Moses—’n Man van geloof
WAT IS GELOOF?
“Geloof”, soos dit in die Bybel gebruik word, verwys na vaste vertroue wat op grondige bewyse gebaseer is. Iemand wat geloof in God het, is vas oortuig dat Hy al Sy beloftes sal vervul.
HOE HET MOSES GELOOF GEOPENBAAR?
Moses het God se beloftes die middelpunt van sy lewe gemaak (Genesis 22:15-18). Hy het die geleentheid gehad om ’n gemaklike lewe in die weelde van Egipte te geniet, maar hy het hierdie geleentheid prysgegee en “verkies om liewer saam met die volk van God sleg behandel te word as om die tydelike genieting van sonde te hê” (Hebreërs 11:25). Was dit ’n impulsiewe besluit, een waaroor hy later spyt sou wees? Nee, want die Bybel sê dat Moses “standvastig gebly [het] asof hy die Onsigbare sien” (Hebreërs 11:27). Moses was nooit spyt oor die besluite wat hy in geloof gemaak het nie.
Moses het die geloof van ander probeer versterk. Kyk byvoorbeeld wat gebeur het toe dit gelyk het of die Israeliete tussen Farao se leër en die Rooi See vasgekeer was. Die Israeliete, wat vreesbevange was omdat hulle gedink het dat rampspoed hulle in die gesig staar, het tot Jehovah en Moses uitgeroep. Hoe het Moses gereageer?
Moses het moontlik nie geweet dat God weldra die Rooi See sou skei en sodoende ’n ontsnappingsroete vir die Israeliete sou voorsien nie. Maar Moses was vol vertroue dat God iets sou doen om Sy volk te beskerm. En Moses wou hê dat sy mede-Israeliete dieselfde vertroue moet hê. Ons lees: “Moses [het] vir die volk gesê: ‘Moenie bang wees nie. Staan vas en sien die redding van Jehovah, wat hy vandag vir julle sal bewerk’” (Eksodus 14:13). Het Moses daarin geslaag om die geloof van sy mede-Israeliete te versterk? Beslis, want die Bybel sê nie net van Moses nie, maar van al die Israeliete: “Deur geloof het hulle deur die Rooi See getrek soos oor droë land” (Hebreërs 11:29). Moses se geloof het nie net vir hóm voordele meegebring nie, maar ook vir almal wat daaruit geleer het.
WATTER LESSE LEER ONS?
Ons kan Moses navolg deur God se beloftes die middelpunt van ons lewe te maak. Byvoorbeeld, God belowe om in ons materiële behoeftes te voorsien as ons sy aanbidding die eerste plek in ons lewe gee (Matteus 6:33). Toegegee, ons vind dit dalk moeilik om die druk om materiële dinge na te streef, wat vandag so algemeen is, te weerstaan. Maar ons kan seker wees dat Jehovah in al ons behoeftes sal voorsien as ons ons bes doen om ’n eenvoudige lewe te lei wat om ons aanbidding draai. Hy gee ons die versekering: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.”—Hebreërs 13:5.
Ons probeer ook ander help om groter geloof op te bou. Byvoorbeeld, verstandige ouers besef dat hulle die uitstekende geleentheid het om geloof in hulle kinders op te bou. Namate kinders ouer word, is dit noodsaaklik dat hulle weet dat God bestaan en dat hy vir ons standaarde gegee het van wat reg en verkeerd is. Hulle moet ook daarvan oortuig wees dat dit werklik tot die beste lewensweg lei as hulle sy standaarde volg (Jesaja 48:17, 18). Ouers gee hulle kinders ’n kosbare gawe as hulle hulle help om te glo dat God “werklik bestaan en dat hy diegene beloon wat hom opreg soek”.—Hebreërs 11:6, Holy Bible—Easy-to-Read Version.