Vrae van lesers
Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Ek het nie gekom om vrede te bring nie”?
Jesus het mense geleer om in vrede met mekaar te lewe. Maar hy het eenkeer vir sy dissipels gesê: “Moenie dink dat ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar ’n swaard. Want ek het gekom om verdeeldheid te veroorsaak: ’n man teen sy pa, en ’n dogter teen haar ma, en ’n skoondogter teen haar skoonma” (Matt. 10:34, 35). Wat het Jesus bedoel?
Jesus wou nie familielede van mekaar skei nie, maar hy het geweet dat sy leringe in party families verdeeldheid sou veroorsaak. Daarom moet dié wat dissipels van Christus wil word en gedoop wil word, weet wat die gevolge van hulle besluit is. As ’n ongelowige huweliksmaat of ander in die familie hulle teëstaan, kan dit vir hulle moeilik wees om getrou aan Christus se leringe te bly.
Die Bybel moedig Christene aan om “in vrede met alle mense te lewe” (Rom. 12:18). Maar Jesus se leringe kan in sommige families soos “’n swaard” word. Dit gebeur wanneer ’n familielid Jesus se leringe aanvaar terwyl ander dit verwerp of teëstaan. In so ’n geval word die familielede “vyande” van die een wat die waarheid leer. – Matt. 10:36.
Christus se dissipels wat in ’n godsdienstig verdeelde huis bly, gaan soms deur situasies wat hulle liefde vir Jehovah en Jesus toets. Byvoorbeeld, ongelowige familielede sal dalk druk op hulle plaas om ’n godsdienstige vakansiedag te vier. Vir wie sal hulle tevrede stel as dit gebeur? Jesus het gesê: “Enigiemand wat meer geheg is aan sy pa of sy ma as aan my, verdien nie om my dissipel te wees nie” (Matt. 10:37). Jesus het natuurlik nie gesê dat dié wat die waarheid leer, moet ophou om vir hulle ouers lief te wees as hulle sy dissipels wil wees nie. Maar hy het hulle eerder geleer hoe om te besluit wat die belangrikste dinge in hulle lewe is. As ongelowige familielede ons aanbidding van Jehovah teëstaan, is ons nog steeds lief vir hulle, maar ons besef dat ons liefde vir God eerste kom.
Dit kan beslis baie moeilik wees wanneer familielede ons teëstaan. Maar Jesus se dissipels moet sy woorde onthou: “Enigiemand wat nie sy folterpaal aanvaar en my volg nie, verdien nie om my dissipel te wees nie” (Matt. 10:38). Christene sien familieteenstand as deel van die probleme wat Christus se dissipels bereid is om te verduur. Maar hulle hoop dat hulle goeie gedrag hulle familielede sal motiveer om te verander en om meer oor die Bybel se boodskap te wil leer. – 1 Pet. 3:1, 2.