Het jy geweet?
Wat moes ’n persoon in eertydse tye doen as hy per skip wou reis?
IN PAULUS se dag was daar oor die algemeen nie skepe wat net passasiers vervoer het nie. Iemand wat per skip wou reis, moes gewoonlik ander vra of hulle geweet het van ’n handelskip (vragskip) wat in die regte rigting op pad was en wat bereid was om passasiers te vervoer (Hand. 21:2, 3). Selfs al was die skip nie op pad na die presiese plek waarheen hy wou gaan nie, kon hy nog steeds by verskillende hawens op die uitkyk wees na ’n ander skip wat hom nader aan sy bestemming sou bring. – Hand. 27:1-6.
Die meeste skepe het net sekere tye van die jaar gevaar en het nie altyd by ’n vasgestelde rooster gebly nie. Seemanne het soms hulle reis uitgestel, nie net as gevolg van slegte weer nie, maar ook omdat party van hulle bygelowig was. Byvoorbeeld, hulle het dalk iets gesien wat hulle as ’n slegte teken beskou, soos ’n raaf wat op die touwerk sit en kras of ’n skeepswrak op die strand. Seemanne het gebruik gemaak van gunstige winde, en daarom het hulle vertrek wanneer die winde reg was. As ’n persoon ’n skip gevind het wat hom aan boord sou neem, het hy met sy bagasie by die hawe gaan wag vir die aankondiging dat die skip binnekort sou vertrek.
Die geskiedkundige Lionel Casson verduidelik dat Rome ’n gerieflike diens aangebied het wat mense die moeite gespaar het om op en af langs die waterfront te loop op soek na ’n skip. Rome se hawe was aan die mond van die Tiberrivier. In die nabygeleë dorpie Ostia was daar ’n groot plein wat deur kantore omring is. Baie van hierdie kantore het aan verskepers behoort wat verskillende seehawens verteenwoordig het. Byvoorbeeld, die verskepers van Narbonne (in hedendaagse Frankryk) en van Kartago (in hedendaagse Tunisië) het elkeen ’n kantoor gehad. Enigiemand wat êrens heen wou reis, kon eenvoudig na die kantore gaan van die stede wat op sy roete was.
Dit was vinniger om per skip te reis, maar daar was ook risiko’s. Paulus het meer as een keer tydens sy sendingreise skipbreuk gely. – 2 Kor. 11:25.