Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe het die inwoners van eertydse Israel verseker dat hulle altyd water het, aangesien die land ’n lang droë seisoen het?

In Israel val die reën tussen Oktober en April en vorm dit soms sterk strome in die valleie. Maar in die somer droog die meeste van hierdie “riviere” op, en dit reën dalk maande lank nie. Hoe het mense in Bybeltye verseker dat hulle altyd water het?

Hulle het hierdie probleem opgelos deur kanale in die heuwelhange uit te kap en die winterreëns in ondergrondse holtes, oftewel reënputte, af te lei. Die dakke was skuins genoeg om reënwater in hierdie reënputte te laat loop. Baie gesinne het hulle eie reënput gehad, waaruit hulle water kon skep om hulle dors te les.—2 Konings 18:31; Jeremia 6:7.

Die Israeliete het ook fonteine benut. In die hooglande syfer die winterreëns in die grond in totdat dit ondeurdringbare rotslae bereik, waarlangs dit loop totdat dit weer in die vorm van fonteine verskyn. Die feit dat dorpies dikwels naby ’n fontein (Hebreeus, en) gebou is, word aangedui deur plekname soos En-Semes, En-Rogel en En-Gedi (Josua 15:7, 62). By Jerusalem is ’n leikanaal in soliede rots uitgekap om fonteinwater in die stad in te lei.—2 Konings 20:20.

Waar daar geen fonteine was nie, is ’n put (Hebreeus, beʼerʹ), soos die een by Berseba, gegrawe om ondergrondse water te benut (Genesis 26:32, 33). Die skrywer André Chouraqui sê dat “die tegniese oplossings waarmee [die Israeliete] vorendag gekom het, selfs vandag bewondering afdwing”.

In watter soort huis het Abram (Abraham) moontlik gewoon?

Abram en sy vrou het in die welvarende Galdese stad Ur gewoon. Maar op God se bevel het hulle daardie stad verlaat en in tente begin woon (Genesis 11:31; 13:12). Dink aan die opoffering wat hierdie verandering moontlik van hulle geverg het.

Ur, in die hedendaagse Irak, is tussen 1922 en 1934 deur Leonard Woolley opgegrawe. Onder die geboue wat hy gevind het, was daar 73 baksteenhuise. Die vertrekke van baie van hierdie huise is om ’n geplaveide binnehof gerangskik. Die binnehof het geleidelik na die middel afgeloop, waar afvalwater in ’n afleivoor gevloei het. In die groter huise het gastekamers hulle eie toilet gehad. Ander vertrekke op die grondverdieping het ’n kombuis met ’n vuurherd en slaapplek vir slawe ingesluit. Die gesin het op die boonste verdieping gewoon, wat deur middel van ’n trap bereik is. Die trap het gelei na ’n houtbalkon wat rondom die binnehof geloop het en waarop die deure van die bovertrekke uitgeloop het.

“’n Huis . . . , met ’n geplaveide binnehof en mooi afgewitte mure, sy eie dreineerstelsel, . . . ’n stuk of 12 vertrekke, dui op ’n baie hoë lewenstandaard”, het Woolley geskryf. “En dit is die huise . . . van die middelklas, winkeliers, kleinhandelaars, skrywers, ensovoorts.”

[Prent op bladsy 19]

Reënput, Horvot Mezada, Israel

[Erkenning]

© Masada National Park, Israel Nature and Parks Authority

[Prent op bladsy 19]

Tekening van ’n huis uit Abraham se tyd

[Erkenning]

© Tekening: A. S. Whitburn