Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die lewe in Bybeltye—Geld

Die lewe in Bybeltye—Geld

Die lewe in Bybeltye—Geld

“Hy het gaan sit waar hy die skatkiste kon sien en begin toekyk hoe die skare geld in die skatkiste gooi; en talle ryk mense het baie muntstukke ingegooi. En ’n arm weduwee het gekom en twee muntstukkies ingegooi wat baie min waarde het.”—MARKUS 12:41, 42.

DIE Bybel praat dikwels van geld. Soos byvoorbeeld in die Evangelieverslae gesien word, het Jesus verskillende soorte muntstukke gebruik om lewensbelangrike beginsels aan ander te leer. Hy het ’n les getrek uit die weduwee se bydrae van “twee muntstukkies” waarna die aanhaling hierbo verwys. By ’n ander geleentheid het hy na ’n soort muntstuk verwys wat ’n denarius genoem is om sy volgelinge te help verstaan hoe hulle die regeringsowerheid moet beskou.—Matteus 22:17-21. *

Waarom het mense geld begin gebruik? Hoe is dit in Bybeltye gemaak? Hoe is dit gebruik? En wat leer ons uit die Bybel oor hoe ons dit moet beskou?

Van ruilhandel tot kosbare metale

Voordat mense geld begin gebruik het, het hulle deur middel van die ruilstelsel handel gedryf. Hulle het goedere en dienste van gelyke waarde uitgeruil. Maar ruilhandel kon ongerieflik wees. Die stelsel kon net werk as elke party die goedere wou hê wat die ander party aangebied het. Daarbenewens moes handelaars moeilik hanteerbare handelsartikels, soos diere of sakke graan, dra of versorg.

Handelaars het uiteindelik besef dat hulle ’n geriefliker middel nodig het wat gebruik kon word om goedere te koop en te verkoop. Die oplossing was om kosbare metale, soos goud, silwer en koper, te gebruik. In die bygaande prent sien jy ’n handelaar wat kosbare metale in die vorm van juweliersware en stafies gebruik om goedere of dienste te koop. Hierdie metale is versigtig op gevoelige weegskale geweeg voordat die goedere oorhandig is. Toe Abraham byvoorbeeld ’n graf vir sy geliefde vrou, Sara, gekoop het, het hy die vereiste hoeveelheid silwer afgeweeg.—Genesis 23:14-16.

Toe Jehovah die geskrewe Wet aan Israel gegee het, het gierige handelaars foutiewe weegskale of onakkurate gewigte gebruik om klante te bedrieg. Oneerlikheid is iets verfoeiliks vir Jehovah God, en daarom het hy vir die Israelitiese handelaars gesê: “Julle moet ’n akkurate weegskaal, akkurate gewigte . . . hê” (Levitikus 19:36; Spreuke 11:1). Diegene wat vandag goedere verkoop, moet onthou dat Jehovah se gevoelens oor gierigheid en oneerlikheid nie verander het nie.—Maleagi 3:6; 1 Korintiërs 6:9, 10.

Hoe die eerste muntstukke gemaak is

Die eerste muntstukke is, die een of ander tyd voor 700 VHJ, waarskynlik in Lidië (hedendaagse Turkye) geslaan. Metaalwerkers in verskillende lande het kort voor lank muntstukke op groot skaal gemaak, en mense in al die lande wat in die Bybel genoem word, het dit begin gebruik.

Hoe is die muntstukke gemaak? ’n Werker het gesmelte metaal uit ’n oond gehaal (1). en dit in gietvorms gegooi en so ongemerkte muntplaatjies gemaak (2). Hy het die muntplaatjies dan tussen metaalstempels gesit waarop simbole of prentjies gegraveer was (3). Daarna is dit met ’n hamer geslaan, wat die afbeelding op die muntplaatjie afgestempel het (4). As gevolg van die spoed van die proses is die afbeelding dikwels nie presies in die middel van die muntstukke geslaan nie. Werkers het die muntstukke gesorteer, dit geweeg om seker te maak dat al die muntstukke dieselfde waarde gehad het en, indien nodig, enige oortollige metaal verwyder (5).

Geldwisselaars, belastinggaarders en bankiers

In die eerste eeu HJ het muntstukke van verskillende lande in Palestina ingekom. Byvoorbeeld, reisigers wat die tempel in Jerusalem besoek het, het buitelandse muntstukke saam met hulle gebring. Maar diegene wat oor die tempel toesig gehou het, het die tempelbelasting slegs aanvaar as dit met sekere soorte muntstukke betaal is. Geldwisselaars het in die tempel begin handel dryf en het dikwels buitensporige fooie gevra om buitelandse muntstukke vir die aanvaarde geldeenheid te wissel. Jesus het daardie gierige mense veroordeel. Waarom? Omdat hulle Jehovah se huis in “’n handelshuis” en “’n rowerspelonk” verander het.—Johannes 2:13-16; Matteus 21:12, 13.

Inwoners van Palestina moes ook verskillende sekulêre belastings betaal. Een daarvan was die “hoofbelasting”, waaroor Jesus se teenstanders hom gevra het (Matteus 22:17). Ander belastings het tol en belasting op ingevoerde en uitgevoerde goedere ingesluit. Staatsbelastinggaarders in Palestina het ’n reputasie vir oneerlikheid gehad, en die mense het hulle verag (Markus 2:16). Die belastinggaarders het hulleself verryk deur belastingbetalers te veel geld te vra en dan die ekstra geld te hou. Maar party belastinggaarders, soos Saggeus, het op Jesus se boodskap gereageer en hulle oneerlike gebruike laat vaar (Lukas 19:1-10). Vandag moet enigiemand wat Christus wil navolg, in alles eerlik wees, wat besigheidsaktiwiteite insluit.—Hebreërs 13:18.

Nog ’n groep wat geld hanteer het, was die bankiers. Behalwe dat hulle buitelandse geldeenhede gewissel het, het hulle spaarplanne uitgedink, lenings toegestaan en rente uitbetaal aan diegene wat hulle geld by die bank belê het. Jesus het na hierdie bankiers verwys in ’n illustrasie oor slawe aan wie verskillende hoeveelhede geld gegee is om mee handel te dryf.—Matteus 25:26, 27.

Die regte beskouing van geld

In die meeste lande moet mense vandag geld verdien om te kan koop wat hulle nodig het. Die woorde wat God koning Salomo geïnspireer het om eeue gelede op te teken, is nog steeds waar: ‘Geld dien as ’n beskerming.’ Maar Salomo het ook gesê dat wysheid van groter waarde is as geld omdat dit “die besitters daarvan in die lewe hou” (Prediker 7:12). Hierdie wysheid word in die Bybel gevind.

Jesus het sy volgelinge gehelp om ’n gebalanseerde beskouing van geld te verkry toe hy gesê het: “Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). Soos Jesus se eerste-eeuse dissipels lê ons wysheid aan die dag wanneer ons op ’n verantwoordelike en eerlike wyse met ons geld werk en nie ’n liefde daarvoor ontwikkel nie.—1 Timoteus 6:9, 10.

[Voetnoot]

[Venster/Prente op bladsy 26]

 Feite oor muntstukke

● Een van die kleinste muntstukke wat in die eerste-eeuse Palestina in omloop was, was die koperlepton. ’n Werker het twee lepta in net 15 minute verdien. Dit was waarskynlik twee lepta wat die weduwee in die tempel se skatkis gegooi het.—Markus 12:42.

● Die silwerdragma was ’n Griekse muntstuk waarvoor ’n werker amper ’n volle dag moes werk (Lukas 15:8, 9). Alle Joodse mans het jaarliks twee dragmas as tempelbelasting betaal.—Matteus 17:24.

● Die silwerdenarius was ’n Romeinse muntstuk met die afbeelding van die Keiser daarop, en daarom was dit uiters geskik om “die skatting” te betaal wat gedurende die Romeinse besetting van elke volwasse Joodse man gehef is (Romeine 13:7). ’n Werkgewer het ’n werker een denarius vir ’n werksdag van 12 uur betaal.—Matteus 20:2-14.

● ’n Suiwer silwersikkel wat in die stad Tirus gemaak is, was in Palestina in omloop toe Jesus op aarde was. Die 30 “silwerstukke” wat die hoofpriesters Judas Iskariot betaal het om Jesus te verraai, was moontlik Tiriese sikkels.—Matteus 26:14-16.

Uitbeeldings toon werklike grootte van muntstukke aan