Het jy geweet?
Het Jesus ’n fout gemaak toe hy gepraat het van sout wat sy krag verloor?
In sy Bergpredikasie het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Julle is die sout van die aarde; maar as die sout sy krag verloor, hoe sal sy southeid herstel word? Dit is nie meer vir enigiets anders bruikbaar as om buite gegooi te word om deur die mense vertrap te word nie” (Matteus 5:13). Sout is ’n preserveermiddel. Gevolglik het Jesus se illustrasie waarskynlik beteken dat sy dissipels ander mense teen geestelike en sedelike verderf kon en moes beskerm.
The International Standard Bible Encyclopedia sê egter oor Jesus se verklaring dat sout sy krag kan verloor: “Die sout van die Dooie See-gebied was oor die algemeen vermeng met ander minerale; as die sout opgelos het en van die mengsel geskei is, het dit ’n smaaklose stof agtergelaat.” Dit is dus verstaanbaar dat Jesus gesê het dat die residu nie “meer vir enigiets anders bruikbaar [is] as om buite gegooi te word” nie. “Hoewel die onsuiwerheid van die sout van die Dooie See dit van swakker gehalte as die meeste seesout gemaak het,” voeg die ensiklopedie by, “het die feit dat dit maklik bekombaar was (dit kon eenvoudig langs die kus opgetel word) dit die vernaamste bron van sout vir Palestina gemaak.”
Wat sou die verlies van ’n dragma in Jesus se gelykenis vir sy luisteraars beteken het?
Jesus het die gelykenis vertel van ’n vrou wat, nadat sy een van haar tien dragmas verloor het, ’n lamp geneem, haar huis uitgevee en sorgvuldig gesoek het totdat sy dit gevind het (Lukas 15:8-10). In Jesus se dag was ’n dragma byna ’n dagloon werd; dit was dus nie ’n geringe geldelike verlies waarvan Jesus gepraat het nie. Maar die toneel wat hy beskryf het, was om ander redes realisties.
Party naslaanwerke dui aan dat vroue dikwels muntstukke as ornamente gebruik het. Jesus het dus moontlik verwys na ’n muntstuk wat ’n kosbare erfstuk of deel van ’n vrou se bruidskat was. Of dit die geval was of nie, dit is te verstane dat die vrou uiters gretig sou wees om haar verlore muntstuk te vind.
Daarbenewens was die huise van gewone mense in Jesus se dag ontwerp om soveel lig en hitte as moontlik uit te hou. Dit het min, indien enige, vensters gehad. Die vloere was gewoonlik bedek met strooi of gedroogde plantstingels. As ’n muntstuk geval het, sou dit moeilik wees om dit te vind. “Wanneer ’n betreklike klein artikel, soos ’n muntstuk, in so ’n plek verloor is”, sê een kommentator, “was dit die natuurlikste ding om ’n lamp op te steek en die huis uit te vee in ’n poging om dit te vind.”