Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Josef van Arimatea neem standpunt in

Josef van Arimatea neem standpunt in

JOSEF VAN ARIMATEA het dalk gewonder waar hy die moed gekry het om met die Romeinse goewerneur te praat. Almal het geweet dat Pontius Pilatus baie hardkoppig is. Maar om Jesus ’n waardige begrafnis te gee, moes iemand Pilatus vra of hulle Jesus se liggaam kon kry. Die gesprek met Pilatus was toe makliker as wat Josef gedink het. Nadat die offisier gesê het dat Jesus dood is, het Pilatus gesê dat Josef Jesus se liggaam kan kry. Al was Josef nog baie hartseer het hy teruggegaan na die plek waar hulle Jesus doodgemaak het.—Mark. 15:42-45.

  • Wie was Josef van Arimatea?

  • Hoe het Josef Jesus geken?

  • Hoekom is Josef se verhaal vir ons belangrik?

’N LID VAN DIE SANHEDRIN

In die boek Markus word Josef “’n hooggeagte lid van die Raad” genoem. Die Raad kon net die Sanhedrin, die Joodse Hoë Raad, wees (Mark. 15:1, 43). Josef was een van die leiers van sy volk, daarom kon hy gevra het om met die Romeinse goewerneur te praat. En dit verbaas ons ook nie dat Josef ryk was nie.—Matt. 27:57.

Het jy die moed om te sê dat Jesus jou Koning is?

As ’n groep het die Sanhedrin niks van Jesus gehou nie. Hulle het beplan om Jesus dood te maak. Maar Josef word “’n goeie en regverdige man” genoem (Luk. 23:50). Josef was nie soos die ander lede van die Sanhedrin nie. Hy was eerlik en het sy bes gedoen om God se wette te gehoorsaam. Hy het ook “op die koninkryk van God gewag”, en dit kan verduidelik hoekom hy een van Jesus se dissipels geword het (Mark. 15:43; Matt. 27:57). Hy het moontlik van Jesus se boodskap gehou omdat waarheid en geregtigheid vir hom belangrik was.

’N DISSIPEL IN DIE GEHEIM

Johannes 19:38 sê dat Josef “’n dissipel van Jesus was, maar in die geheim weens sy vrees vir die Jode”. Hoekom was Josef bang vir die Jode? Hy het geweet dat die Jode Jesus gehaat het en dat hulle enigeen uit die sinagoge sou sit wat geloof in hom gestel het (Joh. 7:45-49; 9:22). As iemand uit die sinagoge gesit was, sou die Jode hom bespot het en niks met hom te doen wou hê nie. Daarom het Josef gehuiwer om te sê dat hy in Jesus glo. As hy dit gedoen het, sou hy sy posisie en aansien verloor het.

Josef was nie die enigste een wat in hierdie moeilike situasie was nie. Johannes 12:42 sê: “Nogtans het selfs baie van die heersers geloof in [Jesus] gestel, maar weens die Fariseërs het hulle hom nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie.” Nikodemus, ook ’n lid van die Sanhedrin, was in dieselfde situasie.—Joh. 3:1-10; 7:50-52.

Josef was wel ’n dissipel, maar wou dit nie in die openbaar erken nie. Dit was ’n ernstige probleem, veral as mens dink aan Jesus se woorde: “Elkeen . . . wat voor die mense eenheid met my bely, met hom sal ek ook eenheid bely voor my Vader wat in die hemele is; maar elkeen wat my voor die mense verloën, hom sal ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is” (Matt. 10:32, 33). Josef het nooit gesê dat hy Jesus nie ken nie, maar hy het ook nie die moed gehad om te sê dat hy een van Jesus se dissipels is nie. Het jy die moed om te erken dat jy ’n dissipel van Jesus is?

Die Bybel sê dat Josef nie die Sanhedrin se plan ondersteun het om Jesus dood te maak nie (Luk. 23:51). Josef was dalk nie by Jesus se verhoor nie. Wat ook al die geval was, Josef moes baie ongelukkig gewees het oor die ongeregtigheid, maar hy kon niks doen om dit te keer nie!

HY NEEM STANDPUNT IN

Ná Jesus se dood was Josef nie meer bang dat ander geweet het dat hy een van Jesus se volgelinge is nie. Markus 15:43 sê: “Hy het die moed bymekaargeskraap om na Pilatus in te gaan en het die liggaam van Jesus gevra.”

Josef het voor Pilatus geweet dat Jesus dood is, omdat hy blykbaar daar was toe Jesus gesterf het. Toe Josef gevra het vir die liggaam het Pilatus “gewonder of [Jesus] al dood is” (Mark. 15:44). As Josef gesien het hoe Jesus aan die paal gely het, het dit hom miskien gehelp om ’n standpunt vir die waarheid in te neem. Josef het besluit om iets te doen en sou nie meer ’n dissipel in die geheim wees nie.

JOSEF BEGRAWE JESUS

Volgens die Joodse wet moes dié wat ’n doodsvonnis gekry het, voor sonsondergang begrawe word (Deut. 21:22, 23). Maar die Romeine het die liggame van misdadigers wat tereggestel is aan die paal gelos of in ’n gemeenskaplike graf gegooi. Josef wou nie hê dat dit met Jesus moes gebeur nie. Josef het ’n nuwe graf gehad wat hy in die rots uitgekap het wat naby die plek was waar hulle Jesus doodgemaak het. Josef het moontlik kort tevore van Arimatea * na Jerusalem getrek en hierdie familiegraf uitgekap, en daarom is niemand nog ooit in hierdie graf begrawe nie (Luk. 23:53; Joh. 19:41). Josef het ’n baie goeie daad gedoen toe hy Jesus in sy familiegraf begrawe het. Dit het ook die profesie vervul dat die Messias by die rykes begrawe sou word.—Jes. 53:5, 8, 9.

Is daar enigiets wat belangriker is as jou verhouding met Jehovah?

Al vier Evangelies sê dat Josef Jesus se liggaam in fyn linne toegedraai het en hom in sy graf begrawe het (Matt. 27:59-61; Mark. 15:46, 47; Luk. 23:53, 55; Joh. 19:38-40). Nikodemus is die enigste ander persoon wat in die Bybel genoem word wat Josef gehelp het. Hy het speserye vir Jesus se begrafnis gebring. Omdat hulle leiers van die volk was, het ander hulle moontlik gehelp om die liggaam na die graf toe te vat. Hulle knegte het heel moontlik die liggaam gedra en begrawe. Al het hulle nie self die liggaam begrawe nie, was dit nogtans ’n moeilike taak. As iemand aan ’n lyk geraak het, sou hy sewe dae lank onrein wees en alles waaraan hy sou raak, sou ook onrein wees (Num. 19:11; Hag. 2:13). As dit gebeur het, moes hulle van ander mense af wegbly en kon hulle nie aan die Pasgaviering deelneem nie (Num. 9:6). Lede van die Sanhedrin kon Josef dalk gespot het omdat hy Jesus se begrafnis gereël het. Maar nou was Josef bereid om sy standpunt in te neem. Hy het Jesus begrawe en gewys dat hy een van Christus se dissipels is, maak nie saak wat die mense sou sê nie.

DIE EINDE VAN JOSEF SE VERHAAL

Hierna sê die Bybel niks verder oor Josef van Arimatea nie. Wat het dan van hom geword? Ons weet nie. Maar ons het goeie rede om te dink dat hy vir almal gesê het dat hy ’n Christen is. Toe hy in hierdie moeilike situasie was, het sy geloof en moed sterker geword.

Watter les leer ons uit hierdie verhaal? Niks in ons lewe moet belangriker wees as ons verhouding met Jehovah nie—nie ons posisie, werk, besittings, familie of selfs ons vryheid nie.

^ par. 18 Arimatea is waarskynlik Rama, die stad wat vandag Rentis genoem word. Dit is waar die profeet Samuel gebly het, 35 kilometer noordwes van Jerusalem.—1 Sam. 1:19, 20.