Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Wêreldwye verstandelike gesondheidskrisis

’n Wêreldwye verstandelike gesondheidskrisis

“Ek voel altyd ’n bietjie angstig, selfs al sit ek net alleen in ’n kamer.”

“Wanneer ek baie goed voel, raak ek bekommerd. Ek weet uit ondervinding dat wanneer ek baie gelukkig voel, ek kort daarna baie hartseer sal voel.”

“Ek probeer om een dag op ’n slag te vat, maar soms val ’n hele paar dae my op een slag aan.”

Voel jy dalk soos hierdie mense wat sukkel met hulle verstandelike gesondheid? Gaan jy – of iemand vir wie jy omgee – deur ’n soortgelyke probleem?

Wees verseker: Jy is nie alleen nie. Verstandelike gesondheidsprobleme affekteer baie mense vandag, of dit nou hulle eie is of dié van hulle geliefdes.

Ons lewe beslis in “swaar tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, en dit veroorsaak baie vorme van angstigheid (2 Timoteus 3:1). Volgens een studie sukkel omtrent een uit agt mense wêreldwyd met ’n verstandelike gesondheidsiekte. In 2020 het die COVID-19-pandemie veroorsaak dat omtrent 26 persent meer mense aan angstigheid ly as in 2019 en dat omtrent 28 persent meer mense aan ernstige depressie ly as in 2019.

Maar ons verstandelike gesondheid hang nie van statistieke af nie. Dit gaan oor hoe jy en jou geliefdes voel en hoe julle julle lewens lei.

Wat is verstandelike gesondheid?

Wanneer jy goeie verstandelike gesondheid het, voel jy gewoonlik goed en kan jy goed funksioneer. Jy kan daaglikse stres hanteer, produktief werk en tevrede voel met die lewe.

’n Verstandelike siekte . . . 

  • IS NIE die resultaat van persoonlike swakhede nie.

  • IS ’n mediese toestand wat baie angstigheid veroorsaak en ’n negatiewe uitwerking het op ’n persoon se denke, die manier waarop hy sy emosies beheer en sy gedrag.

  • Kan dit dikwels vir ’n persoon moeilik maak om verhoudings met ander te hê en om die daaglikse uitdagings van die lewe te hanteer.

  • Kan ’n uitwerking hê op mense, maak nie saak wat hulle ouderdom, kultuur, ras, stam, godsdiens of opvoedkundige agtergrond is nie of hoeveel geld hulle verdien nie.

Hulp vir verstandelike gesondheidsprobleme

Partykeer is daar skielik ’n groot verandering in ’n persoon se persoonlikheid, sy slaap of eetgewoontes verander of hy is oor ’n lang tydperk angstig of hartseer. As dit gebeur, het hy dalk professionele hulp nodig om die oorsaak van die probleem te help identifiseer en te behandel. Maar waar kan so iemand hulp kry?

Die wysste persoon wat nog ooit gelewe het, Jesus Christus, het gesê: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie, maar mense wat siek is, het wel” (Matteus 9:12). Dié wat sukkel met gesondheidsprobleme en wat die regte mediese behandeling en medikasie ontvang, kan baie doen om hulle simptome te verminder en kan gehelp word om ’n produktiewe en betekenisvolle lewe te hê. Dit sal wys wees as sulke persone dit nie uitstel om behandeling te kry as die simptome ernstig is of oor ’n lang tydperk aanhou nie. a

Al is die Bybel nie ’n mediese handboek nie, kan dit ons help met ons verstandelike gesondheid. Ons nooi jou om na die volgende artikels te kyk wat bespreek hoe die Bybel ons kan help om verstandelike gesondheidsprobleme te hanteer.

a Die Wagtoring beveel nie enige spesifieke behandeling aan nie. Elke persoon moet die opsies mooi oorweeg voordat hy of sy ’n persoonlike besluit maak.