Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons lesers vra . . .

Aanvaar Jehovah se Getuies mediese behandeling?

Aanvaar Jehovah se Getuies mediese behandeling?

Jesus het gesê: “Dié wat gesond is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel” (Matteus 9:12). Hy het dus geïmpliseer dat daar geen Skriftuurlike rede is om die hulp van mediese deskundiges te weier nie. Jehovah se Getuies aanvaar dus graag medisyne en mediese behandeling. Hulle wil goeie gesondheid geniet en so lank moontlik lewe. Trouens, party van Jehovah se Getuies is dokters, soos die eerste-eeuse Christen Lukas was.—Kolossense 4:14.

Maar Jehovah se Getuies aanvaar geen behandeling wat in stryd is met Bybelbeginsels nie. Byvoorbeeld, hulle aanvaar nie bloedoortappings nie omdat die Bybel die mens verbied om bloed in te neem om die liggaam aan die lewe te hou (Genesis 9:4; Levitikus 17:1-14; Handelinge 15:28, 29). God se Woord verbied ook gesondheidsbehandelings of -prosedures wat die gebruik van “towerkrag”, oftewel spiritisme, behels.—Jesaja 1:13; Galasiërs 5:19-21.

Baie gesondheidsdeskundiges voorsien lewensreddende behandelings wat nie in stryd is met Bybelstandaarde nie. Sulke behandelings, wat vir baie Getuies aanvaarbaar is, is dikwels van ’n hoër gehalte as dié wat nie met God se vereistes ooreenstem nie.

Daar is natuurlik baie opinies wanneer dit kom by gesondheidskwessies. Wat vir een persoon werk, werk dalk nie vir ’n ander nie. Daarom sal diegene wat ’n akkurate professionele diagnose en goeie behandeling wil hê, moontlik ’n tweede mediese opinie wil kry.—Spreuke 14:15.

Nie elke Getuie sal dieselfde mediese keuses maak nie. God se Woord laat ruimte vir verskille in Christene se individuele gewetens solank geen Bybelse wet oortree word nie (Romeine 14:2-4). Elkeen moet dus enige voorgestelde behandeling ondersoek en seker maak dat dit nie sy of haar Bybelopgeleide gewete skend nie.—Galasiërs 6:5; Hebreërs 5:14.

’n Getuie sal elke besluit dus benader asof hy ’n bestuurder is wat by ’n besige kruising kom. As hy net die motors voor hom volg en vinnig deur die kruising ry, kan hy ernstige skade veroorsaak. ’n Verstandige bestuurder sal stadiger ry en kyk hoe die verkeer vloei voordat hy die kruising oorsteek. Net so is Getuies nie haastig wanneer hulle mediese besluite moet neem nie en volg hulle nie blindelings die openbare mening nie. Hulle weeg eerder hulle opsies teen mekaar op en ondersoek Bybelbeginsels voordat hulle ’n besluit neem.

Jehovah se Getuies waardeer beslis die harde werk en toewyding van dié wat mediese sorg voorsien. Hulle is ook dankbaar vir die feit dat hierdie persone welkome verligting van siekte bied.