Wat sou Jesus sê?
Wat sou Jesus sê?
Talle godvresende mense is van mening dat godsdiens by die politiek betrokke moet wees. Hulle glo dat godsdiens ’n sleutelrol daarin kan speel om die mensdom se probleme op te los. Ander opregte gelowiges dink egter dat godsdiens en die politiek nie bymekaar hoort nie. Hoe voel jy oor godsdiens se rol in die politiek? Behoort daardie sterk magte langs een vuur te sit?
JESUS CHRISTUS is al beskryf as “die invloedrykste figuur in die godsdiensgeskiedenis van die mensdom”. Stel jou dus voor dat ons hom dié vraag kon vra: Moet godsdiens by die politiek betrokke wees? Wat sou hy sê? Terwyl hy op die aarde was, het hy hierdie vraag deur sy woorde en dade beantwoord. Byvoorbeeld, in sy beroemde Bergpredikasie het Jesus riglyne gegee wat sy volgelinge help om te verstaan watter rol hulle in hulle gemeenskap moet speel. Kom ons bespreek ’n paar punte uit daardie bekende preek.
Die invloed van Christene
Jesus het die verhouding beskryf wat sy volgelinge ten opsigte van die wêreld moet hê. Hy het gesê: “Julle is die sout van die aarde; maar as die sout sy krag verloor, hoe sal sy southeid herstel word? Dit is nie meer vir enigiets anders bruikbaar as om buite gegooi te word om deur die mense vertrap te word nie. Julle is die lig van die wêreld. . . . Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is” (Matteus 5:13-16). Waarom het Jesus sy volgelinge met sout en lig vergelyk?
Jesus se woorde gee te kenne dat sy volgelinge vir die hele mensdom soos sout is, nie net vir ’n klein groepie nie. Hulle is soos lig vir almal wat duidelik wil sien, nie net vir ’n beperkte aantal mense nie. Deur middel van hierdie illustrasies het Jesus duidelik getoon dat hy nie wil hê dat sy volgelinge hulle van die samelewing moet afsonder nie. Waarom nie?
Dink hieraan: Sout kan nie as ’n preserveermiddel dien as dit nie met kos gemeng word nie. ’n Lamp kan nie ’n donker kamer verlig as dit nie in die kamer ingebring word nie. Dit is dus te verstane waarom Jesus sy dissipels nooit beveel het om na ’n afgesonderde deel van die aarde te trek om gemeenskappe van gelowiges te stig nie. Hy het sy volgelinge ook nie aangespoor om ’n lewe van afsondering agter die mure van godsdiensinstellings te lei nie. Maar net soos sout met kos gemeng moet word en lig die donker moet verdryf, moet Christene ’n invloed op die lewe van ander hê.
“Geen deel van die wêreld nie”
Jesus se opdrag dat sy volgelinge hulle nie van hulle medemens moet afsonder nie, laat egter ’n belangrike vraag ontstaan oor ’n Christen se standpunt ten opsigte van die politiek. Waarom? Kort voor sy dood het Jesus ten behoewe van sy volgelinge tot God gebid: “Ek versoek u nie om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om oor hulle te waak weens die bose. Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:15, 16). Maar hoe kan Christene geen deel van die wêreld wees nie en terselfdertyd by hulle plaaslike gemeenskap betrokke wees? Om die antwoord te vind, kom ons ondersoek nog drie vrae:
• Hoe het Jesus die politiek beskou?
• Wat moet Christene vandag doen?
• Watter uitwerking het Christelike leringe op gemeenskappe?
[Lokteks op bladsy 4]
Jesus het duidelik getoon dat hy nie wil hê dat sy volgelinge hulle van die samelewing moet afsonder nie