VOORBLADONDERWERP | WAAROOR HANDEL DIE BYBEL?
Hoe het ons hier gekom?
Genesis, die eerste boek in die Bybel, gee in ’n paar woorde ’n eenvoudige verduideliking van die oorsprong van die heelal: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Genesis 1:1). Nadat God plante en diere geskep het, het hy die eerste mense, Adam en Eva, geskep. Hulle het van diere verskil, want mense weerspieël in ’n mate God se eienskappe, insluitende wilsvryheid. Hulle was dus aanspreeklik vir hulle dade. As hulle God se voorskrifte gehoorsaam het, sou hulle in ooreenstemming met God se voorneme die eerste ouers van ’n wêreldwye mensegesin kon word wat vreedsame, volmaakte lewe vir ewig op die aarde sou geniet.
’n Sekere engel, of geesskepsel, het egter die geleentheid aangegryp om mense te gebruik om sy selfsugtige oogmerke te bereik. So het hy Satan geword, wat “Teenstander” beteken. Satan het deur ’n slang gepraat en Eva bedrieg deur vir haar te sê dat sy beter sou vaar sonder God se leiding. Adam en Eva het Satan gevolg en sodoende hulle band met hulle Maker verbreek. As gevolg van hulle slegte keuse het ons eerste ouers eindelose lewe verloor en sonde, onvolmaaktheid en onvermydelike dood aan ons almal oorgedra.
God het onmiddellik bekend gemaak dat hy hierdie droewige situasie sal regstel en dit vir Adam se nakomelinge moontlik sal maak om eindelose lewe te verkry. God het voorspel dat ’n “saad”—’n spesiale persoon—Satan uiteindelik sal vernietig en al die lyding wat Satan, Adam en Eva veroorsaak het, ongedaan sal maak (Genesis 3:15). Wie sou hierdie “saad” wees? Die tyd sou leer.
Intussen het Satan voortdurend probeer om God se goeie voorneme te verydel. Sonde en goddeloosheid het vinnig versprei. God het besluit om ’n vloed te bring om die goddeloses te vernietig. Hy het die regverdige man Noag opdrag gegee om ’n ark—’n groot drywende kis—te bou om hom en sy gesin te red, sowel as die diere wat hy beveel is om in die ark in te neem.
’n Jaar nadat die Vloed begin het, het Noag en sy gesin uit die ark gekom en hulle op ’n gereinigde aarde bevind. Maar die “saad” moes nog verskyn.
—Gebaseer op Genesis, hoofstukke 1-11; Judas 6, 14, 15; Openbaring 12:9.