UIT ONS ARGIEF
Dagbreek in die Land van die Opkomende Son
OP 6 September 1926 het ’n broer wat ’n pelgrim (reisende opsiener) in die Verenigde State was, as ’n sendeling na sy geboorteland, Japan, teruggekeer. Hy is verwelkom deur die enigste intekenaar op Die Wagtoring, wat ’n Bybelstudiegroep in Kobe begin het. Op 2 Januarie 1927 het die Bybelstudente hulle eerste byeenkoms in daardie stad gehou. Die bywoningsyfer was 36, en 8 is gedoop. Dit was ’n goeie begin, maar hoe kon hierdie klein groepie die 60 miljoen mense van Japan, wat ook die lig van Bybelwaarheid moes sien, bereik?
In Mei 1927 het vindingryke Bybelstudente ’n openbare getuieniskampanje begin om ’n reeks Bybeltoesprake te adverteer. Vir die eerste toespraak, wat in Osaka gehou sou word, het die broers sypaadjieplakkate en groot advertensieborde oral in die stad geplaas en 3 000 uitnodigings aan vooraanstaande mense gestuur. Hulle het 150 000 strooibiljette uitgegee en het die toespraak in Osaka se vernaamste koerante en op 400 000 treinkaartjies geadverteer. Op die dag van die toespraak is 100 000 biljette uitgestrooi deur twee vliegtuie wat oor die stad gevlieg het. Die Asahi-saal in Osaka was propvol omdat sowat 2 300 mense na die toespraak “Die Koninkryk van God is op hande” kom luister het. Ongeveer duisend ander mense moes weggewys word. Ná die toespraak het oor die 600 mense vir ’n vraag-en-antwoord-sessie agtergebly. Gedurende die daaropvolgende maande is openbare Bybeltoesprake in Kioto en in ander stede in die weste van Japan gehou.
In Oktober 1927 het die Bybelstudente gereël dat toesprake in Tokio gehou word. Uitnodigings is weer aan sleutelfigure gestuur—insluitende die eerste minister, parlementslede en godsdiens- en militêre leiers. Plakkate, koerantadvertensies en 710 000 strooibiljette is gebruik, en altesaam 4 800 mense het die drie toesprake in Japan se hoofstad bygewoon.
YWERIGE KOLPORTEURS
Kolporteurs (pioniers) het ’n belangrike rol daarin gespeel om die Koninkryksboodskap na mense se huise te neem. Matsoehe Isjii, een van die eerste kolporteurs in Japan, en haar man, Jizo, het driekwart van die land gedek, van Sapporo in die verre noorde tot by Sendai, Tokio, Jokohama, Nagoja, Osaka, Kioto, Okajama en Tokoesjima. Suster Isjii en ’n ouer suster, Sakiko Tanaka, het formele kimono’s aangetrek toe hulle hooggeplaaste regeringsamptenare gaan besoek het. Een van hulle het 300 stelle van die boeke Die harp van God en Verlossing aangevra om dit in tronkbiblioteke te sit.
Katsoeo en Hagino Mioera het boeke by suster Isjii geneem en het gou die waarheid herken. Hulle is in 1931 gedoop en het kolporteurs geword.
Haroeitsji en Tane Jamada, en baie van hulle familielede, het die Koninkryksboodskap die een of ander tyd voor 1930 aangeneem. Die Jamadas het kolporteurwerk begin doen, en hulle dogter, Joekiko, het by die Bethel in Tokio gaan dien.“JEHU’S”—GROOT EN KLEIN
Destyds was motors baie duur en was die paaie sleg. Daarom het Kazoemi Minoera en ander jong kolporteurs woonwaens sonder enjins gebruik. Hulle het hierdie woonwaens Jehu’s genoem, na die strydwadrywer wat bekend was vir die manier waarop hy gery het en wat een van Israel se konings geword het (2 Kon. 10:15, 16). Daar was drie Groot Jehu’s wat elkeen 2,2 meter lank, 1,9 meter wyd en 1,9 meter hoog was, en elkeen kon tot ses pioniers huisves. En 11 Klein Jehu’s, wat twee mense kon huisves en deur fietse getrek is, is by die takkantoor in Japan gebou. Kiitsji Iwasaki, wat gehelp het om die Jehu’s te bou, het gesê: “Elke Jehu het ’n tent gehad, sowel as ’n motorbattery om krag vir ligte te voorsien.” Kolporteurs het die lig van die waarheid regoor Japan laat skyn terwyl hulle die Jehu’s van Hokkaido in die noorde tot by Kioesjoe in die suide deur valleie en oor berge gestoot en getrek het.
Die kolporteur Ikoematsoe Ota het gesê: “Wanneer ons in ’n dorp aangekom het, het ons ons Jehu op ’n rivieroewer of in ’n oop veld laat staan. Ons het eers die vooraanstaande mans van die dorp, soos die burgemeester, besoek, en daarna het ons huise besoek om ons lektuur aan te bied. Nadat ons die gebied gedek het, het ons na die volgende dorp gegaan.”
Dit was ’n “dag van klein dinge” toe daardie groepie van 36 Bybelstudente in Kobe hulle eerste byeenkoms gehou het (Sag. 4:10). Maar net vyf jaar later—in 1932—het 103 kolporteurs en verkondigers in Japan ’n deelname aan die predikingswerk gerapporteer, en hulle het meer as 14 000 boeke versprei. Vandag word die openbare getuieniswerk op georganiseerde wyse in Japan se stede gedoen, en byna 220 000 verkondigers laat hulle lig regoor die Land van die Opkomende Son skyn.—Uit ons argief in Japan.