Het jy geweet?
Het jy geweet?
Wat was die gebruik om oesoorblyfsels in te samel, en wie het daarby baat gevind?
▪ Die Mosaïese Wet het boere verbied om alles op hulle landerye in te samel. Diegene wat graan ingesamel het, was nie veronderstel om die rande van hulle landerye heeltemal af te oes nie. Diegene wat druiwe ingesamel het, moes nie die druiwe optel wat geval het of teruggaan om die druiwe te oes wat die eerste keer nog nie ryp was nie. En diegene wat die vrugte van die olyfbome afgeslaan het, moes die vrugte agterlaat wat nie afgeval het nie (Levitikus 19:9, 10; Deuteronomium 24:19-21). Die armes, die weeskinders, die weduwees en die inwonende vreemdelinge kon dan die oesoorblyfsels insamel.
Hierdie wet oor die insameling van oesoorblyfsels het die hele Israel tot voordeel gestrek. Die grondeienaar is aangemoedig om vrygewig en onselfsugtig te wees en vertroue in God se seëninge te stel. Diegene wat oesoorblyfsels ingesamel het, is aangemoedig om vlytig te wees, want hulle moes hard werk (Rut 2:2-17). Hierdie gebruik het verseker dat die armes nie sou honger ly of ’n las vir die gemeenskap sou word nie. Dit het hulle ook die vernedering gespaar om te bedel of om op aalmoese staat te maak.
Waarom het Salomo hout van ’n verafgeleë plek soos Libanon ingevoer vir die bou van die tempel in Jerusalem?
▪ Die verslag in 1 Konings 5:1-10 beskryf ’n ooreenkoms tussen Salomo en Hiram, die koning van Tirus. Volgens hierdie ooreenkoms sou vlotte van seder- en jenewerstompe per see van Libanon na Israel gebring word en in die bou van die tempel gebruik word.
Sederhout was ’n belangrike kommoditeit in die eertydse Midde-Ooste. In Egipte en Mesopotamië is hierdie hout dikwels gebruik vir die balke en paneelwerk van tempels en paleise. Koninklike argiewe, literêre tekste en inskripsies bevestig dat sederhout voortdurend na verskeie stadstate in Mesopotamië gebring is, soms as buit of as ’n skatting. Dit is in Egipte gebruik om koninklike trekskuite, doodskiste en ander items vir begrafnisse te bou.
Die seders van Libanon was welbekend, hoofsaaklik weens hulle duursaamheid, prag en die soet reuk van hulle hout, asook hulle bestandheid teen insekte. Salomo het dus die beste materiaal vir die tempel gebruik. Al wat vandag oor is van die sederwoude wat eens die berge van Libanon bedek het, is ’n paar verspreide groepies bome.
[Prent op bladsy 15]
Die vervoer van Sederstompe uit Libanon, Assiriese reliëf in die paleis van Sargon
[Erkenning]
Erich Lessing/Art Resource, NY