Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Eden—Was dit die mens se oorspronklike tuiste?

Eden—Was dit die mens se oorspronklike tuiste?

Eden—Was dit die mens se oorspronklike tuiste?

STEL jou voor dat jy in ’n tuin is. Daar is geen afleidings nie, geen geluide van ’n chaotiese stadslewe wat van anderkant ’n muur gehoor word nie. Die tuin is groot, en niks versteur die vrede nie. Nog beter, jy het geen bekommernisse nie, en jy word nie deur enige siekte, allergie of pyn geteister nie. Jou sintuie stel jou in staat om jou omgewing ten volle te geniet.

Jy verlustig jou in die helder kleure van die blomme, in die glinstering van ’n stroompie, in al die verskillende groene van die bome en die gras in die son en in die skaduwee. Jy voel die ligte briesie op jou vel en ruik die soet geure wat dit dra. Jy hoor die geritsel van blare, die geluid van water wat oor rotse stroom, die geroep en sang van voëls, die gezoem van besige insekte. Smag jy nie daarna om in so ’n plek te wees wanneer jy jou die toneel voorstel nie?

Mense regoor die wêreld glo dat die mensdom sy oorsprong in so ’n plek gehad het. Lede van die Judaïsme, Christendom en Islam word al eeue lank geleer van die tuin van Eden, waarin God Adam en Eva geplaas het om te woon. Volgens die Bybel het hulle ’n vreedsame, gelukkige lewe gelei. Hulle het in vrede verkeer met mekaar, met die diere en met God, wat hulle liefdevol die hoop gegee het om vir ewig in hierdie pragtige omgewing te lewe.—Genesis 2:15-24.

Hindoes het ook hulle eie konsepte van ’n paradys in die verre verlede. Boeddhiste glo dat groot geestelike leiers, of Boeddhas, te voorskyn kom in sulke goue eeue wanneer die wêreld soos ’n paradys is. En talle Afrika-godsdienste leer stories wat ’n merkwaardige ooreenkoms toon met dié van Adam en Eva.

Trouens, die idee van ’n vroeë paradys word in baie van die mensdom se godsdienste en tradisies gevind. Een skrywer het gesê: “Baie beskawings het in ’n oorspronklike paradys geglo wat deur volmaaktheid, vryheid, vrede, geluk, oorvloed en die afwesigheid van enige bedreiging, spanning en konflik gekenmerk is. . . . Hierdie opvatting het ’n diep nostalgie in die gemeenskaplike bewussyn laat ontstaan vir die verlore maar nie vergete paradys nie, asook ’n sterk begeerte om dit te herwin.”

Het al hierdie stories en tradisies dalk dieselfde oorsprong? Is dit moontlik dat die mensdom se “gemeenskaplike bewussyn” beïnvloed is deur die herinnering van iets werkliks? Het daar werklik in die verre verlede ’n tuin van Eden en ’n Adam en Eva bestaan?

Skeptici spot met die idee. In hierdie wetenskaplike eeu neem baie aan dat hierdie verslae blote legendes en mites is. Verbasend genoeg is nie alle skeptici ongodsdienstig nie. Baie godsdiensleiers bevorder ongeloof in die tuin van Eden. Hulle sê dat so ’n plek nooit bestaan het nie. Hulle sê dat die verslag net ’n metafoor, ’n mite, ’n fabel, ’n gelykenis is.

Die Bybel bevat natuurlik gelykenisse. Jesus het self die bekendstes gegee. Die Bybel bied die verslag van Eden egter nie as ’n gelykenis aan nie, maar as ware geskiedenis. As die gebeure wat beskryf word, nooit plaasgevind het nie, hoe kan die res van die Bybel dan vertrou word? Kom ons kyk waarom party skepties is oor die tuin van Eden en of hulle redes gegrond is. Dan sal ons bespreek waarom die verslag vir elkeen van ons van belang is.