Beskerm jou verstand
JY IS die teiken! En jou grootste vyand, Satan, gebruik ’n baie gevaarlike wapen. Wat is dit? Propaganda! Dit is ’n wapen wat ontwerp is om jou verstand aan te val.
Die apostel Paulus het geweet hoe gevaarlik sataniese propaganda is, maar nie alle Christene was so bewus van die gevaar nie. Dit lyk of party Christene in Korinte selfversekerd was. Hulle het gedink dat hulle geloof so sterk was dat hulle nooit sou val nie (1 Kor. 10:12). Paulus het hulle gewaarsku: “Ek is bang dat, soos die slang Eva deur sy listigheid verlei het, julle verstande op die een of ander wyse verderf sal word, weg van die opregtheid en die kuisheid wat die Christus toekom.”—2 Kor. 11:3.
Paulus se besorgdheid oor sy broers toon dat ons nie oorgerus kan wees nie. As jy hierdie stryd teen Satan se propaganda wil wen, moet jy besef hoe gevaarlik die propaganda is en jou daarteen beskerm.
PROPAGANDA—HOE GEVAARLIK IS DIT?
Wat is propaganda? Dit is inligting wat verdraai is om mense te mislei of om die manier waarop hulle dink en dinge doen te verander. Volgens die boek Propaganda and Persuasion, is propaganda “oneties, skadelik en onregverdig”. Dit word beskryf as leuens, verdraaiing, bedrog, manipulasie en pogings om mense se verstande te beheer.
Propaganda is baie gevaarlik, want dit kan ons denke geleidelik beïnvloed sonder dat ons dit eers agterkom. Dit is soos ’n giftige gas was ons nie kan sien of ruik nie.
Vance Packard, ’n kenner van mensegedrag, het gesê dat propaganda ’n “baie groter invloed op ons het as wat ons besef”. ’n Ander kenner sê dat propaganda gelei het tot volksmoord, oorlog en rassehaat.—Easily Led—A History of Propaganda.As mense ons om die bos kan lei, wat kan Satan nie aan ons doen nie? Hy bestudeer mense se gedrag al van die begin af. Maar “die hele wêreld” lê nou in sy mag en hy kan enige deel van sy wêreld gebruik om sy leuens te vertel (1 Joh. 5:19; Joh. 8:44). Satan het dit reggekry om die verstande van mense op die hele bewoonde aarde te verblind (2 Kor. 4:4; Op. 12:9). Hoe kan ons hierdie propaganda weerstaan?
MOENIE MISLEI WORD NIE
Jesus het ons geleer hoe om propaganda teë te staan: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:31, 32). ’n Soldaat moet weet waar om betroubare inligting te kry, want hy weet dat die vyand hom met leuens gaan probeer mislei. Jehovah gee vir ons hierdie betroubare inligting. Die Bybel het alles wat jy nodig het om Satan se propaganda teë te staan.—2 Tim. 3:16, 17.
Maar Satan weet dit ook. Hy gebruik sy wêreld om ons aandag af te lei sodat ons nie tyd het om die Bybel te lees en te studeer nie. Moenie dat hy jou met hierdie slap riem vang nie! (Ef. 6:11). Ons moet die waarheid goed verstaan en dit is nie maklik nie (Ef. 3:18). Noam Chomsky het gesê: “Niemand gaan die waarheid vir jou voer nie. Dit is iets wat jy self moet uitpluis.” Daarom moet jy self “die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek”.—Hand. 17:11.
Onthou, Satan wil nie hê dat jy oor hierdie dinge moet dink en redeneer nie. Waarom nie? Propaganda “werk die beste as mense . . . nie aangemoedig word om vir hulleself te dink nie” (Media and Society in the Twentieth Century). Moenie net alles glo wat jy hoor nie (Spr. 14:15). God het vir ons “denkvermoë” en “onderskeidingsvermoë” gegee. Gebruik dit om jou geloof te versterk.—Spr. 2:10-15; Rom. 12:1, 2.
PASOP VIR VERDEELDHEID
Soldate wat propaganda glo, sal bang word en nie meer wil veg nie. Propaganda kan veroorsaak dat hulle selfs onder mekaar begin baklei of hulle van die ander soldate begin afsonder. Volgens ’n Duitse generaal was propaganda een rede waarom Duitsland die Eerste Wêreldoorlog verloor het. Hy het gesê dit was asof hulle deur die propaganda van die vyand gehipnotiseer was. Satan probeer ook om die eenheid van Christene te ontwrig. Hy wil byvoorbeeld hê dat broers en susters onder mekaar moet stry. Satan wil ook hê dat hulle die organisasie moet verlaat. Hy laat dit lyk asof Jehovah se organisasie onregverdig is of iets verkeerds gedoen het.
Moenie mislei word nie! Laat God se Woord jou lei. Byvoorbeeld, om eenheid in die gemeente te bewaar, moedig die Bybel ons aan om “mekaar vryelik te vergewe” en om probleme gou op te los (Kol. 3:13, 14; Matt. 5:23, 24). Dit waarsku ons om ons nie van die gemeente af te sonder nie (Spr. 18:1). Maak seker dat jy gereed is om Satan se propaganda teë te staan. Vra jou af: ‘Hoe het ek die laaste keer gereageer toe iemand in die gemeente my ontstel het? Het die manier waarop ek die situasie hanteer het God of Satan bly gemaak?’—Gal. 5:16-26; Ef. 2:2, 3.
MOENIE JOU VERTROUE VERLOOR NIE
’n Soldaat wat vertroue in sy leier verloor het, sal nie goed veg nie. Propaganda kan veroorsaak dat ’n soldaat nie meer sy bevelvoerder sal vertrou nie. As die leiers ’n fout maak, sal die vyand dit teen hulle probeer gebruik en sê: “Jy kan jou leiers nie vertrou nie!” en “Hulle gaan nog jou dood veroorsaak!” Satan doen dit ook. En hy gee nooit op nie. Hy wil hê dat jy jou vertroue moet verloor in die mense wat Jehovah aangestel het om sy knegte te lei.
1 Tess. 5:12, 13). Afvalliges en ander sal die organisasie probeer aanval (Tit. 1:10). Al lyk dit of hulle die waarheid praat, moet jy ‘nie gou van jou denke afgebring’ word nie (2 Tess. 2:2). Luister na die raad van Paulus aan Timoteus: “Bly jy egter in die dinge wat jy geleer het” en onthou “by watter persone jy dit geleer het” (2 Tim. 3:14, 15). Dink aan al die redes wat ons het om die getroue slaaf te vertrou. Jehovah gebruik hulle al amper ’n honderd jaar lank om die waarheid aan ons te leer.—Matt. 24:45-47; Heb. 13:7, 17.
Hoe kan jy jouself beskerm? Wees vasbeslote om Jehovah se organisasie nooit te verlaat nie. Bly lojaal en ondersteun dié wat die leiding neem, al is hulle onvolmaak (MOENIE BANG WEES NIE
Satan gebruik ook direkte aanvalle. Hy wil hê dat ons angsbevange moet wees. Vrees is “een van die oudste vorme van propaganda” (Easily Led—A History of Propaganda). Philip M. Taylor, ’n Britse professor, het geskryf dat die Assiriërs byvoorbeeld vrees en propaganda gebruik het om hulle vyande te oorheers. Satan sal mensevrees en die vrees vir vervolging of die dood gebruik om ons sover te kry om Jehovah nie meer te dien nie.—Jes. 8:12; Jer. 42:11; Heb. 2:15.
Moenie toelaat dat Satan jou bang maak nie! Jesus het gesê: “Moenie dié vrees wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie” (Luk. 12:4). Jy moet die volste vertroue hê dat Jehovah jou sal beskerm, jou “die krag wat bo die normale is” sal gee en jou sal help om Satan se aanvalle teë te staan.—2 Kor. 4:7-9; 1 Pet. 3:14.
Soms sal jy dalk bang of swak voel. Maar hou Jehovah se aanmoedigende woorde aan Josua in gedagte: “Wees moedig en sterk. Moenie sidder of verskrik wees nie, want Jehovah jou God is met jou waar jy ook al gaan” (Jos. 1:9). As jy bang is, praat dadelik met Jehovah in gebed. Jy kan daarvan seker wees dat ‘die vrede van God ons harte en verstandelike vermoëns sal bewaak’ sodat jy die krag sal hê om Satan se propaganda teë te staan.—Fil. 4:6, 7, 13.
Onthou jy hoe die Rabsake, die boodskapper van die Assiriërs, propaganda gebruik het om God se volk bang te praat? Hy het in werklikheid gesê: ‘Niks kan julle teen die Assiriërs beskerm nie. Nie eers julle God, Jehovah, kan julle beskerm nie.’ Hy het selfs beweer dat Jehovah hulle gestuur het om die land te vernietig. Wat het Jehovah gesê? “Moenie bang wees weens die woorde wat jy gehoor het, waarmee die dienaars van die koning van Assirië my gesmaad het nie” (2 Kon. 18:22-25; 19:6). Toe het hy ’n engel gestuur wat 185 000 Assiriërs in een nag doodgemaak het.—2 Kon. 19:35.
WEES WYS—LUISTER ALTYD NA JEHOVAH
Het jy al ooit na ’n fliek gekyk waarin jy kon sien dat iemand bedrieg word? Dalk wou jy vir hulle skree: ‘Moet dit nie glo nie! Hulle lieg vir jou!’ Stel jou voor hoe die engele ook vir jou skree: “Moenie Satan se leuens glo nie!”
Moenie luister na Satan se propaganda nie (Spr. 26:24, 25). Luister na Jehovah en vertrou op hom in alles wat jy doen (Spr. 3:5-7). Luister na hom wanneer hy sê: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly” (Spr. 27:11). Dan sal jy jou verstand beskerm!