Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Moenie bang wees nie. Ek sal jou help”

“Moenie bang wees nie. Ek sal jou help”

STEL jou voor dat jy laat in die aand op straat loop. Skielik besef jy dat iemand jou agtervolg. Wanneer jy stop, stop die voetstappe agter jou ook. Wanneer jy vinniger loop, loop jou agtervolger ook vinniger. Jy begin hardloop na ’n vriend se huis wat daar naby is. Wanneer jou vriend die deur oopmaak en jou innooi, is jy baie verlig.

Dalk was jy nog nie in so ’n situasie nie, maar ander bekommernisse in die lewe kan jou net so angstig laat voel. Sukkel jy met ’n swakheid wat jy graag wil oorkom, maar jy hou aan om dieselfde fout te maak? Is jy al lank werkloos en sukkel jy om werk te vind al probeer jy ook hoe hard? Is jy besorg oor die feit dat jy ouer word en moontlik gesondheidsprobleme sal ondervind? Of is daar iets anders wat jou bekommer?

Watter probleem jy ook al het, jy sal dit waardeer om iemand te hê wat jy van jou bekommernisse kan vertel en wat jou die nodige hulp kan gee. Het jy so ’n goeie vriend? Ja, jy het! Jehovah is so ’n vriend vir jou, net soos hy vir die aartsvader Abraham was, soos Jesaja 41:8-13 sê. In vers 10 en 13 sê Jehovah vir sy knegte: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid. Want ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.’”

“EK SAL JOU WERKLIK STEWIG VASHOU”

Stel hierdie woorde jou nie gerus nie? Plaas jou in die prentjie wat Jehovah hier vir ons geskilder het. Hier wandel jy nie hand aan hand met Jehovah nie, al is dit ’n aangename gedagte. As julle hand aan hand sou wandel, sou sy regterhand jou linkerhand vashou. Maar Jehovah steek sy “regterhand van regverdigheid” uit en gryp “jou regterhand” vas, asof hy jou uit ’n moeilike situasie in die lewe trek. En terwyl hy dit doen, gee hy jou die versekering: “Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.”

Beskou jy Jehovah as ’n liefdevolle Vader en Vriend wat jou sal help wanneer jy angstig is? Hy stel in jou belang, is besorg oor jou welsyn en is vasbeslote om jou te help. Wanneer jy beproewinge deurmaak, wil Jehovah hê dat jy veilig moet voel, want hy is baie lief vir jou. Hy is waarlik “’n hulp wat gedurende benoudhede maklik gevind kan word”.—Ps. 46:1.

SKULDGEVOELENS OOR SONDES VAN DIE VERLEDE

Party mense bly dink aan hulle foute van die verlede en wonder of God hulle vergewe het. As dit die geval met jou is, dink aan die getroue man Job, wat erken het dat hy in sy jeug oortredings begaan het (Job 13:26). Die psalmis Dawid het ook so gevoel en Jehovah gesmeek: “Dink tog nie aan die sondes van my jeug en my opstandige dade nie” (Ps. 25:7). Omdat ons onvolmaak is, het ons almal “gesondig en skiet [ons] te kort aan die heerlikheid van God”.—Rom. 3:23.

Die boodskap in Jesaja hoofstuk 41 was oorspronklik bedoel vir God se eertydse volk. Hulle sonde was so erg dat Jehovah besluit het om oordeel aan hulle te voltrek deur hulle in ballingskap na Babilon te laat wegvoer (Jes. 39:6, 7). Maar God het terselfdertyd belowe dat hy diegene wat later berou toon en na hom toe terugkeer, sou verlos! (Jes. 41:8, 9; 49:8). Jehovah betoon vandag dieselfde barmhartigheid teenoor diegene wat opreg berouvol is en hom wil behaag.—Ps. 51:1.

Kyk na die ondervinding van Takoeja, * wat in die gewoonte gekom het om na pornografie te kyk en te masturbeer. Hy het hierdie onrein gewoontes probeer oorkom, maar het keer op keer teruggeval. Hoe het hy gevoel? “Ek het heeltemal onwaardig gevoel, maar wanneer ek Jehovah in gebed genader het om hom om vergifnis te smeek, het hy my gehelp om weer op te staan.” Hoe het Jehovah dit gedoen? Ouer manne in Takoeja se gemeente het vir hom gesê om hulle te bel wanneer hy ook al terugval. Hy erken: “Dit was nie maklik om hulle te bel nie, maar wanneer ek dit gedoen het, het dit my versterk.” Toe het die ouer manne gereël dat die kringopsiener ’n herdersbesoek op Takoeja doen. Die kringopsiener het vir hom gesê: “Ek is nie toevallig hier nie. Ek is hier omdat die ouer manne wil hê dat ek hier moet wees. Hulle wou hê dat jy hierdie herdersbesoek moet ontvang.” Takoeja vertel: “Ék was die sondaar, en tog het Jehovah, deur die ouer manne, vir my hulp aangebied.” Takoeja het sy probleem oorkom, het later ’n gewone pionier geword en dien nou by ’n takkantoor. Net soos in die geval van hierdie broer sal God jou optel as jy val.

BEKOMMERNIS OOR WERK

Werkloosheid is vir baie ’n groot bekommernis. Party verloor hulle werk en sukkel om weer werk te kry. Stel jou voor hoe jy sal voel as die een plek ná die ander nie vir jou werk het nie. Wanneer dit gebeur, verloor party mense hulle selfrespek. Hoe kan Jehovah jou help? Hy sal jou dalk nie dadelik help om geskikte werk te kry nie, maar hy kan jou help om te onthou wat koning Dawid gesê het: “Ek was eens ’n jong man, ook het ek oud geword, en tog het ek geen regverdige heeltemal verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie” (Ps. 37:25). Ja, jy is kosbaar vir Jehovah, en hy kan jou met sy “regterhand van regverdigheid” help om te kry wat jy nodig het om aan te hou om hom te dien.

Hoe kan Jehovah jou help as jy jou werk verloor?

Sara, wat in Colombia woon, het Jehovah se reddingskrag ervaar. Sy het ’n veeleisende werk by ’n goeie maatskappy gehad en het ’n goeie salaris verdien. Maar sy wou meer vir Jehovah doen, en daarom het sy haar werk gelos en begin pionier. Dit was nie vir haar maklik om ’n deeltydse werk te kry nie. Sy het ’n roomyswinkeltjie oopgemaak, maar haar geld het later opgeraak en sy moes die winkel toemaak. “Ek het drie jaar lank gesukkel, maar Jehovah het my gehelp om te volhard”, sê Sara. Sy het geleer om tussen luukshede en noodsaaklikhede te onderskei en om nie bekommerd te wees oor die volgende dag nie (Matt. 6:33, 34). Uiteindelik het haar vorige werkgewer haar gebel en haar dieselfde pos aangebied wat sy voorheen gehad het. Sy het gesê dat sy net deeltydse werk sal aanvaar en net as sy tyd kan afkry vir haar geestelike bedrywighede. Al verdien Sara nie soveel geld as voorheen nie, kan sy aanhou pionier. Sy sê dat sy heeltyd bewus was van Jehovah se liefdevolle hand.

BEKOMMERNIS OOR DIE OUDERDOM

Nog ’n groot bekommernis is die feit dat ’n mens ouer word. Party wonder of hulle ná hulle aftrede genoeg geld sal hê. Hulle is ook bekommerd dat hulle gesondheidsprobleme sal ondervind wanneer hulle ouer word. Dit was heel waarskynlik Dawid wat Jehovah gesmeek het: “Moet my nie wegwerp in die tyd van die ouderdom nie; moet my nie verlaat juis wanneer my krag ingee nie.”—Ps. 71:9, 18.

Maar wat kan knegte van Jehovah help om gerus te voel al word hulle ouer? Hulle moet aanhou om hulle geloof in God te versterk en moet vertrou dat hy in hulle behoeftes sal voorsien. As hulle natuurlik oor die jare gewoond geraak het aan sekere luukshede, sal hulle moontlik hulle lewe moet vereenvoudig en met minder tevrede moet wees. Hulle sal dalk vind dat “’n bak groente” lekker en dalk selfs beter vir hulle gesondheid kan wees as “’n vetgemaakte bul”! (Spr. 15:17). As jy Jehovah se diens eerste stel, sal hy vir jou sorg selfs wanneer jy oud is.

José en Rose saam met Tony en Wendy

Neem byvoorbeeld José en Rose, wat Jehovah al meer as 65 jaar lank as voltydse dienaars dien. Oor die jare het hulle met baie uitdagings te kampe gehad. Hulle moes na Rose se pa omsien, wat dag en nag versorging nodig gehad het. José het kanker gekry en moes ’n operasie ondergaan en chemoterapie ontvang. Het Jehovah sy regterhand na hierdie getroue egpaar uitgesteek? Ja, maar hoe? Deur middel van Tony en Wendy, ’n egpaar in die gemeente wat ’n woonstel vir hulle beskikbaar gestel het. Tony en Wendy wou dit gratis vir voltydse pioniers beskikbaar stel. Jare tevore, toe Tony nog op hoërskool was, het hy uit sy klaskamervenster gesien hoe José en Rose gereeld in die bediening uitgaan. Hulle ywer het ’n groot indruk op hom gemaak en het hulle geliefd gemaak by hom. Aangesien die bejaarde egpaar hulle hele lewe aan Jehovah se diens gewy het, het Tony en Wendy hulle in die woonstel laat bly. Hulle help José en Rose, wat nou in hulle middel-80’s is, al 15 jaar lank. José en Rose beskou die hulp van die jonger egpaar as ’n gawe van Jehovah.

God steek sy “regterhand van regverdigheid” ook na jou toe uit. Sal jy reageer deur jou hand uit te steek na die Een wat belowe: “Moenie bang wees nie. Ek sal jou help”?

^ par. 11 Van die name is verander.