Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

HOE het ’n jong vrou wat nie in God belanggestel het nie en wat ’n belowende loopbaan gehad het ’n ware doel in die lewe gevind? Wat het ’n jong Katolieke man oor die dood geleer wat hom ’n ander lewensweg laat inslaan het? En wat het ’n jong man wat ontnugter was met die lewe oor God geleer wat hom beweeg het om ’n Christenbedienaar te word? Lees wat hierdie mense te sê het.

“Ek het jare lank gewonder: ‘Waarom is ons hier?’”—ROSALIND JOHN

  • GEBORE: 1963

  • GEBOORTELAND: BRITTANJE

  • GESKIEDENIS: HET ’N SUKSESVOLLE LOOPBAAN GEHAD

MY VERLEDE:

Ek is in Croydon, Suid-Londen, gebore, die sesde kind in ’n gesin van nege. My ouers was oorspronklik van die Karibiese eiland St. Vincent. My ma het aan ’n Metodistekerk behoort. Ek het nie daarin belanggestel om oor God te leer nie, al het ek ’n onlesbare dors na kennis gehad. Ek het my skoolvakansies dikwels by die plaaslike meer deurgebring terwyl ek verskeie biblioteekboeke gelees het.

’n Paar jaar nadat ek skool verlaat het, het ek besef dat ek weerlose mense wil help. Ek het begin werk met haweloses en met mense wat liggaamsgebreke en leergestremdhede het. Toe het ek ’n universiteitskursus in gesondheidswetenskap geloop. Nadat ek gegradueer het, het ek tot my verbasing die een hoë pos na die ander beklee, en my lewenstyl het al hoe luukser geword. As ’n vryskutbestuurskonsultant en maatskaplike navorser het ek net my skootrekenaar en toegang tot die Internet nodig gehad om te kan werk. Ek het van tyd tot tyd vir ’n paar weke na die buiteland gevlieg, in my gunstelinghotel gebly, die pragtige omgewing geniet en die spa en oefengeriewe gebruik om fiks te bly. Ek het regtig gedink dat dít die lewe is. Maar ek was nog altyd besorg oor die verdruktes.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Ek het jare lank gewonder: ‘Waarom is ons hier, en wat is die doel van die lewe?’ Maar ek het nooit antwoorde in die Bybel probeer vind nie. Eendag in 1999 het my jonger suster Margaret, wat een van Jehovah se Getuies geword het, kom kuier saam met haar Getuievriend, wat persoonlike belangstelling in my getoon het. Ek het ingestem om die Bybel saam met my suster se vriend te studeer, maar ek het baie stadig gevorder omdat my loopbaan en lewenstyl soveel van my tyd in beslag geneem het.

In die somer van 2002 het ek na die suidweste van Engeland getrek. Daar het ek vir ’n nagraadse universiteitskursus in maatskaplike navorsing ingeskryf, met die uiteindelike doel om my doktorsgraad te verwerf. Ek en my jong seun het meer dikwels na die plaaslike Koninkryksaal begin gaan. Hoewel ek hoër onderwys geniet het, het my studie van die Bybel my ’n beter begrip van die lewe se probleme en die oplossing daarvoor gegee. Ek het besef hoe waar die woorde in Matteus 6:24 is, wat sê dat jy nie twee here kan dien nie. Dit moes óf God óf rykdom wees. Ek het geweet dat ek ’n besluit oor my prioriteite moet neem.

Die vorige jaar het ek gereeld ’n tuisbybelstudiegroep bygewoon waar die Getuies die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? * bestudeer het. Ek het mettertyd daarvan oortuig geword dat net ons Skepper, Jehovah, die oplossing vir die mensdom se probleme het. Maar by die universiteit is ek geleer dat daar geen verband is tussen sin in die lewe en geloof in ’n Skepper nie. Ek was woedend. Ná twee maande het ek my universiteitskursus opgeskop en besluit om meer tyd aan geestelike belange te wy.

Die Bybelgedeelte wat my beweeg het om my lewenstyl te verander, was Spreuke 3:5, 6: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.” Om oor ons liefdevolle God te leer, was meer bevredigend as enige materiële rykdom en status wat ’n doktorsgraad my kon gegee het. Hoe meer ek geleer het oor Jehovah se voorneme met die aarde en die rol wat Jesus daarin gespeel het om sy lewe vir ons op te offer, hoe sterker het my begeerte geword om my lewe aan ons Skepper toe te wy. Ek is in April 2003 gedoop. Daarna het ek my lewe geleidelik vereenvoudig.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

My vriendskap met Jehovah is baie kosbaar. Ek geniet ware gemoedsrus en vreugde vandat ek hom leer ken het. Dit is ook vir my ’n groot genot om met ander te assosieer wat ware aanbidders van God is.

My dors na kennis word nog steeds geles deur wat ek uit die Bybel en by Christelike vergaderinge leer. Ek geniet dit om ander van my geloof te vertel. Dit is nou my beroep, en dit stel my in staat om mense daadwerklik te help om nou ’n beter lewe te geniet sowel as om die wonderlike hoop op lewe in die nuwe wêreld te hê. Sedert Junie 2008 neem ek aan die voltydse bediening deel en is ek gelukkiger en meer tevrede as ooit tevore. Ek weet nou wat die ware doel van die lewe is en hiervoor is ek Jehovah ewig dankbaar.

“Die dood van my vriend was vir my ’n groot skok.”—ROMAN IRNESBERGER

  • GEBORE: 1973

  • GEBOORTELAND: OOSTENRYK

  • GESKIEDENIS: DOBBELAAR

MY VERLEDE:

Ek het in die klein dorpie Braunau, Oostenryk, grootgeword. Dit was ’n welvarende gebied en misdaad was nie algemeen nie. My gesin was Katoliek en ek is in daardie godsdiens grootgemaak.

Iets wat vroeg in my lewe gebeur het, het ’n groot uitwerking op my gehad. In 1984, toe ek omtrent 11 jaar oud was, het ek sokker saam met een van my beste vriende gespeel. Daardie selfde middag is hy in ’n motorongeluk dood. Die dood van my vriend was vir my ’n groot skok. Jare ná die ongeluk het ek nog gewonder wat met ons gebeur wanneer ons sterf.

Nadat ek skool verlaat het, het ek as ’n elektrisiën gewerk. Hoewel ek ’n gewoontedobbelaar geword het en met groot somme geld gedobbel het, het ek nie finansiële probleme gehad nie. Ek het ook baie tyd aan sport bestee en het ’n liefde vir heavy metal en punkrock ontwikkel. My lewe het uit disko’s en partytjies bestaan. Ek het ’n genotsugtige en onsedelike lewe gelei, maar ek het nogtans baie leeg gevoel.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

In 1995 het ’n bejaarde Getuie aan my deur geklop en my ’n boek aangebied wat die Bybel se antwoord bespreek op die vraag: Wat gebeur by die dood? Omdat die tragiese dood van my jong vriend my nog steeds gekwel het, het ek die boek geneem. Ek het nie net die hoofstuk oor die dood gelees nie, maar die hele boek!

Wat ek gelees het, het my vrae oor die dood beantwoord. Maar ek het ook baie ander dinge geleer. Omdat ek as ’n Katoliek grootgeword het, het my geloof hoofsaaklik om Jesus gedraai. My noukeurige studie van die Bybel het my gehelp om ’n hegte vriendskap met Jesus se Vader, Jehovah God, op te bou. Ek het dit fassinerend gevind dat Jehovah nie geheimsinnig en afsydig is nie, maar homself duidelik openbaar aan diegene wat hom soek (Matteus 7:7-11). Ek het geleer dat Jehovah gevoelens het. Ek het ook geleer dat hy altyd sy beloftes nakom. Dit het my belangstelling in Bybelprofesieë geprikkel en daartoe gelei dat ek die vervulling daarvan begin ondersoek het. Wat ek geleer het, het my geloof in God versterk.

Ek het gou besef dat Jehovah se Getuies die enigste mense is wat opreg daarin belangstel om mense te help om die Bybel te verstaan. Ek het die tekste wat in die Getuies se publikasies verskyn het in my Katolieke Bybel nageslaan. Hoe meer ek ondersoek ingestel het, hoe meer het ek besef dat ek die waarheid gevind het.

My studie van die Bybel het my geleer dat Jehovah verwag dat ek volgens sy standaarde lewe. Na aanleiding van wat ek in Efesiërs 4:22-24 gelees het, kon ek sien dat ek ontslae moet raak van my “ou persoonlikheid”, wat deur my “vroeëre lewenswandel” gevorm is, en dat ek my met “die nuwe persoonlikheid moet beklee, wat na God se wil . . . geskep is”. Ek het dus my onsedelike lewenswyse laat vaar. Ek het ook besef dat ek moet ophou dobbel, aangesien hierdie gewoonte materialisme en hebsug aanmoedig (1 Korintiërs 6:9, 10). Ek het geweet dat ek alleenlik hierdie veranderinge sal kan maak as ek nie meer met my vorige vriende assosieer nie en nuwe vriende maak wat dieselfde standaarde as ek het.

Dit was nie maklik om hierdie veranderinge te maak nie. Maar ek het vergaderinge saam met die Getuies by die Koninkryksaal begin bywoon en nuwe vriende in die plaaslike gemeente begin maak. Ek het ook op my eie voortgegaan om ’n noukeurige studie van die Bybel te maak. Hierdie stappe het my gehelp om my smaak in musiek te verander, my lewensdoelwitte aan te pas en my voorkoms te verbeter. In 1995 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Ek het nou ’n gebalanseerde beskouing van geld en materiële besittings. Ek was altyd kort van draad, maar nou is ek nie meer nie. Ek is ook nie meer oormatig besorg oor die toekoms nie.

Dit is wonderlik om deel van ’n internasionale groep mense te wees wat Jehovah dien. Onder hulle sien ek mense wat met probleme te kampe het, maar God nogtans getrou dien. Ek is so bly dat ek nie meer my eie begeertes bevredig nie, maar nou al my tyd en energie daaraan wy om Jehovah te aanbid en goed te doen aan ander.

“Uiteindelik het my lewe ’n doel.”—IAN KING

  • GEBORE: 1963

  • GEBOORTELAND: ENGELAND

  • GESKIEDENIS: ONTNUGTER MET DIE LEWE

MY VERLEDE:

Ek is in Engeland gebore, maar toe ek omtrent sewe jaar oud was, het my gesin na Australië getrek. Ons het op die Goudkus gaan bly, ’n toeristebestemming in Queensland, Australië. Hoewel my gesin nie welaf was nie, het ons niks kortgekom nie.

Ondanks my gemaklike lewe was ek nooit werklik gelukkig nie. Ek was nogal ontnugter met die lewe. My pa was ’n strawwe drinker. Ek was nooit baie lief vir hom nie, hoofsaaklik weens sy drankprobleem en die manier waarop hy my ma behandel het. Dit was eers later, toe ek van die dinge gehoor het wat hy as ’n soldaat in Maleia deurgemaak het, dat ek begin verstaan het waarom hy so opgetree het.

Terwyl ek op hoërskool was, het ek begin fuifdrink. Toe ek 16 jaar oud was, het ek skool verlaat en by die vloot aangesluit. Ek het met dwelms begin eksperimenteer en het aan tabak verslaaf geraak. Ek het ook al hoe meer van alkohol afhanklik geword. Mettertyd het ek nie net oor naweke gefuifdrink nie, maar elke dag.

In my laat tienerjare en vroeë 20’s het ek die bestaan van God begin bevraagteken. ‘As God werklik bestaan’, het ek geredeneer, ‘waarom laat hy toe dat mense ly en sterf?’ Ek het selfs gedigte geskryf waarin ek God die skuld gegee het vir al die goddeloosheid in die wêreld.

Ek het op 23-jarige ouderdom die vloot verlaat. Daarna het ek verskillende werke gehad en selfs ’n jaar lank oorsee gegaan, maar ek was nog altyd terneergedruk. Ek het geen begeerte gehad om doelwitte te stel of enigiets te bereik nie. Ek het in niks belanggestel nie. Die vooruitsig om ’n huis te besit, ’n goeie werk te hê en bevorder te word, het alles sinloos gelyk. Al wat my “vertroos” het, was om te drink en na musiek te luister.

Ek kan nog die oomblik onthou toe ek ’n besonder sterk begeerte gehad het om ’n doel in die lewe te vind. Ek was in Pole, tydens ’n besoek aan die berugte konsentrasiekamp by Auschwitz. Ek het al gelees van die gruweldade wat daar gepleeg is. Maar toe ek self daar gestaan het en gesien het hoe groot die kamp is, is ek diep getref. Ek kon nie verstaan dat mense so wreed teenoor ander mense kon wees nie. Ek onthou hoe ek met trane in my oë in die kamp rondgeloop het en gevra het: ‘Waarom?’

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

In 1993, toe ek weer by die huis was, het ek die Bybel begin lees om antwoorde te vind. Kort daarna het twee van Jehovah se Getuies aan my deur geklop en my na ’n byeenkoms by ’n nabygeleë stadion genooi. Ek het besluit om te gaan.

Ek was ’n paar maande vroeër by daardie stadion tydens ’n wedstryd, maar hierdie byeenkoms het hemelsbreed daarvan verskil. Die Getuies was beleefd en netjies geklee, en hulle kinders was goedgemanierd. En wat ek etenstyd gesien het, het my verstom. Honderde Getuies het middagete op die veld geëet, maar toe hulle na hulle sitplekke teruggekeer het, was daar geen vullis op die veld nie! Dit het bowenal gelyk of daar ’n gevoel van vergenoegdheid en vreedsaamheid onder hierdie mense was—iets waarna ek gesmag het. Ek onthou nie enige van die toesprake wat daardie dag gehou is nie, maar die gedrag van die Getuies het ’n blywende indruk by my gelaat.

Daardie aand het ek aan my neef gedink wat die Bybel gelees en verskillende godsdienste bestudeer het. Hy het jare vantevore vir my gesê dat Jesus gesê het dat ’n mens die ware godsdiens aan sy vrugte sal kan uitken (Matteus 7:15-20). Ek het besluit dat ek ten minste moet ondersoek waarom die Getuies so anders is. Vir die eerste keer in my lewe was ek effens optimisties en hoopvol.

Die volgende week het die twee Getuies wat my na die byeenkoms genooi het, my weer besoek. Hulle het aangebied om ’n Bybelstudie met my te hou, wat ek aanvaar het. Ek het ook Christelike vergaderinge saam met hulle begin bywoon.

Namate ek die Bybel bestudeer het, het my beskouing van God heeltemal verander. Ek het geleer dat hy nie die oorsaak van goddeloosheid en lyding is nie en dat hy ook seergemaak voel wanneer mense slegte dinge doen (Genesis 6:6; Psalm 78:40, 41). Ek was vasbeslote om Jehovah nie seer te maak nie. Ek wou sy hart bly maak (Spreuke 27:11). Ek het opgehou om te veel te drink en tabak te gebruik en het my onsedelike lewe laat vaar. In Maart 1994 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Ek is werklik gelukkig en vergenoeg. Ek vergryp my nie meer aan drank in ’n poging om my probleme op te los nie. Ek het eerder geleer om my laste op Jehovah te werp.—Psalm 55:22.

Ek is die afgelope tien jaar getroud met ’n pragtige Getuie genaamd Karen, en ek het ’n wonderlike stiefdogter, Nella. Ons drie geniet dit om baie tyd in die Christelike bediening deur te bring en ander te help om die waarheid omtrent God te leer. Uiteindelik het my lewe ’n doel.

^ par. 11 Uitgegee deur Jehovah se Getuies.