Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer uit die illustrasie van die talente

Leer uit die illustrasie van die talente

“Vir een het hy vyf talente gegee, vir ’n ander twee, vir nog ’n ander een.”—MATTEUS 25:15.

1, 2. Waarom het Jesus die gelykenis van die talente vertel?

JESUS het die gelykenis van die talente vertel om sy gesalfde volgelinge te help om duidelik te verstaan wat hulle verantwoordelikheid is. Maar hierdie gelykenis is van toepassing op al Jesus se dissipels. Daarom moet ons verstaan wat hierdie gelykenis beteken, hetsy ons die hoop het om in die hemel of op die aarde te lewe.

2 Wanneer het Jesus die gelykenis vertel? Dit was toe hy vir sy dissipels ’n teken gegee het wat sou toon dat hy Koning geword het en dat die tyd van die einde begin het (Matteus 24:3). Die gelykenis van die talente is dus deel van daardie teken en word in ons tyd vervul.

3. Wat leer ons uit die gelykenisse in Matteus hoofstukke 24 en 25?

3 Toe Jesus die gelykenis van die talente vertel het, het hy drie ander gelykenisse vertel wat ook deel was van die teken van die tyd van die einde. Al hierdie gelykenisse beskryf spesifieke eienskappe wat sy volgelinge moet hê. Ons kan hierdie gelykenisse in Matteus 24:45 tot 25:46 lees. Die eerste gelykenis handel oor die getroue slaaf, die klein groepie gesalfdes wat die verantwoordelikheid het om Jehovah se volk te onderrig. Hulle moet getrou en verstandig wees. * (Sien voetnoot.) Die volgende gelykenis handel oor die tien maagde. In hierdie gelykenis het Jesus al die gesalfdes gewaarsku dat hulle voorbereid en waaksaam moet wees omdat hulle nie weet op watter dag en watter uur hy sal kom nie. * (Sien voetnoot.) Daarna het Jesus die gelykenis van die talente vertel om al die gesalfdes te help besef dat hulle hard moet werk om hulle Christelike verantwoordelikhede na te kom. Toe het Jesus die gelykenis vertel van die skape en die bokke, wat handel oor diegene wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe. Hy het beklemtoon dat hulle lojaal moet wees en alles in hulle vermoë moet doen om sy gesalfde broers te help. * (Sien voetnoot.) Hierdie artikel sal verduidelik wat die gelykenis van die talente beteken.

’N MAN GEE SY SLAWE BAIE GELD

4, 5. Na wie verwys die man in die gelykenis, en wat is ’n talent?

4 Lees Matteus 25:14-30. In die gelykenis van die talente het Jesus van ’n man gepraat wat op reis gegaan het. In ’n soortgelyke gelykenis het Jesus van ’n man gepraat wat na ’n ver land gereis het om koninklike mag te verkry (Lukas 19:12). * (Sien voetnoot.) Ons publikasies het jare lank gesê dat die man in albei gelykenisse verwys na Jesus, wat in die jaar 33 na die hemel opgevaar het. Maar Jesus het nie onmiddellik Koning geword toe hy hemel toe is nie. Hy het tot 1914 gewag, toe sy vyande “’n voetbank vir sy voete gemaak” is.—Hebreërs 10:12, 13.

5 Jesus het gesê dat die man in die gelykenis agt talente gehad het. Dit was baie geld. * (Sien voetnoot.) Voordat die man weggegaan het, het hy hierdie geld vir sy slawe gegee. Hy het gesê dat hulle dit moet gebruik om vir hom meer geld te maak. Soos daardie man, het Jesus ook iets gehad wat vir hom baie waardevol was. Wat was dit? Dit was die werk wat hy gedoen het terwyl hy op die aarde was.

“Slaan julle oë op en aanskou die lande, dat hulle wit is vir die oes”

6, 7. Waarna verwys die talente?

6 Die predikingswerk was baie belangrik vir Jesus. Baie mense het weens sy predikingswerk sy dissipels geword. (Lees Lukas 4:43.) Maar hy het geweet dat daar nog werk is om te doen en dat meer mense die goeie nuus sal aanneem. Trouens, hy het vir sy dissipels gesê: “Slaan julle oë op en aanskou die lande, dat hulle wit is vir die oes” (Johannes 4:35-38). ’n Goeie boer sal nie ’n landery wat gereed is vir die oes, net so laat staan nie. Jesus het dieselfde gesindheid gehad. Net voordat hy teruggekeer het hemel toe, het Jesus sy volgelinge beveel: “Gaan dus en maak dissipels” (Matteus 28:18-20). Sodoende het Jesus hulle ’n kosbare skat gegee, die belangrike verantwoordelikheid om te preek.—2 Korintiërs 4:7.

7 Soos die man wat sy geld vir sy slawe gegee het, het Jesus sy gesalfde volgelinge die werk gegee om dissipels te maak (Matteus 25:14). Die talente verwys dus na die verantwoordelikheid om te preek en dissipels te maak.

8. Wat het die heer verwag, al het elke slaaf ’n ander bedrag geld ontvang?

8 Jesus het gesê dat die heer vyf talente vir die eerste slaaf gegee het, twee talente vir die tweede slaaf en een talent vir die derde slaaf (Matteus 25:15). Die heer het elke slaaf ’n ander bedrag geld gegee, maar hy het verwag dat hulle almal hulle bes moet doen om meer geld vir hom te maak. Net so het Jesus van sy gesalfde volgelinge verwag om hulle bes in die predikingswerk te doen (Matteus 22:37; Kolossense 3:23). Op Pinkster in die jaar 33 het Jesus se volgelinge dissipels begin maak van mense van al die nasies. En wanneer ons die Bybelboek Handelinge lees, is dit duidelik dat hulle hard gewerk het. * (Sien voetnoot.)—Handelinge 6:7; 12:24; 19:20.

DIE SLAWE GEBRUIK DIE TALENTE IN DIE TYD VAN DIE EINDE

9. (a) Wat het die twee getroue slawe met die geld gedoen, en wat leer ons hieruit? (b) Wat moet diegene doen wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe?

9 Die eerste twee slawe, wat hulle heer se geld goed gebruik het, verwys na die getroue gesalfde broers en susters gedurende die tyd van die einde. Veral sedert 1919 doen hulle hulle bes in die predikingswerk. In die gelykenis het hierdie twee slawe elkeen ’n ander bedrag geld ontvang, maar dit beteken nie dat daar twee verskillende groepe getroue gesalfdes is nie. Albei slawe het hard gewerk en die geld verdubbel. Maar is dit net die gesalfdes wat hard moet werk in die predikings- en onderrigtingswerk? Nee. Jesus se gelykenis van die skape en die bokke leer ons dat diegene wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, sy gesalfde broers met die predikingswerk moet help en lojaal aan hulle moet wees. Hulle beskou dit as ’n eer om hulle te help. Ja, Jehovah se volk is “een kudde”, en hulle almal werk hard om te preek en dissipels te maak.—Johannes 10:16.

10. Wat is een van die bewyse dat ons in die tyd van die einde lewe?

10 Jesus verwag dat al sy volgelinge hard moet werk om meer dissipels te maak. Dit is wat sy dissipels in die eerste eeu gedoen het. Doen Jesus se volgelinge dieselfde werk in hierdie tyd van die einde, die tydperk waarin Jesus se gelykenis van die talente vervul word? Ja, nog nooit in die geskiedenis het soveel mense die goeie nuus gehoor en dissipels geword nie! Danksy die harde werk van al Jesus se volgelinge word honderdduisende mense elke jaar gedoop. En ook hulle help met die predikingswerk. Al hierdie pogings en die goeie resultate wat dit oplewer, toon duidelik dat die predikingswerk ’n belangrike deel is van die teken wat Jesus oor die tyd van die einde gegee het. Jesus is ongetwyfeld trots op sy werkers!

Jesus sal al sy dissipels beloon wat hard werk in die predikingswerk (Sien paragraaf 10)

WANNEER SAL DIE HEER KOM?

11. Hoe weet ons dat Jesus gedurende die groot verdrukking sal kom?

11 Jesus het gesê: “Ná ’n lang tyd het die heer van daardie slawe gekom en met hulle afrekening gehou” (Matteus 25:19). Die Heer, Jesus, sal dit na aan die einde van die groot verdrukking doen. Hoe weet ons dit? In sy profesie in Matteus hoofstukke 24 en 25 het Jesus baie keer gesê dat hy kom. Hy het byvoorbeeld gesê dat mense “die Seun van die mens . . . op die wolke van die hemel [sal] sien kom”. Dit verwys na die tyd gedurende die groot verdrukking wanneer Jesus mense sal oordeel. Hy het ook sy volgelinge wat in die tyd van die einde lewe, gewaarsku en gesê dat hulle waaksaam moet wees. Hy het gesê: “Julle weet nie op watter dag julle Here kom nie” en “Die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie” (Matteus 24:30, 42, 44). In die gelykenis van die talente het Jesus dus ook verwys na die tyd wanneer hy sal kom om mense te oordeel en Satan se wêreld te vernietig. *—Sien voetnoot.

12, 13. (a) Wat sê die heer vir die twee slawe, en waarom? (b) Wanneer ontvang die gesalfdes hulle finale verseëling? (Sien ook die venster “Hulle word as waardig geoordeel wanneer hulle sterf”.) (c) Watter beloning sal diegene ontvang wat die gesalfdes ondersteun het?

12 Toe die heer van sy reis af teruggekeer het, het hy gesien dat die slaaf met die vyf talente nog vyf verkry het en dat die slaaf met die twee talente nog twee verkry het. Die heer het vir elkeen van hulle gesê: “Mooi so, goeie en getroue slaaf! Jy was oor ’n paar dinge getrou. Ek sal jou oor baie dinge aanstel” (Matteus 25:21, 23). Wat sal die Heer, Jesus, doen wanneer hy in die toekoms kom?

13 Net voor die groot verdrukking sal God sy finale goedkeuring gee aan die hardwerkende gesalfdes wat dan nog op die aarde is. Dit is hulle finale verseëling (Openbaring 7:1-3). Dan, voor Armageddon, sal Jesus hulle beloon deur hulle hemel toe te neem. Maar wat van diegene wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe en wat die gesalfdes in die predikingswerk ondersteun het? Hulle sal as skape geoordeel wees. En hulle sal beloon word met lewe op die aarde onder die heerskappy van God se Koninkryk.—Matteus 25:34.

’N GODDELOSE EN TRAE SLAAF

14, 15. Het Jesus bedoel dat baie gesalfdes goddeloos en traag sou word? Verduidelik.

14 Wat van die slaaf in die gelykenis wat een talent gehad het? Hy het dit nie gebruik om meer geld vir sy heer te maak of in die bank gesit om rente te verdien nie. Hy het die geld eerder begrawe. Die heer het gesê dat die slaaf goddeloos en traag is. Hy het die talent van die goddelose slaaf af weggeneem en dit vir die eerste slaaf gegee. Toe het hy die goddelose slaaf “in die duisternis” uitgegooi, waar die slaaf wanhopig gehuil het.—Matteus 25:24-30; Lukas 19:22, 23.

15 Toe Jesus gesê het dat een van die drie slawe goddeloos en traag is, het hy nie bedoel dat ’n derde van die gesalfdes soos daardie slaaf sou wees nie. Dit is duidelik wanneer ons hierdie gelykenis met twee ander gelykenisse vergelyk. In die gelykenis van die getroue en verstandige slaaf het Jesus van ’n bose slaaf gepraat wat die ander slawe vervolg het. Jesus het nie bedoel dat diegene wat deel is van die getroue en verstandige slaaf, boos sou word nie. Hy het hierdie gesalfdes eerder gewaarsku dat hulle nie soos die bose slaaf moet word nie. Toe, in die gelykenis van die tien maagde, het Jesus van vyf dwase maagde gepraat. Hy het nie bedoel dat die helfte van die gesalfdes dwaas sou wees nie. Jesus het eerder ’n waarskuwing gegee oor wat sou gebeur as hulle nie voorbereid en waaksaam is nie. * (Sien voetnoot.) Net so het Jesus nie in die gelykenis van die talente bedoel dat baie van die gesalfdes gedurende die laaste dae goddeloos en traag sou wees nie. Hy het die gesalfdes eerder gewaarsku om nie soos ’n goddelose slaaf te word nie. Hulle moes aanhou om hard te werk in die predikingswerk.—Matteus 25:16.

Jesus het sy knegte ’n kosbare skat gegee, die belangrike verantwoordelikheid om te preek

16. (a) Watter twee lesse leer ons uit die gelykenis van die talente? (b) Hoe het hierdie artikel ons gehelp om die gelykenis van die talente te verstaan? (Sien die venster “Wat beteken die gelykenis van die talente?”)

16 Watter twee lesse leer ons uit die gelykenis van die talente? Eerstens, Jesus het sy gesalfde dissipels ’n kosbare skat gegee, die belangrike verantwoordelikheid om te preek en dissipels te maak. Tweedens, Jesus verwag dat ons almal hard moet werk in die predikingswerk. As ons getrou volhard in hierdie werk en gehoorsaam en lojaal aan Jesus bly, kan ons seker wees dat hy ons sal beloon.—Matteus 25:21, 23, 34.

^ par. 3 Die Wagtoring van 15 Julie 2013, bladsye 21-22, paragrawe 8-10, verduidelik wie die getroue en verstandige slaaf is.

^ par. 3 Die vorige artikel in hierdie tydskrif verduidelik wie die maagde is.

^ par. 3 Die gelykenis van die skape en die bokke word verduidelik in Die Wagtoring van 15 Oktober 1995, bladsye 23-28, sowel as in die volgende artikel in hierdie tydskrif.

^ par. 5 In Jesus se tyd was een talent gelykstaande aan wat ’n werker in 20 jaar sou verdien.

^ par. 8 Kort nadat die apostels gesterf het, het die afvalligheid na al die gemeentes versprei. Daar is eeue lank baie min in die predikingswerk gedoen. Maar gedurende “die oestyd”, of die tyd van die einde, sou die predikingswerk weer begin (Matteus 13:24-30, 36-43). Sien Die Wagtoring van 15 Julie 2013, bladsye 9-12.

^ par. 15 Sien paragraaf 13 van die artikel “Sal jy ‘aanhou waak’?” in hierdie tydskrif.