Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het Jakob ’n voorvader van die Messias geword omdat hy die eersgeboortereg by Esau gekoop het?

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Het die geslagslyn wat tot die Messias gelei het in eertydse Israel, altyd verband gehou met die eersgeboortereg?

Wat ons in die verlede geskryf het, het ons dalk hierdie idee gegee. Dit het gelyk of Hebreërs 12:16 dit bevestig. Daardie vers sê dat Esau “heilige dinge nie waardeer [het] nie” en dat hy “in ruil vir een maaltyd sy regte [aan Jakob] as eersgeborene weggegee het”. Dit het gelyk of hierdie vers voorstel dat toe Jakob die “regte as eersgeborene” gekry het, hy ook ’n voorvader van die Messias geword het.—Matt. 1:2, 16; Luk. 3:23, 34.

Maar as ons weer na verslae in die Bybel kyk, wys dit dat dit nie vir ’n man nodig was om die eersgeborene te wees om ’n voorvader van die Messias te wees nie. Kom ons kyk na ’n paar bewyse:

Jakob (Israel) se eerste seun by Lea, was Ruben. En Jakob se eerste seun by sy vrou wat hy die liefste gehad het, Ragel, was Josef. Toe Ruben ’n baie slegte ding gedoen het, het Josef die reg van die eersgeborene gekry (Gen. 29:31-35; 30:22-25; 35:22-26; 49:22-26; 1 Kron. 5:1, 2). Maar nie Ruben of Josef was deel van die Messias se geslagslyn nie. Dit was eerder deur Juda, Jakob se vierde seun by Lea.—Gen. 49:10.

Lukas 3:32 noem nog vyf persone in die geslagslyn van die Messias. Al vyf hierdie manne was moontlik eersgeborenes. Boas was Obed se pa, en Obed se seun was Isai.—Rut 4:17, 20-22; 1 Kron. 2:10-12.

Maar Isai se seun Dawid was nie die eersgeborene nie. Hy was die jongste van agt seuns. En tog was Dawid deel van die geslagslyn van die Messias (1 Sam. 16:10, 11; 17:12; Matt. 1:5, 6). Salomo was ook deel van die geslagslyn, al was hy nie Dawid se eersgeborene nie.—2 Sam. 3:2-5.

Dit beteken nie dat die eersgeborene nie belangrik was nie. Die eersgeborene het ’n geëerde posisie gehad en het gewoonlik die volgende hoof van die huis geword. Hy was ook die seun wat ’n dubbele erfporsie gekry het.—Gen. 43:33; Deut. 21:17; Jos. 17:1.

Maar die reg van die oudste seun kon oorgedra word. Abraham het Ismael se eersgeboortereg vir Isak gegee (Gen. 21:14-21; 22:2). En soos vroeër genoem is, is Ruben se eersgeboortereg vir Josef gegee.

Maar kom ons gaan terug na Hebreërs 12:16 wat sê: “[Julle moet toesien] dat daar geen hoereerder is of enigeen wat heilige dinge nie waardeer nie, soos Esau, wat in ruil vir een maaltyd sy regte as eersgeborene weggegee het.” Wat is die punt van hierdie vers? Hoekom het Paulus hierdie woorde gesê?

Die apostel Paulus het nie die Messias se geslagslyn bespreek nie. Hy het die Christene kort tevore aangespoor om ‘reguit paaie vir hulle voete te maak’. Dit sou hulle help om nie ‘van die onverdiende goedhartigheid van God beroof te word nie’. Dit kon gebeur het as hulle seksuele sonde gepleeg het (Heb. 12:12-16). As hulle dit sou doen, sou hulle soos Esau wees. Hy het “heilige dinge nie waardeer nie” en eerder sy vleeslike begeertes bevredig.

Esau het in ’n tyd gelewe toe hy moontlik die voorreg gehad het om offerandes te maak (Gen. 8:20, 21; 12:7, 8; Job 1:4, 5). Omdat Esau net aan sy vleeslike begeertes gedink het, het hy sulke voorregte weggegee vir ’n lensiegereg. Dalk wou hy die lyding vermy het wat vir Abraham se nageslag voorspel is (Gen. 15:13). Esau het ook gewys dat hy geneig was om nie geestelike dinge te waardeer nie deur met twee heidense vrouens te trou. Dit het sy ouers baie hartseer gemaak (Gen. 26:34, 35). Jakob was heeltemal anders. Hy het seker gemaak dat hy met ’n aanbidder van die ware God trou!—Gen. 28:6, 7; 29:10-12, 18.

Wat het ons uit die geslagslyn van die Messias geleer? Partykeer was die eersgeborene deel van die geslagslyn, maar nie altyd nie. Die Jode het dit erken en aanvaar, net soos hulle aanvaar het dat die Christus deur Dawid, Isai se jongste seun, sou kom.—Matt. 22:42.