Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die goddelike naam en Alfonso de Zamora se strewe na tekstuele akkuraatheid

Die goddelike naam en Alfonso de Zamora se strewe na tekstuele akkuraatheid

Die goddelike naam en Alfonso de Zamora se strewe na tekstuele akkuraatheid

IN 1492 het Ferdinand en Isabella, die koning en koningin van Spanje, ’n verordening uitgereik: “Ons beveel alle Jode en Jodinne . . . om vanjaar teen die einde van Julie al ons vermelde koninkryke en grondgebiede te verlaat, tesame met hulle seuns en dogters, hulle manlike en vroulike knegte asook alle Joodse lede van hulle huishouding, hetsy klein of groot, ongeag hulle ouderdom, en dat hulle dit nie moet waag om daarheen terug te keer nie.”

Toe hierdie uitsettingsbevel gegee is, het elke Joodse gesin in Spanje voor ’n keuse te staan gekom—om in ballingskap te gaan of om hulle godsdiens te verloën. ’n Rabbi met die naam Juan de Zamora het moontlik gereken dat dit beter sou wees om hom tot Katolisisme te bekeer en in Spanje te bly, waar sy voorouers geslagte lank gewoon het. Weens sy Joodse agtergrond is dit moontlik dat Juan sy seun Alfonso na die beroemde skool vir Hebreeuse studies in Zamora gestuur het. Later het Alfonso ’n kenner van Latyn, Grieks en Aramees geword. Nadat hy sy studies voltooi het, het hy by die Universiteit van Salamanca Hebreeus begin doseer. Kort daarna is sy taalkundige vernuf goed benut tot voordeel van Bybelgeleerdes regoor Europa.

In 1512 is Alfonso de Zamora deur die nuwe Universiteit van Alcalá de Henares as professor van Hebreeuse studies aangestel. Aangesien Zamora een van die vooraanstaande geleerdes van sy dag was, het kardinaal Jiménez de Cisneros, die stigter van die universiteit, sy hulp ingeroep met die voorbereiding van die uiters belangrike Complutensiese Poliglot. In hierdie Bybel, wat uit ses dele bestaan, verskyn die heilige teks in Hebreeus, Grieks, Latyn en gedeeltelik in Aramees. a

Aangaande hierdie projek sê die Bybelgeleerde Mariano Revilla Rico: “Van die drie Joodse bekeerlinge wat aan die projek van die kardinaal [Cisneros] deelgeneem het, is Alfonso de Zamora die beroemdste; hy was ’n grammatikus, ’n filosoof en ’n kenner van die Talmoed, asook van Latyn, Grieks, Hebreeus en Aramees.” Zamora se studies het hom tot die gevolgtrekking gelei dat akkurate Bybelvertaling omvattende kennis van die oorspronklike ou tale vereis. Trouens, hy het een van die vernaamste bevorderaars geword van die herlewing van Bybelse geleerdheid wat aan die begin van die 16de eeu begin floreer het.

Nietemin het Zamora hom in ’n moeilike tyd en op ’n gevaarlike plek bevind om Bybelse geleerdheid te bevorder. Die Spaanse Inkwisisie was op sy hoogtepunt, en die Katolieke Kerk het die Latynse Vulgaat-vertaling as die enigste “amptelike” Bybelvertaling beskou. Maar reeds sedert die Middeleeue het Katolieke geleerdes opgemerk dat die Latynse teks van die Vulgaat allesbehalwe volmaak is. Teen die vroeë 16de eeu het Alfonso de Zamora en ander hulle begin beywer om iets daaromtrent te doen.

‘Redding vereis vertaling’

Van al die projekte waaraan Zamora gewerk het, was die Hebreeuse uitgawe van wat algemeen bekend staan as die Ou Testament, tesame met die vertaling daarvan in Latyn, ongetwyfeld die belangrikste. Hy wou waarskynlik gehad het dat baie van hierdie materiaal vir die voorgenome Complutensiese Poliglot gebruik moet word. Een van sy manuskripte word in die El Escorial-biblioteek naby Madrid, Spanje, bewaar. Dit is as G-I-4 gekatalogiseer en bevat die volledige boek Genesis in Hebreeus, tesame met ’n interlineêre vertaling, of woord-vir-woord-vertaling, in Latyn.

Die voorwoord bevat hierdie verklaring: “Die redding van die nasies het vereis dat die Heilige Skrif in ander tale vertaal word. . . . Ons het dit . . . as ’n absolute noodsaaklikheid beskou dat die getroues ’n woord-vir-woord-vertaling van die Bybel het, ’n vertaling waarin daar vir elke Hebreeuse woord ’n ekwivalent in Latyn is.” Alfonso de Zamora was bevoeg om so ’n nuwe vertaling in Latyn aan te pak, aangesien hy ’n gerespekteerde kenner van Hebreeus was.

‘My gees kan nie ’n rusplek vind nie’

In een opsig was die 16de-eeuse Spanje net die regte plek waarin geleerdes soos Zamora kon werk. Gedurende die Middeleeue het Spanje ’n sentrum van die Joodse kultuur geword. The Encyclopædia Britannica verduidelik: “Met sy groot Moslem- en Joodse bevolkings was die Middeleeuse Spanje die enigste Wes-Europese land met baie verskillende rasse en godsdienste, en baie van die ontwikkeling van die Spaanse beskawing gedurende die Laat-Middeleeue wat godsdiens, literatuur, kuns en argitektuur betref, was hieraan te danke.”

Aangesien daar ’n groot Joodse bevolking in Spanje was, was daar ’n oorvloed Hebreeuse Bybelmanuskripte beskikbaar. Joodse kopiïste in baie dele van Spanje het hierdie manuskripte met groot moeite oorgeskryf vir gebruik in die sinagoges tydens die openbare voorlesing van die Skrif. L. Goldschmidt sê in sy boek The Earliest Editions of the Hebrew Bible dat “dit nie net die Spaans-Portugese afskrifte van die Pentateug is wat onder Joodse geleerdes hoog aangeskryf is vir akkuraatheid nie, maar ook die manuskripte waarop hierdie afskrifte en die vakkundige poliglotte gebaseer is”.

Ondanks die voordele wat Spanje gebied het, het donker wolke van teenstand oor voornemende Bybelvertalers saamgepak. In 1492 het die Katolieke leër van koning Ferdinand en koningin Isabella die laaste Moorse ingeslote grondgebied in Spanje verower. Soos vroeër gemeld is, het die monarge in daardie selfde jaar beveel dat alle Joodse gelowiges uit Spanje gesit moet word. ’n Soortgelyke verordening het die Moslems tien jaar later verban. Van daardie tyd af het Katolisisme die Staatsgodsdiens van Spanje geword, en ander godsdienste is nie meer toegelaat nie.

Hoe sou hierdie nuwe godsdiensklimaat Bybelvertaling raak? Die ondervinding van Alfonso de Zamora is ’n goeie voorbeeld van wat gebeur het. Hoewel hierdie geleerde Jood ’n Katolieke bekeerling geword het, het die Spaanse hiërargie geweier om sy agtergrond oor die hoof te sien. Party teenstanders het kardinaal Cisneros gekritiseer omdat hy Joodse bekeerlinge in die voorbereiding van die Poliglot-Bybel gebruik het. Hierdie aanvalle het vir Zamora baie lyding veroorsaak. In ’n kommentaar in ’n manuskrip by die Universiteit van Madrid het Zamora gekla: “Ek, . . . versaak en gehaat deur al my vriende—wat my vyande geword het—kan nie ’n rusplek vir my gees of my voetsole vind nie.”

Een van sy grootste vyande was Juan Tavera, die aartsbiskop van Toledo, wat later die amp van hoofinkwisiteur beklee het. Zamora het so mismoedig geword weens Tavera se aanvalle dat hy selfs ’n beroep op die pous gedoen het. Sy brief het deels gesê: “Ons versoek en smeek dat U Heiligheid ons help . . . en ons bewaar van ons vyand, die biskop van Toledo, don Juan Tavera. Elke dag, sonder ophou, teister hy ons op talle, onaangename maniere. . . . Ons verkeer beslis in groot angs, want in sy oë is ons net soos diere wat bedoel is vir die slagpale. . . . As U Heiligheid hierdie versoek toestaan, ‘sal Jahweh u veiligheid bied en sal hy u voet teen gevangeneming beskerm’ (Spr. 3:23).” b

Alfonso de Zamora se nalatenskap

Ondanks hierdie aanvalle het Zamora se werk voortgegaan en goed gevorder tot voordeel van baie Bybelstudente. Hoewel hy die Skrif nooit in die volkstale van sy dag vertaal het nie, was die werk wat hy gedoen het, van onskatbare waarde vir ander vertalers. Om sy bydrae te verstaan, moet ons in gedagte hou dat daar altyd twee soorte geleerdes vir Bybelvertaling nodig is. Eerstens moet daar geleerdes wees wat afskrifte van die heilige teks in die oorspronklike tale—Hebreeus, Aramees en Grieks—bestudeer om ’n goed versorgde en akkurate teks in hierdie tale te produseer. Dan kan ’n vertaler hierdie werk as ’n beginpunt vir sy vertaling in ’n volkstaal gebruik.

Van al die geleerdes wat gewerk het aan die voorbereiding en versorging van die Hebreeuse teks wat uiteindelik in 1522 in die Complutensiese Poliglot uitgegee is, het Alfonso de Zamora die grootste bydrae gelewer. (Sy Hebreeus-Latynse woordelys en Hebreeuse grammatika wat in dieselfde werk verskyn het, het ook vertalers se werk makliker gemaak.) Erasmus, ’n tydgenoot van Zamora, het soortgelyke werk gedoen in verband met die Christelike Griekse Geskrifte, wat algemeen as die Nuwe Testament bekend staan. Nadat hierdie versorgde tekste in Hebreeus en Grieks beskikbaar geword het, kon ander vertalers die uiters belangrike taak aanpak om die Bybel in die volkstaal te vertaal. Toe William Tyndale die Bybel in Engels vertaal het, was hy een van die eerste vertalers wat die Hebreeuse teks van die Complutensiese Poliglot gebruik het.

Vandag is die wye verspreiding van die Bybel ’n gepaste huldeblyk aan die werk van manne soos Zamora, wat hulle lewe daaraan gewy het om ons kennis van die Skrif te verbreed. Soos Zamora besef het, moet mense God se Woord verstaan en gehoorsaam om gered te word (Johannes 17:3). Dit vereis dat die Bybel in tale vertaal word wat mense kan verstaan, want slegs dan kan die boodskap daarin die harte en verstande van miljoene mense raak.

[Voetnote]

a Vir ’n bespreking van die belangrikheid van die Complutensiese Poliglot, sien Die Wagtoring van 15 April 2004, bladsye 28-31.

b Dit is interessant dat Zamora in sy beroep op die pous van Rome die goddelike naam gebruik het, nie ’n titel nie. In ’n Spaanse vertaling van Zamora se versoek, word die naam as “Yahweh” weergegee. Daar kan nie met sekerheid gesê word in watter vorm dit in die oorspronklike Latyn verskyn het nie. Wat Zamora se vertaling en gebruik van die goddelike naam betref, sien die venster “Vertaling van die goddelike naam” op bladsy 19.

[Venster/Prente op bladsy 19]

Vertaling van die goddelike naam

Dit is van spesiale belang om te let op hoe Alfonso de Zamora, ’n geleerde man uit ’n Hebreeuse agtergrond, die goddelike naam getranslitereer het. Soos in die bygaande foto gesien kan word, word God se naam in ’n kantaantekening in sy Hebreeus-Latynse interlineêre vertaling van Genesis as “jehovah” weergegee.

Zamora het klaarblyklik hierdie vertaling van die goddelike naam in Latyn aanvaar. Gedurende die 16de eeu, toe die Bybel in vername Europese tale vertaal is, is hierdie spelling of ’n baie soortgelyke spelling deur baie Bybelvertalers aangeneem, onder andere William Tyndale (Engels, 1530), Sebastian Münster (Latyn, 1534), Pierre-Robert Olivétan (Frans, 1535) en Casiodoro de Reina (Spaans, 1569).

Zamora het sodoende die eerste van baie 16de-eeuse Bybelgeleerdes geword wat gehelp het om lig te werp op die goddelike naam. Die onkunde in verband met God se naam het ontstaan as gevolg van ’n Joodse bygeloof wat mense verbied het om die naam uit te spreek. Onder die invloed van hierdie Joodse tradisie het Bybelvertalers van die Christendom—byvoorbeeld, Hieronimus, die vertaler van die Latynse Vulgaat—die goddelike naam met woorde soos “Here” of “God” vervang.

[Prent]

Die Hebreeuse Tetragrammaton wat deur Zamora as jehovah vertaal is, van naby beskou

[Prent op bladsy 18]

Verordening deur die koning en koningin van Spanje, 1492

[Erkenning]

Verordening: Courtesy of the Archivo Histórico Provincial, Ávila, Spain

[Prent op bladsy 18]

Universiteit van Alcalá de Henares

[Prent op bladsy 21]

Titelplaat van Zamora se interlineêre vertaling