:6.
Betekenis: Wanneer ons bid, moet ons tot God bid – nie tot Jesus, Maria of heiliges nie. Die eerste paar woorde in die Onse Vader-gebed wat sê “Ons Vader”, leer ons dat ons net tot Jehovah God moet bid.
Bid vir dinge wat ooreenstem met God se wil
Bybelteks: ‘Hy hoor ons, ongeag wat ons volgens sy wil vra.’ – 1 Johannes 5:14.
Betekenis: Ons kan oor enige iets bid wat ooreenstem met God se wil. Jesus het ons geleer hoe belangrik God se wil is deur die woorde “laat u wil plaasvind” by die Onse Vader-gebed in te sluit. Ons kan leer wat God se wil vir die aarde en vir die mens is deur die Bybel te studeer.
Bid oor dinge wat jou bekommer
Bybelteks: “Gee jou las vir Jehovah, en hy sal jou ondersteun.” – Psalm 55:22.
Betekenis: God gee om oor die dinge waaroor ons bekommerd is. Jesus het vir verskillende dinge gebid in die Onse Vader-gebed. Net so kan ons bid vir ons daaglikse fisiese behoeftes, vir leiding wanneer ons belangrike besluite moet neem, vir hulp wanneer ons probleme het en vir vergifnis van ons sondes. c
a Toe Jesus en sy dissipels byvoorbeeld op ander kere gebid het, het hulle nie presies dieselfde woorde gebruik as wat in die Onse Vader-gebed is nie. – Lukas 23:34; Filippense 1:9.
b Die Ou Afrikaanse Bybelvertaling sluit die Onse Vader-gebed af met die woorde: “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” Hierdie woorde, wat ook in ander Bybels gevind word en waar God geprys word, staan bekend as ’n doksologie. Maar The Jerome Biblical Commentary sê: “Die doksologie . . . word nie in die betroubaarste [manuskripte] gevind nie.”
c Dié wat voel dat hulle God se vergifnis nodig het, voel dalk te skuldig om te bid. Maar Jehovah nooi hierdie persone met die woorde: “Laat ons sake regstel tussen ons” (Jesaja 1:18). Hy sal nie sy rug draai op enige iemand wat opreg is en sy vergifnis soek nie.