HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK
Hoe om ’n egskeiding te vermy wanneer julle ouer is
Tussen 1990 en 2015 is die egskeidingsyfer vir mense wat 50 jaar en ouer in die Verenigde State is, twee keer soveel, en vir dié wat ouer as 65 jaar is, drie keer soveel. Navorsers het die uitdrukking “gray divorce” geskep om die groeiende aantal egskeidings onder ouer mense te beskryf. Wat veroorsaak hierdie soort egskeiding? Hoe kan jy keer dat dit jou huwelik raak?
In hierdie artikel
Wat veroorsaak dat ouer mense skei?
Ouer paartjies wat skei, het dikwels net van mekaar af weggedryf. Party getroude mans en vrouens het mettertyd in verskillende dinge begin belangstel, en dit lyk asof hulle baie min in gemeen het. Of nadat die kinders die huis verlaat het, besef die paartjie dalk dat hulle so lank in die rol van pa en ma was dat hulle vergeet het hoe om man en vrou te wees.
In onlangse jare het sogenaamde deskundiges huweliksmaats aangemoedig om op hulle eie behoeftes te fokus. ‘Maak my huwelik my gelukkig?’ ‘Maak dit van my ’n beter persoon?’ ‘Voldoen my huweliksmaat aan my emosionele behoeftes?’ Mense vandag dink dat as die antwoord op enige van hierdie vrae “nee” is, jy moet doen wat vir jou die beste is – om ’n egskeiding te kry en met ’n nuwe lewe te begin.
Mense beskou egskeiding nie meer as iets slegs nie. Die sosioloog Eric Klinenberg het geskryf: “Nie lank gelede nie moes iemand wat ontevrede met sy of haar huweliksmaat was en ’n egskeiding wou kry, ’n goeie rede hiervoor hê. Vandag is dit die teenoorgestelde: As jy nie gelukkig met jou huwelik is nie, moet jy ’n goeie rede hê hoekom jy getroud wil bly. Dit is omdat baie mense vandag dink dat die belangrikste ding is om goed vir jouself te wees.” a
Mense wat skei, vind natuurlik dat hulle eenvoudig een stel probleme vir ’n ander verruil. Byvoorbeeld, een studie het gewys dat “egskeiding tussen ouer mense baie keer groot finansiële probleme, veral vir die vrou, veroorsaak”.
Daar is nog iets om oor te dink. Die boek Don’t Divorce sê: “Jy kan oor begin, maar jy is nog steeds dieselfde persoon. Wat het jy gedoen om die manier hoe jy met jou huweliksmaat gekommunikeer het, wat onsuksesvol was, te verander? Wat het jy gedoen om die manier hoe jy konflik hanteer, te verander?” b
Wat jy kan doen
Aanvaar verandering. Geen verhouding bly presies dieselfde nie. Jou verhouding met jou huweliksmaat het dalk verander omdat julle kinders die huis verlaat het of omdat julle in verskillende dinge begin belangstel het. In plaas daarvan om te dink aan hoe dinge in die verlede was, dink aan hoe om dinge nou te verbeter.
Bybelwaarheid: “Moenie vra: ‘Hoekom was die vroeëre dae beter as hierdie dae?’ nie, want dit is nie uit wysheid dat jy dit vra nie.” – Prediker 7:10.
Hou aan om jou vriendskap met jou huweliksmaat te verbeter. Kan jy belangstelling toon in iets waarin jou huweliksmaat nou belangstel, of kan jy jou huweliksmaat nooi om ’n deel te hê aan iets waarin jy nou belangstel? Kan julle iets nuuts vind wat julle albei geniet? Julle doel moet wees om tyd saam te spandeer, sodat jy en jou huweliksmaat meer soos ’n getroude paartjie voel as kamermaats.
Bybelwaarheid: “Laat elkeen nie sy eie voordeel bly soek nie, maar dié van die ander persoon.” – 1 Korintiërs 10:24.
Behou goeie maniere. Moenie ophou om beleefd met mekaar te wees net omdat julle al lank saam is nie. Praat op ’n respekvolle manier met jou huweliksmaat, en probeer om die goeie maniere te hê wat jy gehad het toe julle uitgegaan het. Sê “asseblief” en “dankie”. Wys gereeld vir jou huweliksmaat dat jy hom of haar liefhet, en toon jou waardering vir wat hy of sy vir jou doen.
Bybelwaarheid: “Wees goed vir mekaar, betoon intense medelye.” – Efesiërs 4:32.
Onthou die goeie tye. Kyk saam na julle troufoto’s of kyk na foto’s van ander geleenthede wat julle saam geniet het. Deur dit te doen, kan dit julle help om julle liefde en respek te behou of om dit weer in julle huwelik te ontwikkel.
Bybelwaarheid: “Elkeen van julle moet sy vrou liefhê soos homself, en die vrou moet diep respek vir haar man hê.” – Efesiërs 5:33.
a Uit die boek Going Solo—The Extraordinary Rise and Surprising Appeal of Living Alone.
b Die enigste skriftuurlike rede vir egskeiding is seksuele onsedelikheid (Matteus 19:5, 6, 9). Sien die artikel “Laat die Bybel egskeiding toe?”