Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Levitikus 19:16 bevat die volgende opdrag: “Jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie.” Watter les leer ons daaruit, en hoe kan ons dit toepas?

Jehovah het vir die Israeliete gesê dat hulle heilig moet wees. En Jehovah het vir hulle die volgende opdrag gegee om hulle te help om heilig te wees: “Jy mag nie rondgaan en laster onder jou volk versprei nie. Jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is Jehovah.” – Lev. 19:2, 16.

Die opdrag: “Jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie”, kan uit die oorspronklike Hebreeuse teks letterlik vertaal word as: “Jy mag nie teen jou medemens se bloed opstaan nie.” Wat beteken die woorde “teen jou medemens se bloed opstaan”? ’n Joodse naslaanwerk oor die boek Levitikus sê: “Dit is moeilik om te weet wat hierdie deel van die vers beteken, want die Hebreeuse idioom [wat hier gevind word,] beteken letterlik ‘moenie staan oor, by, naby . . . nie.’”

Party geleerdes koppel daardie opdrag aan die vorige vers, wat sê: “Jy mag nie onregverdig wees wanneer jy oordeel nie. Jy mag nie die armes begunstig of die rykes voortrek nie. Met geregtigheid moet jy jou medemens oordeel” (Lev. 19:15). As die opdrag in vers 16 aan vers 15 gekoppel moet word, dan kon die opdrag beteken dat die Israeliete nie onregverdig of oneerlik moes wees wanneer dit kom by hofsake, besigheidstransaksies, familiesake of enige iets anders nie. Maar alhoewel daardie dinge beslis verkeerd is, is daar ’n logieser verduideliking vir die opdrag in vers 16.

Kyk na die eerste deel van daardie vers. God het sy volk beveel om nie te laster nie. Hou in gedagte dat laster baie erger is as skinder, al kan skinderstories ook baie probleme veroorsaak (Spr. 10:19; Pred. 10:12-14; 1 Tim. 5:11-15; Jak. 3:6). Iemand wat laster, vertel leuens om iemand anders se reputasie te beskadig. Die lasteraar sal dalk valse getuienis teen iemand anders aflê, al stel dit daardie persoon se lewe in gevaar. Dink byvoorbeeld aan hoe lasteraars valse getuienis teen Nabot afgelê het, wat veroorsaak het dat hy onregverdig doodgemaak is (1 Kon. 21:8-13). So dít wys dat ’n lasteraar teen iemand anders se bloed, of lewe, kan opstaan, soos die tweede deel van Levitikus 19:16 sê.

En as iemand teen iemand anders laster, kan dit bewyse wees dat hy hom haat. Eerste Johannes 3:15 sê: “Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe het nie.” En nadat God gesê het: “Jy mag nie teen jou medemens se bloed opstaan nie”, het hy gesê: “Jy mag nie jou broer in jou hart haat nie.” – Lev. 19:17.

So, die interessante opdrag in Levitikus 19:16 bevat streng raad vir Christene. Ons moet ontslae raak van slegte gedagtes en nooit teen iemand anders laster nie. As ons ‘teen iemand opstaan’ deur teen hom te laster omdat ons jaloers is of nie van hom hou nie, kan dit bewyse wees dat ons hom haat. En Christene moet beslis seker maak dat hulle ander nie haat nie. – Matt. 12:36, 37.