Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Ek was verbitterd en gewelddadig

Ek was verbitterd en gewelddadig
  • GEBORE: 1974

  • GEBOORTELAND: MEXIKO

  • GESKIEDENIS: GEWELDDADIGE TIENER, STRAATBAKLEIER

MY VERLEDE:

Ek is gebore in Ciudad Mante, ’n stad in ’n pragtige deel van die staat Tamaulipas, Mexiko. Die stad se inwoners is oor die algemeen vrygewig en vriendelik. Maar georganiseerde misdaad het die gebied ongelukkig baie gevaarlik gemaak.

Ek was die tweede van vier seuns. My ouers het my in die Katolieke Kerk laat doop, en ek het later in die kerkkoor gesing. Ek wou God behaag, want ek was baie bang om vir ewig in die helse vuur te brand.

Toe ek vyf jaar oud was, het my pa ons verlaat. Dit het my baie hartseer gemaak en ’n leemte in my hart gelaat. Ek kon nie verstaan waarom hy ons verlaat het nie—ons was dan so lief vir hom. My ma moes lang ure werk om vir ons vier seuns te sorg.

Ek het die situasie misbruik en skelm uit die skool gebly om tyd met ouer kinders deur te bring. Hulle het my geleer om te vloek, te rook, te steel en met my vuiste te baklei. Omdat ek daarvan gehou het om oor ander baas te speel, het ek geleer om te boks, te stoei en op ander maniere te baklei sowel as om wapens te gebruik. Ek het ’n gewelddadige tiener geword. Ek was dikwels by skietgevegte betrokke en is verskeie kere bebloed en vir dood op die straat agtergelaat. Dink net hoe hartseer my ma was wanneer sy my so gevind het en met my hospitaal toe moes jaag!

Toe ek 16 jaar oud was, het Jorge, ’n vriend uit my kleintyd, ons besoek. Hy het vir ons gesê dat hy een van Jehovah se Getuies is en dat hy iets belangriks het om ons te vertel. Hy het sy opvattings aan ons begin verduidelik en het die Bybel gebruik om dit te doen. Ek het die Bybel nog nooit gelees nie en ek was opgewonde toe ek van God se naam en sy voornemens leer. Jorge het aangebied om die Bybel met ons te studeer. Ons het sy aanbod aanvaar.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Ek was baie verlig om die waarheid omtrent die helse vuur te leer—dat dit nie ’n Bybellering is nie (Psalm 146:4; Prediker 9:5). Toe ek dit geleer het, het ek nie meer ’n morbiede vrees vir God gehad nie. Ek het hom eerder begin beskou as ’n liefdevolle Vader wat vir sy kinders omgee.

Toe ek vordering in my Bybelstudie gemaak het, het ek besef dat ek veranderinge in my persoonlikheid moet aanbring. Ek moes leer om nederig te wees en ophou om gewelddadig te wees. Die raad in 1 Korintiërs 15:33 het my gehelp. Dit sê: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.” As ek my persoonlikheid wou verander, moes ek dus ophou om met mense te assosieer wat ’n slegte invloed op my het. Daarom het ek my ou vriende agtergelaat en vriende gemaak met lede van die ware Christengemeente—mense wat hulle geskille oplos, nie met hulle vuiste of ander vorme van geweld nie, maar deur Bybelbeginsels toe te pas.

Nog ’n gedeelte in die Bybel wat ’n groot indruk op my gemaak het, was Romeine 12:17-19. Dit sê: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. . . . Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense. Moet julle nie wreek nie, . . . want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah.’” Ek het aanvaar dat Jehovah ongeregtigheid op sy eie manier en tyd sal regstel. Stadig maar seker het ek my gewelddadige lewenswyse agtergelaat.

Ek sal nooit vergeet wat een aand op pad huis toe met my gebeur het nie. ’n Groep jongmense van ’n ander bende as waaraan ek voorheen behoort het, het my aangeval. Die leier het my op die rug geslaan en geskreeu: “Verdedig jouself!” Op daardie oomblik het ek ’n skietgebed tot Jehovah gedoen en hom gevra om my te help om die aanval te verduur. Al wou ek baie graag terugbaklei, het ek nie en kon ek daarin slaag om weg te kom. Die volgende dag het ek die bendeleier teëgekom toe hy alleen was. Woede het in my opgekom, maar ek het Jehovah weer stilletjies gesmeek om my te help om my selfbeheersing te behou. Tot my verbasing het hy na my toe gekom en gesê: “Vergewe my vir wat gisteraand gebeur het. Eintlik wil ek graag soos jy wees. Ek wil die Bybel studeer.” Hoe bly was ek tog dat ek my woede kon beheers! Omdat ek dit gedoen het, het hy ook die Bybel begin studeer.

Ongelukkig het die res van my familie hulle Bybelstudie op daardie stadium stopgesit. Ek was egter vasbeslote om aan te hou studeer en om niks of niemand toe te laat om my terug te hou nie. Ek het geweet dat gereelde assosiasie met God se volk my emosionele wonde sou genees en my die familie sou gee wat ek nodig gehad het. Ek het vordering bly maak, en in 1991 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Ek was voorheen verbitterd, baasspelerig en gewelddadig. Maar God se Woord het my lewe heeltemal verander. Ek bring nou die Bybel se boodskap van vrede aan enigiemand wat wil luister. Ek het die afgelope 23 jaar die voorreg om as ’n voltydse bedienaar te dien.

Ek het ’n tyd lank as ’n vrywilliger gewerk by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mexiko. Terwyl ek daar was, het ek Claudia, ’n baie ywerige jong Christenvrou, ontmoet, en ons is in 1999 getroud. Ek is baie dankbaar teenoor Jehovah dat hy my met hierdie lojale maat geseën het!

Ons het in ’n Mexikaanse Gebaretaal-gemeente gedien en dowes gehelp om van Jehovah te leer. Later is ons genooi om na Belize te gaan om mense in daardie land van die Bybel te leer. Al lei ons hier ’n baie eenvoudiger lewe, het ons alles wat ons nodig het om gelukkig te wees. Ons sal dit vir niks in die wêreld verruil nie.

Later het my ma die Bybel weer begin studeer en is sy gedoop. My ouer broer, sy vrou en hulle kinders is ook nou Getuies van Jehovah. Party van my voormalige vriende aan wie ek die Koninkryksboodskap oorgedra het, dien Jehovah ook nou.

Ongelukkig het party van my familielede hulle lewe verloor omdat hulle nie hulle gewelddadige geaardheid verander het nie. As ek volgehou het met daardie lewenswyse, sou ek waarskynlik ook my lewe verloor het. Ek is dankbaar dat Jehovah my na hom en na sy aanbidders getrek het, wat my geduldig en liefdevol geleer het om Bybelbeginsels in my lewe toe te pas.