Hoe Jesus se dood jou kan red
BYNA 2 000 jaar gelede, op die Joodse Pasga van die jaar 33 G.J., het ’n onskuldige man gesterf sodat ander kan lewe. Wie was hierdie man? Dit was Jesus van Nasaret. En wie kan by hierdie edele daad baat vind? Die hele mensdom. ’n Bekende Bybelvers som hierdie lewensreddende offerande soos volg op: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.
Hoewel baie mense hierdie teks ken, verstaan min wat dit werklik beteken. Hulle wonder: ‘Waarom het ons Christus se offerande nodig? Hoe kan een man se dood die mensdom red van hulle lot, die ewige dood?’ Die Bybel voorsien duidelike en bevredigende antwoorde op hierdie vrae.
Hoe die dood oor die mensdom begin heers het
Party mense glo dat die mens geskep is om net ’n kort rukkie op die aarde te lewe, beproewinge te verduur, ’n mate van geluk te smaak en om dan te sterf en na ’n beter plek te gaan. Volgens hierdie denke is die dood deel van God se voorneme vir die mensdom. Maar die Bybel toon dat die dood mense om ’n heeltemal ander rede teister. Dit sê: ‘Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en só het die dood tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het’ (Romeine 5:12). Hierdie vers toon dat mense as gevolg van sonde sterf. Maar wie is die “een mens” deur wie die dodelike gevolge van sonde die mensdom besmet het?
The World Book Encyclopedia sê dat die meeste wetenskaplikes glo dat alle mense van een bron afkomstig is, en die Bybel identifiseer hierdie een bron duidelik—die “een mens”. In Genesis 1:27 lees ons: “God het die mens na sy beeld begin skep, na God se beeld het hy hom geskep; man en vrou het hy hulle geskep.” So toon die Bybel dat die eerste mensepaar die kroon van die almagtige God se aardse skepping was.
Die Genesisverslag verstrek verdere besonderhede oor menselewe nadat Jehovah God die eerste mens geskep het. Dit is betekenisvol dat God in hierdie hele verslag geen melding van die dood gemaak het behalwe as ’n gevolg van ongehoorsaamheid nie (Genesis 2:16, 17). Hy wou hê dat mense op ’n pragtige paradysaarde moet lewe en vir ewig gelukkig en gesond moet wees. Hy wou nie hê dat hulle die gevolge van die ouderdom en uiteindelik die dood moet ervaar nie. Hoe het die dood dan meester van die hele mensdom geword?
Genesis hoofstuk 3 vertel hoe die eerste mensepaar willens en wetens besluit het om ongehoorsaam te wees aan hulle Lewegewer, Jehovah God. Gevolglik het God die vonnis voltrek waarvan hy hulle vooraf vertel het. Hy het vir die man gesê: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Net soos God gesê het, het die twee ongehoorsame mense uiteindelik gesterf.
Die skade het egter baie verder as die eerste mensepaar gestrek. Hulle ongehoorsaamheid het die vooruitsig op volmaakte lewe wat hulle nakomelinge sou geniet het, verpletter. Jehovah het hierdie ongebore nageslag in sy voorneme ingesluit toe hy vir Adam en Eva gesê het: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit, en die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees” (Genesis 1:28). Die mensdom sou met verloop van tyd die aarde vul en ’n oneindig gelukkige lewe geniet sonder om te sterf. Maar hulle voorvader Adam—die “een mens”—het hulle as slawe van die sonde verkoop, met die dood as die onvermydelike uiteinde. Die apostel Paulus, ’n nakomeling van die eerste mens, het geskryf: “Ek is vleeslik, verkoop onder die sonde.”—Romeine 7:14.
Net soos vandale in onlangse tye kosbare kunswerke beskadig het, het Adam, deur te sondig, God se wonderlike skeppingswerk—die mens—ernstig beskadig. Adam se kinders het kinders gehad, toe kleinkinders, en so het dit voortgegaan. Elke nuwe geslag is gebore, het grootgeword, het kinders gehad en het toe gesterf. Waarom het hulle almal gesterf? Omdat hulle almal van Adam afgestam het. Die Bybel sê: “Baie [het] deur een mens se oortreding gesterf” (Romeine 5:15). Siekte, die ouderdom, ’n neiging om verkeerde dinge te doen en die dood self is jammerlike gevolge van Adam se verraad teenoor sy eie familie. Hierdie familie sluit ons almal in.
In sy brief aan die Christene in Rome het die apostel Paulus geskryf oor die ellendige toestand van onvolmaakte mense, hy inkluis, en oor die frustrerende stryd teen die gevolge van sonde. Hy het uitgeroep: “Ellendige mens wat ek is! Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan?” ’n Goeie vraag, nie waar nie? Wie sou Paulus—en alle ander wat daarna smag—uit slawerny aan sonde en die dood red? Paulus het self die antwoord verstrek: “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!” (Romeine 7:14-25). Ja, ons Skepper het voorsiening gemaak om ons deur middel van sy Seun, Jesus Christus, te red.
Jesus se rol in God se redding van die mensdom
Jesus het sy rol in die redding van die mensdom uit dodelike slawerny aan sonde beskryf. Hy het gesê dat “die Seun van die mens . . . gekom het om . . . sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Matteus 20:28, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Hoe dien Jesus se lewe as ’n losprys? Hoe strek sy dood ons tot voordeel?
Die Bybel sê dat Jesus “sonder sonde” en “afgeskeie van die sondaars” was. Jesus het regdeur sy lewe God se Wet volmaak gehoorsaam (Hebreërs 4:15; 7:26). Jesus se dood was dus nie, soos Adam s’n, die gevolg van sonde en ongehoorsaamheid nie (Esegiël 18:4). Jesus het hom gewillig aan ’n dood onderwerp wat hy nie verdien het nie, sodat hy sy Vader se wil kon uitvoer om die mensdom van sonde en die dood te red. Soos hierbo gemeld is, het Jesus gewillig gekom om “sy lewe te gee as ’n losprys”. Met ’n liefde wat in die hele mensegeskiedenis ongeëwenaard is, het Jesus gewillig ‘vir elke mens die dood gesmaak’.—Hebreërs 2:9.
Die lewe wat Jesus opgeoffer het, was ’n presiese ekwivalent van die lewe wat Adam verbeur het toe hy gesondig het. Watter doel het Jesus se dood gedien? Jehovah het hierdie offerande as “’n ooreenstemmende losprys vir almal” aanvaar (1 Timoteus 2:6). God het in werklikheid die waarde van Jesus se lewe gebruik om die mensdom uit slawerny aan sonde en die dood terug te koop, of te verlos.
Die Bybel maak herhaaldelik melding van hierdie groot liefdedaad van die mens se Skepper. Paulus het Christene daaraan herinner dat hulle “met ’n prys gekoop” is (1 Korintiërs 6:20; 7:23). Petrus het geskryf dat God nie goud of silwer nie, maar die bloed van sy Seun gebruik het om Christene te verlos van ’n lewe wat tot die dood lei (1 Petrus 1:18, 19). Met Christus se losprysoffer het Jehovah gereël om mense te red van hulle lot, die ewige dood.
Sal jy baat vind by Christus se losprys?
Die apostel Johannes het oor die verreikende voordele van Christus se losprys geskryf: “[Jesus Christus] is ’n soenoffer vir ons sondes, en tog nie net vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Johannes 2:2). Ja, Christus se losprys is beskikbaar vir die hele mensdom. Beteken dit dat almal outomaties by hierdie kosbare voorsiening sal baat vind? Nee. Dink aan die redding wat in die vorige artikel gemeld is. Die mense wat die vasgekeerde mynwerkers probeer red het, het ’n reddingshok na hulle laat afsak, maar elkeen van die vasgekeerde mans moes in daardie hok klim. Net so kan diegene wat by Christus se losprysoffer wil baat vind, nie maar net op God se seën wag nie. Hulle moet daadwerklik optree.
Watter optrede vereis God van mense? Johannes 3:36 sê vir ons: “Hy wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe; hy wat aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die gramskap van God bly op hom.” God vereis dat ons geloof in Christus se offerande moet stel. En nog iets is nodig. “Hieraan weet ons dat ons [Jesus] leer ken het, naamlik as ons sy gebooie bly bewaar” (1 Johannes 2:3). Dit is derhalwe duidelik dat dit noodsaaklik is om geloof in Christus se losprys te stel en om Christus se gebooie te gehoorsaam as ons van sonde en die dood gered wil word.
’n Belangrike manier waarop ons geloof in Jesus se losprys kan openbaar, is om waardering vir sy dood te toon deur dit te herdenk, soos hy beveel het. Voor sy dood het Jesus ’n simboliese maaltyd met sy getroue apostels ingestel, en hy het vir hulle gesê: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen” (Lukas 22:19). Jehovah se Getuies beskou hulle vriendskap met die Seun van God as baie kosbaar, en hulle gehoorsaam hierdie gebod. Die Herdenking van Jesus Christus se dood sal vanjaar op Saterdag 22 Maart, ná sononder, gehou word. Ons nooi jou hartlik uit om hierdie spesiale vergadering by te woon in gehoorsaamheid aan Jesus se gebod. Jehovah se Getuies in jou omgewing kan vir jou sê hoe laat en waar hierdie geleentheid sal plaasvind. By die Gedenkmaal sal jy meer leer oor wat jy moet doen sodat Christus se losprys jou van die dodelike gevolge van Adam se sonde kan bevry.
Min mense waardeer vandag ten volle watter groot opoffering hulle Skepper en sy Seun gemaak het om hulle van vernietiging te red. Diegene wat geloof hierin beoefen, het ’n besondere bron van vreugde. Die apostel Petrus het aangaande sy mede-Christene geskryf: “Julle [beoefen] geloof in [Jesus] en verbly julle . . . grootliks met ’n onuitspreeklike en verheerlikte vreugde, aangesien julle die einde van julle geloof ontvang, die redding van julle siel” (1 Petrus 1:8, 9). Deur liefde vir Jesus Christus aan te kweek en geloof in sy losprysoffer op te bou, kan jy jou lewe nou met vreugde vul en daarna uitsien om van sonde en die dood gered te word.