Die boek Openbaring—Wat beteken dit?
Die Bybel se antwoord
Die Griekse naam van die Bybelboek Openbaring, A·po·kaʹly·psis (apokalips), beteken “Onthulling” of “Openbaarmaking”. Hierdie naam dui op die betekenis van Openbaring—dit onthul sake wat verborge was en maak gebeure openbaar wat sou plaasvind lank nadat dit opgeteken is. Baie van die profesieë daarin moet nog vervul word.
’n Oorsig van die boek Openbaring
Inleiding.—Openbaring 1:1-9.
Boodskappe van Jesus aan die sewe gemeentes.—Openbaring 1:10–3:22.
’n Visioen van God op sy troon in die hemel.—Openbaring 4:1-11.
’n Reeks visioene, waarvan elkeen in die volgende oorgaan:
Sewe seëls.—Openbaring 5:1–8:6.
Sewe trompette, waarvan die laaste drie elkeen ’n wee inlui.—Openbaring 8:7–14:20.
Sewe bakke, elkeen met ’n plaag daarin wat ’n goddelike oordeel voorstel wat op die aarde uitgegooi moet word.—Openbaring 15:1–16:21.
Visioene van die vernietiging van God se vyande.—Openbaring 17:1–20:10.
Visioene van seëninge van God vir die hemel en die aarde.—Openbaring 20:11–22:5.
Slot.—Openbaring 22:6-21.
Sleutels om die boek Openbaring te verstaan
Die betekenis daarvan is positief, nie vreesaanjaend of skrikwekkend vir diegene wat God dien nie. Hoewel baie mense die woord “apokalips” met groot rampspoed assosieer, begin en eindig die boek Openbaring deur te sê dat diegene wat dit lees, dit verstaan en die boodskap daarin toepas, gelukkig sal wees omdat hulle dit doen.—Openbaring 1:3; 22:7.
Openbaring gebruik baie “tekens”, of simbole, wat nie letterlik verstaan moet word nie.—Openbaring 1:1.
Talle belangrike entiteite en simbole in die boek Openbaring kom vroeër in die Bybel voor:
Jehovah—‘die ware God in die hemel’ en Skepper van alles.—Deuteronomium 4:39; Psalm 103:19; Openbaring 4:11; 15:3.
Jesus Christus—“die Lam van God”.—Johannes 1:29; Openbaring 5:6; 14:1.
Satan die Duiwel—God se teenstander.—Genesis 3:14, 15; Johannes 8:44; Openbaring 12:9.
Babilon die Grote—soos eertydse Babilon (Babel), ’n vyand van Jehovah God en Sy volk en ’n bron van godsdiensleuens.—Genesis 11:2-9; Jesaja 13:1, 11; Openbaring 17:4-6; 18:4, 20.
“Die see”—die goddelose mense wat hulle teen God verset.—Jesaja 57:20; Openbaring 13:1; 21:1.
Aspekte wat ooreenstem met die eertydse tabernakel wat vir God se aanbidding gebruik is—insluitende die verbondsark, die glasagtige see (’n kom om in te was), lampe, offers van wierook en ’n offeraltaar.—Eksodus 25:10, 17, 18; 40:24-32; Openbaring 4:5, 6; 5:8; 8:3; 11:19.
Wilde diere—wat menseregerings afbeeld.—Daniël 7:1-8, 17-26; Openbaring 13:2, 11; 17:3.
Getalle wat simbolies gebruik word.—Openbaring 1:20; 8:13; 13:18; 21:16.
Die visioene is van toepassing op “die dag van die Here”, wat begin het toe God se Koninkryk in 1914 opgerig is en Jesus as Koning begin regeer het (Openbaring 1:10). Ons kan dus verwag dat die vernaamste vervulling van Openbaring in ons tyd sal plaasvind.
Om die boek Openbaring te verstaan, het ons dieselfde dinge nodig wat ons help om die res van die Bybel te verstaan, insluitende wysheid van God en hulp van diegene wat dit reeds verstaan.—Handelinge 8:26-39; Jakobus 1:5.