Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Julle “is nou God se volk”

Julle “is nou God se volk”

“Julle was eens nie ’n volk nie, maar is nou God se volk.”—1 PET. 2:10.

1, 2. Watter verandering het op Pinkster 33 HJ plaasgevind, en wie het lede van Jehovah se nuwe volk geword? (Sien die prent aan die begin van die artikel.)

PINKSTER 33 HJ is ’n mylpaal in die geskiedenis van Jehovah se volk op aarde. ’n Drastiese verandering het plaasgevind. Op daardie dag het Jehovah, deur middel van sy gees, ’n nuwe nasie voortgebring—geestelike Israel, “die Israel van God” (Gal. 6:16). Vir die eerste keer sedert die dae van Abraham was vleeslike besnydenis nie meer vir God se volk ’n vereiste nie. Paulus het eerder aangaande elke lid van daardie nuwe nasie geskryf: “Sy besnydenis is dié van die hart deur gees.”—Rom. 2:29.

2 Die eerste lede van God se nuwe nasie was die apostels en meer as honderd ander dissipels van Christus wat in ’n bovertrek in Jerusalem bymekaargekom het (Hand. 1:12-15). Die heilige gees is op hulle uitgestort, en hulle het dus geesverwekte seuns van God geword (Rom. 8:15, 16; 2 Kor. 1:21). Dit het bewys dat die nuwe verbond in werking getree het, waarvan Christus die middelaar is en wat deur sy bloed bekragtig is. (Luk. 22:20; lees Hebreërs 9:15.) Hierdie dissipels het lede van Jehovah se nuwe nasie, sy nuwe volk, geword. Heilige gees het hulle in staat gestel om te preek in die verskillende tale van die Jode en die proseliete wat vanaf regoor die Romeinse Ryk na Jerusalem gekom het om die Joodse Fees van die Weke, of Pinkster, te vier. Hierdie mense het “die luisterryke dinge van God” wat deur die geesverwekte Christene verkondig is, in hulle eie taal gehoor en verstaan.—Hand. 2:1-11.

DIE NUWE VOLK VAN GOD

3-5. (a) Wat het Petrus op Pinksterdag vir die Jode gesê? (b) Hoe het Jehovah se nuwe nasie gedurende sy vroeë jare gegroei?

3 Jehovah het die apostel Petrus gebruik om Jode en proseliete te nooi om lede van hierdie pasgebore nasie, die Christengemeente, te word. Op Pinksterdag het Petrus moedig vir die Jode gesê dat hulle Jesus, die man wat hulle “aan ’n paal vasgemaak” het, moet aanneem, omdat “God hom Here sowel as Christus gemaak het”. Toe die skare gevra het wat hulle moet doen, het Petrus geantwoord: “Toon berou, en laat elkeen van julle in die naam van Jesus Christus gedoop word tot vergifnis van julle sondes, en julle sal die heilige gees as vrye gawe ontvang” (Hand. 2:22, 23, 36-38). Op daardie dag het sowat 3 000 mense deel geword van die nuwe nasie van geestelike Israel (Hand. 2:41). Daarna het die ywerige prediking van die apostels aangehou om vrug te dra (Hand. 6:7). Die nuwe nasie het toegeneem.

4 Later is daar ook vir die Samaritane gepreek, met groot sukses. Baie is deur die evangelis Filippus gedoop, maar hulle het nie onmiddellik die heilige gees ontvang nie. Die bestuursliggaam in Jerusalem het die apostels Petrus en Johannes na hierdie Samaritaanse bekeerlinge gestuur, en “hulle [het] hulle die hande opgelê, en hulle het heilige gees begin ontvang” (Hand. 8:5, 6, 14-17). Gevolglik het hierdie Samaritane ook geesverwekte lede van geestelike Israel geword.

Petrus het vir Kornelius en sy huisgesin getuig (Sien paragraaf 5)

5 In 36 HJ is Petrus weer eens gebruik om ander te nooi om deel van die nuwe nasie van geestelike Israel te word. Dit het gebeur toe hy vir die Romeinse hoofman Kornelius en sy familielede en vriende getuig het (Hand. 10:22, 24, 34, 35). Die Bybelverslag sê: “Terwyl Petrus nog . . . gepraat het, het die heilige gees op almal [die nie-Jode] geval wat die woord gehoor het. En die getroues wat saam met Petrus gekom het en besnedenes was, was verbaas, omdat die heilige gees as vrye gawe ook op mense van die nasies uitgestort is” (Hand. 10:44, 45). Gelowiges wat onbesnede heidene was, kon nou ook lede van die nuwe nasie van geestelike Israel word.

“’N VOLK VIR SY NAAM”

6, 7. Wat moes lede van die nuwe nasie as “’n volk vir [Jehovah se] naam” doen, en in watter mate het hulle dit gedoen?

6 By ’n vergadering van die bestuursliggaam van die eerste-eeuse Christene wat in 49 HJ gehou is, het die dissipel Jakobus gesê: “Simeon [Petrus] het breedvoerig vertel hoe God vir die eerste keer sy aandag op die nasies gerig het om uit hulle ’n volk vir sy naam te neem” (Hand. 15:14). Hierdie nuwe “volk vir [Jehovah se] naam” sou Joodse sowel as nie-Joodse gelowiges insluit (Rom. 11:25, 26a). Later het Petrus geskryf: “Julle was eens nie ’n volk nie, maar is nou God se volk.” Petrus het die doel van hierdie nuwe nasie soos volg uiteengesit: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit, sodat julle die voortreflikhede alom bekend sou maak’ van die een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het” (1 Pet. 2:9, 10). Hulle moes lof bring aan die Een wat hulle verteenwoordig het en sy naam in die openbaar bekend maak. Hulle moes moedige getuies wees van Jehovah, die Universele Soewerein.

7 Soos in die geval van vleeslike Israel, het Jehovah na die lede van geestelike Israel verwys as “die volk wat ek vir my geformeer het, sodat hulle my lof sal verkondig” (Jes. 43:21). Daardie vroeë Christene het al die valse gode wat op daardie tyd aanbid is, aan die kaak gestel en moedig verkondig dat Jehovah die een ware God is (1 Tess. 1:9). Hulle het “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” van Jehovah en van Jesus getuig.—Hand. 1:8; Kol. 1:23.

8. Watter waarskuwing het die apostel Paulus in die eerste eeu aan God se volk gegee?

8 Die apostel Paulus was nog ’n vreeslose lid van die “volk vir [Jehovah se] naam” in die eerste eeu. Toe hy voor heidense filosowe gestaan het, het hy moedig die soewereiniteit verdedig van Jehovah, “die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het, die Een wat Here van hemel en aarde is” (Hand. 17:18, 23-25). Teen die einde van sy derde sendingreis het Paulus lede van God se naamvolk gewaarsku: “Ek weet dat onderdrukkende wolwe ná my vertrek onder julle sal inkom en die kudde nie met teerheid sal behandel nie, en uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Hand. 20:29, 30). Teen die einde van die eerste eeu was daar baie afvalliges.—1 Joh. 2:18, 19.

9. Wat het ná die dood van die apostels gebeur met betrekking tot die “volk vir [Jehovah se] naam”?

9 Ná die dood van die apostels het hierdie afvalligheid gefloreer en het dit die kerke van die Christendom voortgebring. Afvallige Christene was allesbehalwe “’n volk vir [Jehovah se] naam” en het selfs God se naam uit baie van hulle Bybelvertalings uitgelaat. Hulle het heidense rituele aangeneem en het God oneer aangedoen deur hulle onskriftuurlike dogmas, hulle “heilige oorloë” en hulle onsedelike gedrag. Jehovah het dus eeue lank net ’n handjie vol getroue aanbidders op die aarde gehad, maar nie ’n georganiseerde “volk vir sy naam” nie.

DIE HERGEBOORTE VAN GOD SE VOLK

10, 11. (a) Wat het Jesus voorspel in sy gelykenis van die koring en die onkruid? (b) Hoe is Jesus se gelykenis ná 1914 vervul, en met watter gevolg?

10 In Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid het hy die geestelike duisternis voorspel wat as gevolg van die afvalligheid sou ontstaan. Hy het gesê dat die Duiwel, “terwyl die mense geslaap het”, onkruid gesaai het oor die saailand waar die Seun van die mens koringsaad gesaai het. Albei sou saam groei tot “die voleinding van die stelsel van dinge”. Jesus het verduidelik dat “die goeie saad” “die kinders van die koninkryk” verteenwoordig en dat “die onkruid” “die kinders van die bose” verteenwoordig. Gedurende die tyd van die einde sou die Seun van die mens “dié wat oes”, die engele, uitstuur om die simboliese koring van die onkruid te skei. Die kinders van die Koninkryk sou bymekaargebring word (Matt. 13:24-30, 36-43). Hoe het dit gebeur, en hoe hou dit verband met die feit dat Jehovah ’n volk op aarde het?

11 “Die voleinding van die stelsel van dinge” het in 1914 begin. Gedurende die oorlog wat daardie jaar uitgebreek het, was die paar duisend gesalfde Christene, “die kinders van die koninkryk”, in geestelike gevangenskap in Babilon die Grote. In 1919 het Jehovah hulle verlos deur ’n duidelike onderskeid te tref tussen hulle en “die onkruid”, of naamchristene. Hy het “die kinders van die koninkryk” in ’n georganiseerde volk bymekaargebring ter vervulling van Jesaja se profesie: “Sal ’n land op een dag met geboortepyne voortgebring word? Of sal ’n nasie met een slag gebore word? Want Sion het geboortepyne begin kry sowel as geboorte gegee aan haar kinders” (Jes. 66:8). Sion, Jehovah se organisasie van geesskepsele, het haar geesgesalfde kinders voortgebring en hulle in ’n nasie georganiseer.

12. Hoe het die gesalfdes getoon dat hulle vandag “’n volk vir [Jehovah se] naam” is?

12 Net soos die vroeë Christene, is die gesalfde “kinders van die koninkryk” getuies van Jehovah. (Lees Jesaja 43:1, 10, 11.) Hulle is opvallend anders as gevolg van hulle Christelike gedrag en omdat hulle die “goeie nuus van die koninkryk . . . as ’n getuienis vir al die nasies” verkondig (Matt. 24:14; Fil. 2:15). Deur dit te doen, het hulle baie mense, trouens miljoene, gehelp om ’n regverdige posisie voor Jehovah te verkry.—Lees Daniël 12:3.

“ONS SAL SAAM MET JULLE GAAN”

13, 14. Wat moet diegene wat nie deel van geestelike Israel is nie, doen om Jehovah op aanneemlike wyse te aanbid en te dien, en hoe is dit in die Bybel voorspel?

13 Ons het in die vorige artikel gesien dat uitlanders Jehovah in eertydse Israel op aanneemlike wyse kon aanbid, maar hulle moes met Jehovah se verbondsvolk assosieer (1 Kon. 8:41-43). Vandag moet diegene wat nie deel van geestelike Israel is nie, ook met “die kinders van die koninkryk”, oftewel gesalfde Getuies van Jehovah, assosieer.

14 Twee eertydse profete het voorspel dat baie mense in hierdie tyd van die einde na ware aanbidding sou stroom om Jehovah saam met sy volk te aanbid. Jesaja het voorspel: “Baie volke sal beslis heengaan en sê: ‘Kom, en laat ons opgaan na die berg van Jehovah, na die huis van die God van Jakob; en hy sal ons omtrent sy weë onderrig, en ons sal in sy paaie wandel.’ Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van Jehovah uit Jerusalem” (Jes. 2:2, 3). Die profeet Sagaria het ook voorspel dat “baie volke en magtige nasies sal kom om Jehovah van die leërs in Jerusalem te soek en om die aangesig van Jehovah te versag”. Hy het hulle uitgebeeld as “tien man uit al die tale van die nasies” wat die slip van geestelike Israel in simboliese sin sou vasgryp en sou sê: “Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”—Sag. 8:20-23.

15. In watter sin gaan die “ander skape” saam met die geestelike Israeliete?

15 Die “ander skape” ‘gaan saam met’ die geestelike Israeliete deur die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig (Mark. 13:10). Hulle word deel van God se volk en word “een kudde” met die gesalfdes, onder die leiding van “die goeie herder”, Christus Jesus.—Lees Johannes 10:14-16.

VIND BESKERMING ONDER JEHOVAH SE VOLK

16. Hoe sal Jehovah die laaste fase van die “groot verdrukking” teweegbring?

16 Ná die vernietiging van Babilon die Grote sal ’n volskaalse aanval op Jehovah se volk geloods word, en dan sal ons die beskerming nodig hê wat Jehovah aan sy knegte sal voorsien. Op sy bestemde tyd sal Jehovah sake op die aarde rig, en dit sal die aanval op sy volk tot gevolg hê. Hierdie aanval sal lei tot die finale deel van die “groot verdrukking”, oftewel Armageddon (Matt. 24:21; Eseg. 38:2-4). Op daardie tyd sal Gog ’n aanval loods teen “’n volk wat uit die nasies versamel is”, Jehovah se volk (Eseg. 38:10-12). Daardie aanval sal die teken wees dat Jehovah sy oordele teen Gog en sy menigte gaan voltrek. Jehovah sal sy soewereiniteit bevestig en sy naam heilig, want hy sê: “Ek sal my beslis . . . bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal moet weet dat ek Jehovah is.”—Eseg. 38:18-23.

Gedurende die “groot verdrukking” sal ons na aan ons plaaslike gemeente moet bly (Sien paragrawe 16-18)

17, 18. (a) Watter instruksies sal Jehovah se volk ontvang wanneer Gog hulle aanval? (b) Wat moet ons doen as ons Jehovah se beskerming wil hê?

17 Wanneer Gog die aanval loods, sal Jehovah vir sy knegte sê: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers in en sluit jou deure agter jou toe. Verberg jou vir net ’n oomblik, totdat die veroordeling verbygaan” (Jes. 26:20). Gedurende daardie kritieke tyd sal Jehovah lewensreddende instruksies aan ons gee, en die “binnekamers” hou heel moontlik verband met ons plaaslike gemeentes.

18 As ons dus gedurende die groot verdrukking by Jehovah se beskerming wil baat vind, moet ons erken dat Jehovah ’n volk op die aarde het, wat in gemeentes georganiseer is. Ons moet aanhou om ons aan hulle kant te skaar en om na aan ons plaaslike gemeente te bly. Mag ons heelhartig saamstem met die psalmis se woorde: “Redding behoort aan Jehovah. U seën rus op u volk.”—Ps. 3:8.