“’n Tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat”
“’n Tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat”
“GOD is liefde.” In sommige lande raam mense daardie woorde en hang hulle dit teen ’n muur in hulle huis. Ja, dit is ’n pragtige beskrywing van wat God is—die verpersoonliking van liefde.
Maar baie mense weet nie dat daardie woorde uit die Bybel kom nie. Dit was die apostel Johannes wat geskryf het: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde” (1 Johannes 4:8). Johannes het ook geskryf oor God se liefde vir die wêreld van loskoopbare mense: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
Met dit in gedagte dink party dalk dat God bereid is om enigiets wat ons doen, oor die hoof te sien. Baie mense se lewenswyse toon dat hulle nie dink dat God hulle tot verantwoording sal roep vir wat hulle doen nie, ongeag hoe hulle hulle gedra. Maar is dit werklik so? Is God lief vir almal, vir die goeies sowel as die goddeloses? Is daar ooit ’n tyd wanneer God haat?
God se liefde teenoor sy haat
Wyse koning Salomo het gesê: “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, ja, ’n tyd vir elke aangeleentheid onder die hemel . . . ’n tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat” (Prediker 3:1, 8). Hoewel God baie liefdevol en goedhartig is, is daar, in ooreenstemming met hierdie beginsel, wel tye wanneer hy haat.
Eerstens, wat beteken “haat” soos dit in die Bybel gebruik word? Een naslaanwerk antwoord: “In die Skrif het die woord ‘haat’ verskillende betekenisse. Dit kan die betekenis oordra van intense vyandigheid, langdurige kwaadwilligheid wat dikwels met gemeenheid gepaardgaan. Sulke haat kan ’n verterende emosie word wat iemand aandryf om die voorwerp van sy haat skade te berokken.” Dit is die betekenis waarmee ons die beste vertroud is, en ons sien die uitwerking van hierdie soort haat regoor die wêreld. Maar dieselfde naslaanwerk sê verder: “‘Haat’ kan ook op ’n sterk afkeer dui, maar sonder enige bedoeling om die voorwerp van haat skade te berokken.”
Hierdie tweede betekenis is wat ons hier bespreek. Dit is ’n intense afkeer, ’n algehele verafskuwing—nie gemeenheid, kwaadwilligheid of ’n begeerte om kwaad te berokken nie. Kan God hierdie soort haat hê? Let op wat Spreuke 6:16-19 sê: “Daar is ses dinge wat Jehovah haat; ja, sewe is verfoeilik vir sy siel: trotse oë, ’n valse tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat skadelike planne beraam, voete wat haastig is om na slegtheid te hardloop, ’n valse getuie wat leuens uitstrooi en iemand wat twis onder broers saai.”
Soos ons kan sien, is daar sekere gebruike wat God haat. Tog haat hy nie noodwendig Genesis 8:21; Romeine 5:12). Die skrywer van Spreuke gebruik ’n goeie voorbeeld om dit te verduidelik: “Jehovah wys die een tereg wat hy liefhet, net soos ’n vader doen met ’n seun in wie hy behae het” (Spreuke 3:12). ’n Ouer haat dalk ’n kind se ongehoorsame dade, maar hy is nog steeds lief vir sy kind en doen alles in sy vermoë om hom te help om van sy slegte gedrag af te sien deur hom te dissiplineer. In sy liefde volg Jehovah ’n soortgelyke weg wanneer daar hoop is om die sondaar te red.
die persoon wat hom aan sulke dinge skuldig maak nie. Hy neem versagtende omstandighede in ag, soos vleeslike swakhede, milieu, opvoeding en onkunde (Wanneer haat geregverdig is
Maar sê nou iemand leer die wil van God maar weier om dit te doen? Daardie persoon verkry nie God se liefde nie, maar wek eerder God se misnoeë. As hy die dinge wat Jehovah haat, moedswillig beoefen, haal hy hom Sy haat op die hals. Die Bybel sê byvoorbeeld: “Jehovah ondersoek die regverdige sowel as die goddelose, en Sy siel haat beslis elkeen wat geweld liefhet” (Psalm 11:5). Vir so ’n onberouvolle persoon is daar geen vergifnis nie, soos die apostel Paulus duidelik maak in sy brief aan die Hebreërs: “As ons moedswillig sonde beoefen nadat ons die juiste kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offerande vir sondes meer oor nie, maar daar is ’n sekere vreeslike verwagting van oordeel en ’n vurige jaloesie wat die teenstanders gaan verteer” (Hebreërs 10:26, 27). Waarom neem ’n God van liefde hierdie standpunt in?
Wanneer iemand ’n ernstige sonde moedswillig beoefen, kan die goddeloosheid so ingewortel raak dat die persoon nie daarvan bevry kan word nie. Hy word dalk verdorwe, hardnekkig, onhervormbaar. Die Bybel vergelyk so iemand met ’n luiperd wat nie sy vlekke kan verander nie (Jeremia 13:23). Die persoon kan nie meer berou toon nie en maak hom skuldig aan wat die Bybel “ewige sonde” noem, waarvoor daar geen vergifnis is nie.—Markus 3:29.
Dit was die geval met Adam en Eva sowel as Judas Iskariot. Aangesien Adam en Eva volmaak geskep is en aangesien God hulle ’n duidelike bevel gegee het wat hulle al twee verstaan het, het hulle beslis moedswillig, willens en wetens, gesondig, en daarom was hulle onverskoonbaar. Toe God later met hulle gepraat het, het hy hulle geen moontlikheid van berou gebied nie (Genesis 3:16-24). Judas, wat onvolmaak was, het noue omgang met God se eie Seun geniet, en tog het hy ’n verraaier geword. Jesus self het hom “die seun van die vernietiging” genoem (Johannes 17:12). Die Bybel toon ook dat die Duiwel ’n verstokte sondaar is wat niks anders as vernietiging kan verwag nie (1 Johannes 3:8; Openbaring 12:12). Hierdie persone het hulle God se haat op die hals gehaal.
Dit is egter bemoedigend dat nie almal wat gesondig het, verlore is nie. Jehovah is baie geduldig en skep geen behae daarin om mense te straf wat uit onkunde gesondig het nie (Esegiël 33:11). Hy nooi hulle om berou te toon en vergewe te word. Ons lees: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die slegte mens sy gedagtes; en laat hom tot Jehovah terugkeer, wat hom barmhartig sal wees, en tot ons God, want hy sal ryklik vergewe.”—Jesaja 55:7.
’n Gebalanseerde beskouing van liefde en haat
Dit is duidelik dat ware Christene, as navolgers van God, moet weet wanneer dit ‘tyd is om lief te hê’ en wanneer dit ‘tyd is om te haat’. Sentimentaliteit kan tot ’n ongebalanseerde beskouing van liefde en barmhartigheid lei. Maar die woorde van die dissipel Judas kan ons help om die regte balans te handhaaf tussen om barmhartigheid te bewys en sonde te haat: “Hou aan om barmhartigheid aan ander te bewys, en dít met vrees, terwyl julle ook die onderkleed haat wat deur die vlees bevlek is” (Judas 22, 23). Ons moet dus die kwaad haat, maar nie die persoon wat kwaad doen nie.
Christene word ook beveel om liefde te betoon aan hulle vyande deur aan hulle goed te doen. “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg”, het Jesus gesê (Matteus 5:44). Dit is waarom Jehovah se Getuies nie ophou om herhaaldelik na hulle bure terug te gaan om hulle van die goeie nuus van God se Koninkryk te vertel nie, al luister party nie na die boodskap nie (Matteus 24:14). Die Getuies kyk na sake vanuit die Bybel se oogpunt en beskou elkeen dus as iemand wat Jehovah se liefde en barmhartigheid kan ontvang. Wanneer hulle pogings om mense te help nie waardeer word nie of wanneer hulle verwerp of selfs vervolg word, volg die Getuies die apostel Paulus se raad: “Hou aan om dié te seën wat julle vervolg; seën en moenie vervloek nie . . . Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie” (Romeine 12:14, 17). Hulle hou in gedagte dat Jehovah sal besluit wie sy liefde waardig is en wie sy haat verdien. Hy is die Regter wat die finale oordeel fel wat lewe en dood betref.—Hebreërs 10:30.
Ja, “God is liefde”. Wat ons betref, ons moet waardering toon vir sy liefde en probeer uitvind wat sy wil is en dit dan doen. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou graag in jou eie eksemplaar van die Bybel wys wat God se wil is en hoe jy dit in jou lewe kan toepas. As jy dit doen, sal jy jou nie God se haat op die hals haal nie, maar eerder sy liefde ervaar.
[Lokteks op bladsy 23]
“Daar is ses dinge wat Jehovah haat; ja, sewe is verfoeilik vir sy siel: trotse oë, ’n valse tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat skadelike planne beraam, voete wat haastig is om na slegtheid te hardloop, ’n valse getuie wat leuens uitstrooi en iemand wat twis onder broers saai.”—SPREUKE 6:16-19
[Lokteks op bladsy 24]
“As ons moedswillig sonde beoefen nadat ons die juiste kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offerande vir sondes meer oor nie, maar daar is ’n sekere vreeslike verwagting van oordeel.”—HEBREËRS 10:26, 27
[Lokteks op bladsy 25]
“Laat die goddelose sy weg verlaat en die slegte mens sy gedagtes; en laat hom tot Jehovah terugkeer, wat hom barmhartig sal wees . . . Hy sal ryklik vergewe.”—JESAJA 55:7
[Prent op bladsy 24]
’n Liefdevolle ouer dissiplineer sy kind met die doel om hom te help
[Prent op bladsy 25]
Baie gevangenes het al by God se liefde en barmhartigheid baat gevind