Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | IS DIE DOOD DIE EINDE VAN ALLES?

Die dood is nie die einde van alles nie!

Die dood is nie die einde van alles nie!

Betanië was ’n klein dorpie drie kilometer van Jerusalem af (Johannes 11:18). ’n Paar weke voor Jesus se dood het ’n tragedie daar plaasgevind. Lasarus, een van Jesus se hegte vriende, het onverwags ernstig siek geword en gesterf.

Nadat Jesus die nuus gehoor het, het hy vir sy dissipels gesê dat Lasarus slaap en dat hy van plan is om hom wakker te maak (Johannes 11:11). Maar Jesus se dissipels het nie verstaan wat hy bedoel nie, en daarom het Jesus reguit vir hulle gesê: “Lasarus het gesterf.”Johannes 11:14.

Jesus het vier dae ná die begrafnis in Betanië aangekom en het Marta, ’n suster van die oorledene, probeer vertroos. “As u hier was, sou my broer nie gesterf het nie”, het Marta gesê (Johannes 11:17, 21). “Ek is die opstanding en die lewe”, het Jesus geantwoord. “Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy.”Johannes 11:25.

“Lasarus, kom uit!”

Om te toon dat hierdie woorde nie net ’n leë belofte was nie, het Jesus na die graf toe gegaan en uitgeroep: “Lasarus, kom uit!” (Johannes 11:43). En tot die verbasing van die omstanders het die man wat dood was, uitgekom.

Jesus het vroeër ten minste twee ander mense uit die dood opgewek. Een van hulle was ’n jong meisiedie dogter van Jaïrus. Kort voordat Jesus haar opgewek het, het hy gesê dat sy ook slaap.Lukas 8:52.

Let daarop dat Jesus in die geval van Lasarus sowel as Jaïrus se dogter die dood met slaap vergelyk het. Dit is ’n gepaste beskrywing. Waarom? Slaap is ’n toestand van onbewustheid en dra heel gepas die gedagte oor dat die dooies rus van pyn en lyding. (Prediker 9:5; sien die bygaande venster  “Die dood is soos ’n diep slaap”.) Jesus se vroeë dissipels het ’n duidelike begrip gehad van die ware toestand van die dooies. “Vir Jesus se volgelinge was die dood soos slaap, en die graf was ’n rusplek . . . vir die mense wat as gelowiges gesterf het”, * sê die Encyclopedia of Religion and Ethics.

Dit is vertroostend om te weet dat die dooies in die graf slaap en nie ly nie. Die dood is dus nie iets geheimsinnigs wat ons hoef te vrees nie.

“AS ’N MAN STERF, KAN HY WEER LEWE?”

Ons geniet ’n goeie nagrus, maar wie wil vir ewig slaap? Watter hoop het ons dat die dooies wat in die graf slaap, weer sal lewesoos Lasarus en Jaïrus se dogter?

Dieselfde vraag het by die aartsvader Job opgekom toe hy gedink het dat hy sal sterf. Hy het gevra: “As ’n man sterf, kan hy weer lewe?”Job 14:14.

Job het sy vraag self beantwoord toe hy vir God die Almagtige gesê het: “U sal roep, en ek sal u antwoord. Na die werk van u hande sal u vurig verlang” (Job 14:15). Job was seker dat Jehovah verlang na die dag wanneer Hy Sy getroue kneg sal opwek. Was dit blote wensdenkery van Job? Glad nie.

Die opstandings wat Jesus verrig het, lewer duidelike bewys dat God Jesus mag oor die dood gegee het. Trouens, die Bybel sê dat Jesus nou “die sleutels van die dood” het (Openbaring 1:18). Jesus sal dus die poorte van die graf oopsluit, net soos hy beveel het dat die klip voor Lasarus se graf weggerol moet word.

Die Bybel herhaal hierdie opstandingsbelofte keer op keer. ’n Engel het die profeet Daniël verseker: “Jy sal rus, maar jy sal opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae” (Daniël 12:13). Jesus het vir die Sadduseërs, Joodse leiers wat nie aan die opstandingsbelofte geglo het nie, gesê: “Julle vergis julle, omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie” (Matteus 22:23, 29). Die apostel Paulus het gesê: “Ek het die hoop op God . . . dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees.”Handelinge 24:15.

WANNEER SAL DIE DOOIES OPSTAAN?

Wanneer sal hierdie opstanding van die regverdiges en die onregverdiges plaasvind? Die engel het vir die regverdige Daniël gesê dat hy “aan die einde van die dae” sal opstaan. Marta het ook geglo dat haar broer, Lasarus, “in die opstanding op die laaste dag sal opstaan”.Johannes 11:24.

Die Bybel verbind hierdie “laaste dag” met Christus se Koninkryksheerskappy. Paulus het geskryf: “Want hy [Christus] moet as koning heers totdat God alle vyande onder sy voete gestel het. As die laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word” (1 Korintiërs 15:25, 26). Dit is ’n kragtige rede waarom ons moet bid dat God se Koninkryk kom en dat God se wil op die aarde geskied. *

Soos Job goed geweet het, is dit God se wil om die dooies op te wek. Wanneer hierdie dag aanbreek, sal die dood werklik tot niet gemaak word. En niemand sal ooit weer wonder of die dood die einde van alles is nie.

^ par. 8 Die Engelse woord cemetery (begraafplaas) kom van ’n Griekse woord wat “slaapplek” beteken.

^ par. 18 Om meer te leer oor God se Koninkryk, sien hoofstuk 8 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.