Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom moet ons ‘aanhou waak’?

Waarom moet ons ‘aanhou waak’?

“Julle weet nie op watter dag julle Here kom nie.” —MATT. 24:42.

LIEDERE: 136, 129

1. Verduidelik waarom dit belangrik is om bewus te wees van die tyd en van wat om ons gebeur. (Sien prent aan begin van artikel.)

VYF, vier, drie, twee, een! Wanneer die horlosie op die videoskerm by die streekbyeenkoms aandui dat die program binnekort gaan begin, gaan sit ons om te luister na die musiekopname wat gespeel sal word. Dit is tyd om stil te sit en te luister na die pragtige musiek van die Wagtoring-orkes en, nog belangriker, om ons verstand en hart voor te berei vir die toesprake wat sal volg. Maar sê nou party mense besef nie dat die program begin het nie omdat hulle nog rondloop of met vriende staan en gesels? Hulle het nie besef dat die voorsitter op die verhoog is, dat die musiek speel en die gehoor al sit nie. Ons kan ’n les hieruit leer. Ons verwag dat ’n baie belangriker gebeurtenis binnekort gaan plaasvind, en as ons nie bewus is van die tyd en van wat om ons gebeur nie, sal ons nie gereed wees daarvoor nie. Watter gebeurtenis is dit?

2. Waarom het Jesus vir sy dissipels gesê om ‘aan te hou waak’?

2 Toe Jesus Christus van “die voleinding van die stelsel van dinge” gepraat het, het hy vir sy dissipels gesê: “Bly op die uitkyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie.” Daarna het Jesus herhaaldelik gesê: “Hou aan waak.” (Matt. 24:3; lees Markus 13:32-37.) Matteus se verslag van dieselfde bespreking toon ook dat Jesus sy volgelinge gewaarsku het om waaksaam te bly: “Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie. . . . Julle [moet] gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.” Hy het weer gesê: “Hou dus aan waak, want julle weet nie die dag en ook nie die uur nie.”—Matt. 24:42-44; 25:13.

3. Waarom slaan ons ag op Jesus se waarskuwing?

3 Ons as Jehovah se Getuies neem Jesus se waarskuwing ernstig op. Ons weet dat ons diep in “die tyd van die einde” lewe en dat daar nie baie tyd oor kan wees voor die “groot verdrukking” begin nie! (Dan. 12:4; Matt. 24:21). Ons sien verskriklike oorloë, al hoe meer onsedelikheid en wetteloosheid, godsdiensverwarring, voedseltekorte, pessiektes en aardbewings regoor die wêreld. Ons weet dat Jehovah se volk die Koninkrykspredikingswerk in alle wêrelddele doen (Matt. 24:7, 11, 12, 14; Luk. 21:11). Ons sien gretig uit na Jesus se koms en na die vervulling van God se voorneme.—Mark. 13:26, 27.

DIE DAG KOM NADER

4. (a) Waarom kan ons glo dat Jesus nou weet wanneer Armageddon sal plaasvind? (b) Waarvan kan ons seker wees, al weet ons nie wanneer die groot verdrukking sal begin nie?

4 Ons weet dat elke byeenkomssessie op ’n spesifieke tyd begin. Maar dit is onmoontlik vir ons om te weet in watter jaar, wat nog te sê watter dag of uur, die groot verdrukking sal begin. Toe Jesus op aarde was, het hy gesê: “Van daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader” (Matt. 24:36). Maar Christus het in die hemel mag ontvang om teen Satan se wêreld oorlog te voer (Op. 19:11-16). Dit is dus redelik om tot die slotsom te kom dat Jesus nou weet wanneer Armageddon sal plaasvind. Maar ons weet nie wanneer dit sal plaasvind nie. Dit is dus noodsaaklik dat ons waaksaam bly totdat die verdrukking uitbreek. Maar Jehovah het nog altyd geweet wanneer dit gaan begin. Hy het besluit presies wanneer die einde sal kom. Hy tel die tyd af voor die groot verdrukking sal begin, en “dit sal nie laat wees nie”! (Lees Habakuk 2:1-3.) Hoe kan ons hiervan seker wees?

5. Gee ’n voorbeeld wat toon dat Jehovah se profesieë altyd presies op tyd vervul word.

5 Jehovah se profesieë is nog altyd presies op tyd vervul! Dink aan hoe hy die Israeliete op presies die regte tyd uit Egipte verlos het. Toe Moses gesê het: “Aan die einde van die vierhonderd-en-dertig jaar, ja, op daardie selfde dag, het al die leërs van Jehovah uit Egipteland uitgetrek”, het hy na 14 Nisan 1513 VHJ verwys (Eks. 12:40-42). Hierdie “vierhonderd-en-dertig jaar” het begin toe Jehovah se verbond met Abraham in 1943 VHJ in werking getree het (Gal. 3:17, 18). ’n Ruk later het Jehovah vir Abraham gesê: “Jy kan vir seker weet dat jou saad ’n inwonende vreemdeling sal word in ’n land wat nie hulle s’n is nie, en hulle sal hulle moet dien, en dié sal hulle beslis vierhonderd jaar lank verdruk” (Gen. 15:13; Hand. 7:6). Hierdie “vierhonderd jaar” het blykbaar in 1913 VHJ begin toe Ismael Isak gespot het toe hy gespeen is, en dit het in 1513 VHJ geëindig toe die Israeliete uit Egipte getrek het (Gen. 21:8-10; Gal. 4:22-29). Ja, Jehovah het vier eeue vooruit die presiese tyd vasgestel waarop hy sy volk sou verlos!

6. Waarom kan ons seker wees dat Jehovah sy volk sal red?

6 Josua, wat onder diegene was wat uit Egipte verlos is, het die Israeliete herinner: “Julle weet goed met julle hele hart en met julle hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie. Alles is vir julle bewaarheid. Nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie” (Jos. 23:2, 14). Ons kan seker wees dat Jehovah se belofte om ons deur die groot verdrukking heen behoue te laat bly, ook bewaarheid sal word. Maar as ons die vernietiging van hierdie stelsel wil oorleef, moet ons aanhou waak.

HOU AAN WAAK OM TE OORLEEF

7, 8. (a) Wat was die rol van ’n wag in die ou tyd, en wat leer ons hieruit? (b) Gee ’n voorbeeld van wat kan gebeur as wagte op hulle pos aan die slaap raak.

7 Ons kan ’n les leer uit hoe stede in die ou tyd bewaak is. Baie van die groot stede—soos Jerusalem—was omring deur hoë mure. Die mure het beskerming teen invallers gebied en het ook hoë uitkykpunte gehad van waar wagte die omgewing kon dophou. Wagte het dag en nag op die mure en by die poorte gestaan. Hulle moes die inwoners van die stad teen enige gevare waarsku (Jes. 62:6). Mense se lewens het daarvan afgehang dat die wagte wakker en waaksaam bly.—Eseg. 33:6.

8 Die Joodse geskiedskrywer Josefus vertel dat die Romeinse leër in 70 HJ die Toring van Antonia, wat langs die stadsmuur van Jerusalem was, ingeneem het omdat die wagte by die poorte aan die slaap geraak het! Van daar af het die Romeine die tempel bestorm en dit aan die brand gesteek, en dit het gelei tot die klimaks van die grootste verdrukking wat Jerusalem en die Joodse nasie ooit ondervind het.

9. Waarvan is die meeste mense vandag nie bewus nie?

9 Vandag het die meeste nasies “wagte” in die vorm van soldate wat hulle grense patrolleer en sekuriteitstelsels wat die jongste tegnologie gebruik. Hulle is op die uitkyk vir indringers en vyande wat die land se veiligheid in gevaar kan stel. Maar hierdie “wagte” kan net gevare sien wat mense of menseregerings vir hulle land inhou. Hulle besef nie dat God ’n hemelse Koninkryksregering het wat deur Christus regeer word en wat binnekort teen al die nasies gaan optree nie (Jes. 9:6, 7; 56:10; Dan. 2:44). Maar as ons geestelik wakker en waaksaam is, sal ons gereed wees wanneer daardie dag van oordeel kom.—Ps. 130:6.

WAAK TEEN AFLEIDINGS

10, 11. (a) Waarvoor moet ons versigtig wees, en waarom? (b) Wat oortuig jou dat die Duiwel mense beïnvloed het om Bybelprofesieë te ignoreer?

10 Dink aan ’n wag wat al die hele nag op sy pos is. Die moeilikste tyd vir hom om wakker te bly, is net voor die einde van sy skof. Hoe nader ons aan die einde van hierdie stelsel van dinge kom, hoe moeiliker raak dit ook vir ons om wakker te bly. Hoe tragies sal dit tog wees as ons nie aanhou waak nie! Kom ons kyk na drie dinge wat kan veroorsaak dat ons nie waaksaam bly nie.

11 Die Duiwel mislei mense. Kort voor sy dood het Jesus sy dissipels drie keer teen “die heerser van hierdie wêreld” gewaarsku (Joh. 12:31; 14:30; 16:11). Jesus het geweet dat die Duiwel mense verstandelik in die duister sal hou sodat hulle nie ag slaan op Bybelprofesieë wat duidelik toon dat die einde baie naby is nie (Sef. 1:14). Satan gebruik die wêreldryk van valse godsdiens om mense se verstande te verblind. Wat het jy al agtergekom wanneer jy met ander gesels? Het die Duiwel nie reeds “die verstande van die ongelowiges verblind” sodat hulle nie besef dat die einde van hierdie stelsel van dinge naby is en dat Christus reeds die Heerser van God se Koninkryk is nie? (2 Kor. 4:3-6). Hoe dikwels hoor jy mense sê: “Ek stel nie belang nie”? Die meeste mense toon min belangstelling wanneer ons vir hulle probeer sê wat met die wêreld gaan gebeur.

12. Waarom moet ons nie toelaat dat die Duiwel ons mislei nie?

12 Moenie toelaat dat ander se gesindheid jou ontmoedig sodat jy nie aanhou waak nie. Jy weet beter. Paulus het aan medegelowiges geskryf: “Julle weet self heel goed dat Jehovah se dag net soos ’n dief in die nag kom.” (Lees 1 Tessalonisense 5:1-6.) Jesus het ons gewaarsku: “Julle moet julle gereed hou, want die Seun van die mens kom op ’n uur wat julle dit nie waarskynlik ag nie” (Luk. 12:39, 40). Satan sal binnekort die meeste mense mislei om te glo dat daar “vrede en veiligheid” is. Hy sal hulle laat dink dat alles goed gaan in die wêreld. Wat van ons? As ons nie wil hê dat daardie dag van oordeel ons moet “oorval soos vir diewe nie”, moet ons “wakker en nugter van verstand bly”. Daarom moet ons God se Woord elke dag lees en nadink oor wat Jehovah vir ons sê.

13. Hoe word mense deur die gees van die wêreld beïnvloed, en hoe kan ons hierdie gevaarlike invloed vermy?

13 Die gees van die wêreld veroorsaak dat mense geestelik aan die slaap raak. Baie mense is so besig met alledaagse dinge dat hulle nie “bewus is van hulle geestelike behoefte” nie (Matt. 5:3). Hulle is behep met die materiële dinge van die wêreld omdat hulle “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë” probeer bevredig (1 Joh. 2:16). Ook word die keuse van vermaak wat die wêreld bied, elke jaar al hoe groter, en dit beïnvloed mense om genot lief te hê (2 Tim. 3:4). Daarom het Paulus vir Christene gesê dat hulle nie moet “vooruitbeplan vir die begeertes van die vlees”, wat veroorsaak dat mense geestelik aan die slaap raak nie.—Rom. 13:11-14.

14. Watter waarskuwing vind ons in Lukas 21:34, 35?

14 Ons wil hê dat God se gees, en nie die gees van die wêreld nie, ’n invloed op ons lewe moet hê. Jehovah gebruik sy gees om ons duidelik te laat verstaan watter gebeure voorlê (1 Kor. 2:12). [1] Maar ons besef dat dit baie maklik is om geestelik aan die slaap te raak—selfs gewone dinge in die lewe kan dit laat gebeur as ons toelaat dat dit die plek van ons geestelike bedrywighede inneem. (Lees Lukas 21:34, 35.) Ander spot ons dalk omdat ons aanhou waak, maar dit is geen rede om ons gevoel van dringendheid te verloor nie (2 Pet. 3:3-7). Ons moet gereeld by ons gemeentelike vergaderinge met mede-Christene assosieer, want God se gees is daar.

Doen jy alles in jou vermoë om geestelik wakker te bly? (Sien paragraaf 11-16)

15. Wat het met Petrus, Jakobus en Johannes gebeur, en hoe kan dit ook met ons gebeur?

15 Ons onvolmaakte vlees kan dit moeilik maak om waaksaam te bly. Jesus het geweet dat onvolmaakte mense geneig is om te swig voor die swakhede van die vlees. Dink aan wat die aand voor Jesus se dood gebeur het. Jesus het geweet dat hy sy hemelse Vader moet vra om hom te help om getrou te bly. Jesus het vir Petrus, Jakobus en Johannes gevra om ‘aan te hou waak’ terwyl hy bid. Maar hulle het nie besef hoe ernstig die situasie is nie. In plaas daarvan om saam met hulle Heer te waak, het hulle aan die slaap geraak. Jesus was ook moeg, maar hy het wakker gebly en intens tot sy Vader gebid. Dit is wat sy apostels ook moes gedoen het.—Mark. 14:32-41.

16. Hoe het Jesus in Lukas 21:36 gesê kan ons ‘wakker bly’?

16 As ons geestelik “wakker” wil bly, is goeie bedoelings nie genoeg nie. ’n Paar dae voor die gebeurtenis in die tuin van Getsemane het Jesus vir daardie selfde dissipels gesê om te alle tye tot Jehovah te bid. (Lees Lukas 21:36.) Om geestelik wakker te bly, moet ons dus voortdurend tot Jehovah bid.—1 Pet. 4:7.

HOU AAN WAAK

17. Hoe kan ons seker maak dat ons gereed is vir wat in die nabye toekoms gaan gebeur?

17 Aangesien Jesus gesê het dat die einde sal kom “op ’n uur waarvan [ons] dit nie dink nie”, is dit nie nou die tyd om geestelik aan die slaap te raak, om die drome en fantasieë van Satan en sy wêreld na te jaag en die begeertes van die vlees te bevredig nie (Matt. 24:44). God en Christus sê vir ons in die Bybel wat hulle in die nabye toekoms gaan doen en hoe ons kan aanhou waak. Ons moet ons geestelikheid en ons verhouding met Jehovah versterk en Koninkryksbelange eerste stel. Ons moet bewus wees van die tyd en van gebeure om ons sodat ons gereed kan wees vir wat voorlê (Op. 22:20). Ons lewe is op die spel!

^ [1] (paragraaf 14) Sien hoofstuk 21 van die boek God se Koninkryk regeer!