Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Stad Korinte—“Meester van twee hawens”

Die Stad Korinte—“Meester van twee hawens”

Die Stad Korinte—“Meester van twee hawens”

AS JY na ’n kaart van Griekeland kyk, sal jy sien dat die hoofdeel van die land bestaan uit ’n skiereiland en uit wat soos ’n groot eiland in die suide lyk. Die twee word verbind deur ’n smal strook land, wat by die smalste deel omtrent ses kilometer breed is. Dit word die Landengte van Korinte genoem en verbind die Peloponnesiese skiereiland in die suide met die hoofdeel van die land in die noorde.

Die landengte is ook in ’n ander opsig belangrik. Dit is al die brug van die see genoem, want aan die oostekant is die Saroniese Golf, wat in die Egeïese See en die oostelike deel van die Middellandse See uitloop, en aan die westekant is die Golf van Korinte, wat na die Ioniese See, die Adriatiese See en die westelike deel van die Middellandse See lei. In die middel van dit alles lê die stad Korinte, wat ’n belangrike stopplek gedurende die apostel Paulus se sendingreise was en in die antieke wêreld bekend was vir sy welvaart, weelde en die losbandige lewenswyse van sy inwoners.

’n Strategiese stad

Die stad Korinte is naby die westelike rand van hierdie belangrike strook land geleë. Dit het twee hawens gehad, een aan elke kant van die landengte—Lecheum aan die westekant en Kenchreë aan die oostekant. Daarom het die Griekse geograaf Strabo Korinte as die “meester van twee hawens” beskryf. Danksy Korinte se strategiese ligging het die stad ’n internasionale kruising van handelsroetes oorheers deur die oorlandse noord-suid-handelsroete sowel as die oos-wes-seehandel te beheer.

Sedert die ou tyd het skepe uit die ooste (Klein-Asië, Sirië, Fenisië en Egipte) en die weste (Italië en Spanje) met hulle vrag gekom en dit by die een hawe afgelaai, waarna dit die paar kilometer oor land na die ander kant van die landengte vervoer is. Daar is die vrag op ander skepe gelaai, en die reis is voortgesit. Kleiner vaartuie is oor die landengte met ’n skeepsweg langs gesleep, wat die diolkos genoem is.—Sien die  venster op bladsy 27.

Waarom het matrose die roete oor die landengte verkies? Omdat dit hulle die gevaarlike reis van 320 kilometer in onstuimige waters om die stormgeteisterde landpunte van die suidelike Peloponnesos gespaar het. Matrose het veral Kaap Malea vermy, waarvan daar gesê is: “Vaar om Kaap Malea, en jy kan maar daarvan vergeet om weer die huis te sien.”

Kenchreë—’n gesonke hawe

Kenchreë-hawe, omtrent 11 kilometer oos van Korinte, was die eindpunt van die Asiatiese seeroetes. Dit is vandag half onder water weens verwoestende aardbewings wat hierdie gebied omstreeks die einde van die vierde eeu G.J. getref het. Strabo het Kenchreë as ’n besige en welvarende hawe beskryf, en die Romeinse filosoof Lucius Apuleius het gesê dat dit “’n groot en magtige hawe [is] wat gereeld deur die skepe van talle nasies besoek word”.

Gedurende die Romeinse tye het die hawe twee kaaie gehad wat soos ’n hoefyster in die see ingestrek het en ’n ingang van 150 tot 200 meter geskep het. Skepe van tot 40 meter lank kon daar ingaan. Aan die suidwestelike kant is dele van ’n tempel opgegrawe wat vermoedelik ’n heiligdom vir die godin Isis was. ’n Gebouekompleks aan die oorkant van die hawe was waarskynlik ’n heiligdom vir Afrodite. Hierdie twee godinne is as die beskermgodinne van matrose beskou.

Kommersiële skeepvaartbedrywighede in die hawe het moontlik ’n rol gespeel in die feit dat die apostel Paulus as ’n tentmaker in Korinte gewerk het (Handelinge 18:1-3). Die boek In the steps of St. Paul sê: “Wanneer dit winter begin word het, het die tentmakers van Korinte, wat ook seilmakers was, amper meer werk gehad as wat hulle kon doen. Met al twee hawens vol skepe wat daar oorwinter het en wat herstel en weer toegerus moes word terwyl die seë onbevaarbaar was, het die skeepsleweransiers van Lecheum en Kenchreë ongetwyfeld werk gehad vir byna elke man wat seile kon maak.”

Nadat Paulus meer as 18 maande in Korinte gebly het, het hy omstreeks 52 G.J. van Kenchreë na Efese geseil (Handelinge 18:18, 19). Die een of ander tyd gedurende die volgende vier jaar is ’n Christengemeente in Kenchreë gestig. Die Bybel sê vir ons dat Paulus die Christene in Rome gevra het om ’n Christenvrou genaamd Febe van “die gemeente in Kenchreë” te help.—Romeine 16:1, 2.

Besoekers aan die baai van Kenchreë kan vandag in kristalhelder water tussen die oorblyfsels van die gesonke hawe swem. Die meeste van hulle besef nie dat hierdie plek eeue gelede gegons het van Christelike sowel as kommersiële bedrywighede nie. Dieselfde geld vir Korinte se ander hawe, Lecheum, aan die westekant van die landengte.

Lecheum—poort na die weste

’n Geplaveide straat, Lecheumweg, het reguit van die agora, of markplein, van Korinte na die westelike hawe, Lecheum, omtrent twee kilometer daarvandaan, geloop. Ingenieurs het ’n gedeelte van die kuslyn uitgebagger om die hawe te bou en het die puin op die strand opgehoop om vasgemeerde skepe teen sterk winde van die golf af te beskerm. Dit was eens op ’n tyd een van die grootste hawens in die Middellandse See. Argeoloë het oorblyfsels opgegrawe van ’n vuurtoring, ’n standbeeld van Poseidon wat ’n vlam vashou.

Al langs Lecheumweg, wat deur dubbele mure beskerm is, was sypaadjies, staatsgeboue, tempels asook kolonnades met winkels. Paulus het ongetwyfeld hier besige kopers, praatjiesmakers, winkeleienaars, slawe, sakemanne en ander raakgeloop—’n geskikte gehoor vir sy predikingswerk.

Lecheum was nie net ’n handelshawe nie, maar ook ’n groot vlootbasis. Party beweer dat die trireem, een van die doeltreffendste oorlogskepe van die Oudheid, omstreeks 700 v.G.J. deur die Korintiese skeepsbouer Ameinokles in Lecheum se skeepswerf ontwerp is. Die Ateners het die voordele van die trireem benut in hulle beslissende oorwinning oor die Persiese vloot in 480 v.G.J. by Salamis.

Wat vroeër ’n besige hawe was, is vandag niks meer as “’n reeks swart strandmere vol riete” nie. Daar is geen aanduiding dat een van die grootste hawens in die Middellandse See-gebied eeue gelede hier bestaan het nie.

Korinte—’n uitdaging vir Christene

Korinte se hawens was nie net handelshawens nie, maar was ook poorte wat invloede binnegelaat het wat ’n groot uitwerking op die mense in die stad gehad het. Hierdie hawens het byvoorbeeld handel en rykdom gelok. Korinte het rykdom vergaar deur baie hawegeld te vra, asook hoë tolgeld om goedere en skepe oor die skeepsweg te neem. Die stad het ook belasting op landverkeer gehef. Teen die einde van die sewende eeu v.G.J. het die staatsinkomste as gevolg van belasting op die stad se markte en op die gebruik van die hawens dit selfs moontlik gemaak om hoofbelasting af te skaf.

Korinte het bykomende inkomste ontvang van die handelaars wat daar gebly het. Baie van hulle het hulle verlustig in weelderige en losbandige swelgpartytjies. Matrose het ook na Korinte gestroom en dit verryk. Volgens Strabo het hulle hulle geld maklik bestee. Die stad se inwoners het baie dienste aangebied, onder andere skeepsherstelwerk.

In Paulus se dag het die stad na bewering ’n bevolking van omtrent 400 000 gehad, wat net oortref is deur Rome, Aleksandrië en Antiogië in Sirië. Grieke, Romeine, Siriërs, Egiptenare en Jode het in Korinte gewoon. Deur sy hawens het ’n bestendige stroom reisigers, besoekers aan atletiekbyeenkomste, kunstenaars, filosowe, sakemanne en ander die stad binnegekom. Hierdie besoekers het gawes na die tempels en offerandes aan die gode gebring. Dit alles het Korinte ’n lewendige, florerende wêreldstad gemaak—maar teen ’n prys.

Die boek In the steps of St. Paul sê: “Korinte, wat tussen twee sulke hawens geleë was, het ’n kosmopolitisme ontwikkel waarin die verdorwenhede van die buitelanders wie se skepe in die hawens gelê het, voorgekom het.” Die swakhede en verdorwenhede van die Ooste en die Weste het in die smeltpot van die stad bymekaargekom en vermeng geraak. Gevolglik het Korinte sedelik verdorwe en skaamteloos gemaksugtig geword—die onsedelikste en losbandigste stad in eertydse Griekeland. Om soos die Korintiërs te lewe, het sinoniem geword met ’n losbandige en onsedelike lewenswyse.

So ’n materialistiese en onsedelike atmosfeer het die geestelike welsyn van Christene bedreig. Jesus se volgelinge in Korinte moes gemaan word om ’n aanneemlike posisie voor God te behou. Paulus het tereg gierigheid, afpersing en sedelike onreinheid ten sterkste veroordeel in sy briewe aan die Korintiërs. Wanneer ’n mens hierdie geïnspireerde briewe lees, kan jy sien teen watter verderflike invloede Christene daar moes stry.—1 Korintiërs 5:9, 10; 6:9-11, 18; 2 Korintiërs 7:1.

Maar Korinte se kosmopolitisme het wel voordele gehad. Daar was gedurig nuwe idees in omloop in die stad. Die inwoners was verdraagsamer as mense in ander stede wat Paulus besoek het. “Die ooste het die weste in hierdie eertydse hawestad ontmoet”, sê een Bybelkommentator, “wat die inwoners blootgestel het aan elke denkbare nuwe idee, filosofie en godsdiens wat die wêreld gebied het.” Gevolglik is verskillende godsdienste geduld, en dit het blykbaar Paulus se predikingswerk daar makliker gemaak.

Die twee hawens van Korinte—Kenchreë en Lecheum—het bygedra tot die welvaart en roem van die stad. Hierdie hawens het ook die lewe in Korinte vir Christene ’n uitdaging gemaak. Ons hedendaagse wêreld is soortgelyk. Verderflike invloede, soos materialisme en onsedelikheid, hou ’n geestelike bedreiging vir godvresende persone in. Dit sal dus verstandig wees as ons ook die geïnspireerde vermanings wat Paulus aan die Christene in Korinte gegee het, ter harte neem.

[Venster/Prent op bladsy 27]

 DIE DIOLKOS—SKEEPVAART OP DROË GROND

Teen die einde van die sewende eeu v.G.J., toe planne om ’n kanaal te bou, misluk het, het Periandros, die heerser van Korinte, ’n vindingryke manier ontwerp waarop skepe oor die landengte kon kom. a Dit is die diolkos genoem, wat “oorsleep” beteken, en was ’n geplaveide weg met diep groewe waarin houtstawe gelê is wat met vet gesmeer is. Goedere is afgelaai van skepe wat in een hawe gedok het, op waens gesit en deur slawe met die geplaveide weg langs na die ander kant gesleep. Kleiner skepe is ook oorgesleep, soms met vrag en al.

[Voetnoot]

a Vir verdere inligting oor die geskiedenis van die konstruksie van die hedendaagse kanaal, sien “Die verhaal van Korinte se kanaal” in die Ontwaak! van 22 April 1985, bladsye 25-27.

[Kaart op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

GRIEKELAND

Golf van Korinte

Lecheum-hawe

Eertydse Korinte

Kenchreë

Landengte van Korinte

Saroniese Golf

Peloponnesos

IONIESE SEE

Kaap Malea

EGEÏESE SEE

[Prent op bladsy 25]

Vragskepe vaar vandag deur die Kanaal van Korinte

[Prent op bladsy 26]

Lecheum-hawe

[Prent op bladsy 26]

Kenchreë-hawe

[Foto-erkenning op bladsy 25]

Todd Bolen/Bible Places.com