Wat sê die Bybel oor aborsie?
Die Bybel se antwoord
Die Bybel gebruik nie die woord “aborsie” om te verwys na die opsetlike beëindiging van die ontwikkeling van ’n menslike fetus by ’n swangerskap nie. Maar daar is wel baie verse in die Bybel wat wys hoe God voel oor ’n menselewe, en dit sluit ’n ongebore baba ook in.
Lewe is ’n geskenk van God (Genesis 9:6; Psalm 36:9). Alle lewe is kosbaar in God se oë, selfs die lewe van ’n ongebore baba in die baarmoeder. So as iemand opsetlik ’n ongebore baba doodmaak, is dit dieselfde as moord.
God se Wet aan die Israeliete het gesê: “As manne met mekaar baklei en hulle ’n swanger vrou werklik seermaak en haar kinders uitkom, maar geen noodlottige ongeluk plaasvind nie, moet daar vir seker skadevergoeding van hom geëis word volgens wat die eienaar van die vrou hom oplê; en hy moet dit deur die regters gee. Maar as ’n noodlottige ongeluk plaasvind, dan moet jy gee siel vir siel.” – Eksodus 21:22, 23. a
Wanneer begin ’n menselewe?
God beskou ’n kind as ’n lewende persoon van die begin van ’n vrou se swangerskap af. In sy Woord, die Bybel, beskryf God altyd ’n ongebore kind as ’n persoon. Kyk na ’n paar voorbeelde wat wys dat daar nie vir God ’n verskil is tussen die lewe van ’n ongebore baba in die baarmoeder en een wat alreeds gebore is nie.
Koning Dawid is deur God geïnspireer om te sê: “U oë het selfs my embrio gesien” (Psalm 139:16). God het Dawid as ’n persoon beskou selfs nog voor hy gebore is.
God het ook geweet dat hy ’n spesiale doel vir die profeet Jeremia sou hê nog voordat Jeremia gebore is. God het vir hom gesê: “Voordat ek jou in die moederskoot gevorm het, het ek jou geken, en voordat jy uit die moederskoot voortgekom het, het ek jou geheilig. ’n Profeet vir die nasies het ek jou gemaak.” – Jeremia 1:5.
Die Bybelskrywer Lukas, ’n dokter, het dieselfde Griekse woord gebruik om ’n ongebore baba en ’n pasgebore baba te beskryf. – Lukas 1:41; 2:12, 16.
Sal God iemand vergewe wat ’n aborsie gehad het?
Diegene wat ’n aborsie gehad het, kan deur God vergewe word. As hulle nou God se beskouing van lewe aanvaar, dan hoef hulle nie oorweldig te voel met skuldgevoelens nie. “Jehovah is barmhartig en genadig . . . So ver as die sonsopgang verwyderd is van die sonsondergang, so ver het hy ons oortredings van ons verwyder” (Psalm 103:8-12). b Jehovah sal almal wat opreg berou het, vergewe vir hulle sondes van die verlede. Dit sluit aborsie in. – Psalm 86:5.
Is aborsie verkeerd as die lewe van die ma of die kind in gevaar is?
Volgens wat die Bybel oor die lewe van ’n ongebore kind sê, is dit nie reg om ’n aborsie te hê omdat die ma of die kind se gesondheid dalk in gevaar is nie.
Wat as daar ’n situasie ontstaan by die kind se geboorte en daar in ’n noodgeval gekies moet word tussen die ma se lewe en die baba se lewe? In so ’n geval, moet ’n persoonlike besluit gemaak word oor wie se lewe gered moet word.
a Party vertalings laat dit lyk asof dit in die wet van Israel meer saak gemaak het wat met die ma gebeur het as wat met die fetus gebeur het. Maar die Hebreeuse teks verwys na ’n ongeluk wat die dood van die ma of die kind veroorsaak het.
b Volgens die Bybel is God se naam Jehovah. – Psalm 83:18.