Mite 2: Die goddeloses ly in die hel
Wat is die oorsprong van die mite?
“Van alle klassieke Griekse filosowe is Plato die een wat die grootste invloed op die tradisionele beskouings van die hel gehad het.”—Histoire des enfers (Die geskiedenis van die hel), deur Georges Minois, bladsy 50.
“Vanaf die middel van die 2de eeu AD het Christene wat in Griekse filosofie onderrig is, begin voel dat hulle hulle geloof in terme van hierdie filosofie moet uitdruk . . . Die filosofie wat hulle die beste gepas het, was Platonisme [die leringe van Plato].”—The New Encyclopædia Britannica (1988), Deel 25, bladsy 890.
“Die leer van die Kerk bevestig die bestaan van die hel en die ewigheid daarvan. Onmiddellik ná die dood daal die siele van dié wat in ’n toestand van doodsonde sterf, neer na die hel, waar hulle die straf van die hel, ‘ewige vuur’, ondergaan. Die grootste straf van die hel is om vir ewig van God geskei te wees.”—Catechism of the Catholic Church, 1994-uitgawe, bladsy 270.
Wat sê die Bybel?
“Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, . . . want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk [Hebreeus, Sjeool] waar jy heengaan nie.”—Prediker 9:5, 10, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.
Die Hebreeuse woord Sjeool, wat na die “woonplek van die dooies” verwys het, word in sommige vertalings van die Bybel met “hel” vertaal. Wat openbaar hierdie Skrifgedeelte oor die toestand van die dooies? Ly hulle in Sjeool om vir hulle oortredings versoening te doen? Nee, want hulle “weet glad niks nie”. Daarom het die aartsvader Job, toe hy weens ’n ernstige siekte verskriklik gely het, God gesmeek: “Beskerm my in die hel [Hebreeus, Sjeool]” (Job 14:13; Douay-Rheims Version). Sou sy versoek enigsins sin gemaak het as Sjeool ’n plek van ewige foltering was? In die Bybelse sin is die hel eenvoudig die gemeenskaplike graf van die mensdom, waar alle bedrywighede tot ’n einde gekom het.
Is hierdie definisie van die hel nie logieser en meer in ooreenstemming met die Skrif nie? Watter misdaad, ongeag hoe verskriklik, kan ’n God van liefde beweeg om iemand vir ewig te martel? (1 Johannes 4:8). Maar as die helse vuur ’n mite is, wat dan van die hemel?
Vergelyk hierdie Bybelverse: Psalm 146:3, 4; Handelinge 2:25-27; Romeine 6:7, 23
FEIT:
God straf mense nie in die hel nie