Christen- ouer manne—‘Medewerkers vir ons vreugde’
“Ons is medewerkers vir julle vreugde.”—2 KOR. 1:24.
1. Waarom het Paulus hom oor die Christene in Korinte verbly?
DIT was die jaar 55 HJ. Die apostel Paulus was in die hawestad Troas, maar hy kon nie ophou dink aan Korinte nie. Vroeër daardie jaar het dit hom hartseer gemaak toe hy uitgevind het dat die broers daar gestry het onder mekaar. Uit vaderlike besorgdheid het hy dus ’n brief aan hulle gestuur om hulle tereg te wys (1 Kor. 1:11; 4:15). Hy het ook sy medewerker Titus na hulle gestuur en het gevra dat Titus hom in Troas ontmoet om aan hom terugvoering te gee. Nou het Paulus vir Titus in Troas gewag, en hy wou graag hoor hoe dit met die Korintiërs gaan. Maar Paulus was baie teleurgesteld, want Titus het nie opgedaag nie. Wat sou Paulus doen? Hy het na Masedonië geseil, en tot sy vreugde het hulle daar ontmoet. Titus het vir Paulus gesê dat die broers in Korinte goed op sy brief gereageer het en dat hulle gretig daarna uitgesien het om hom te sien. Toe Paulus hierdie goeie verslag gehoor het, het hy hom “nog meer verbly”.—2 Kor. 2:12, 13; 7:5-9.
2. (a) Wat het Paulus aan die Korintiërs geskryf omtrent geloof en vreugde? (b) Watter vrae sal ons bespreek?
2 Kort daarna het Paulus ’n tweede brief aan die Korintiërs geskryf. Hy het vir hulle gesê: “Nie dat ons die meesters oor julle geloof is nie, maar ons is medewerkers vir julle vreugde, want deur julle geloof staan julle” (2 Kor. 1:24). Wat het Paulus hiermee bedoel? En watter uitwerking moet hierdie woorde vandag op Christen- ouer manne hê?
ONS GELOOF EN ONS VREUGDE
3. (a) Wat het Paulus bedoel toe hy geskryf het: “Deur julle geloof staan julle”? (b) Hoe volg ouer manne van vandag Paulus se voorbeeld?
3 Paulus het twee noodsaaklike aspekte van ons aanbidding gemeld—geloof en vreugde. Onthou dat hy aangaande geloof geskryf het: “Nie dat ons die meesters oor julle geloof is nie, . . . want deur julle geloof staan julle.” Met hierdie woorde het Paulus erken dat die broers in Korinte standvastig was, nie danksy hom of enige ander mens nie, maar danksy hulle eie geloof in God. Daarom het Paulus dit glad nie nodig geag om die geloof van sy broers te beheer nie, en hy het geen begeerte gehad om dit te doen nie. Hy het die vertroue gehad dat hulle getroue Christene is wat wil doen wat reg is (2 Kor. 2:3). Vandag volg ouer manne Paulus se voorbeeld deur te toon dat hulle die vertroue het dat hulle broers geloof in God het en hom met goeie beweegredes dien (2 Tess. 3:4). Pleks daarvan om streng reëls vir die gemeente neer te lê, vertrou ouer manne op Bybelbeginsels en die riglyne van Jehovah se organisasie. Hedendaagse ouer manne is immers nie die meesters oor hulle broers se geloof nie.—1 Pet. 5:2, 3.
4. (a) Wat het Paulus bedoel toe hy geskryf het: “Ons is medewerkers vir julle vreugde”? (b) Hoe volg ouer manne van vandag Paulus se gesindheid na?
4 Paulus het ook gesê: “Ons is medewerkers vir julle vreugde.” Met hierdie woorde het hy na homself en sy intieme metgeselle verwys. Hoe kom ons tot hierdie gevolgtrekking? Wel, in dieselfde brief aan die Korintiërs het Paulus twee van hierdie metgeselle gemeld toe hy geskryf het: “Jesus [is] deur middel van ons onder julle verkondig . . . dit wil sê deur middel van my en Silvanus en Timoteus” (2 Kor. 1:19). Daarbenewens het Paulus, wanneer hy die woord “medewerkers” in sy briewe gebruik het, altyd verwys na sy intieme metgeselle, soos Apollos, Aquila, Prisca, Timoteus, Titus en ander (Rom. 16:3, 21; 1 Kor. 3:6-9; 2 Kor. 8:23). Deur te sê: “Ons is medewerkers vir julle vreugde”, het Paulus die Korintiërs dus verseker dat hy en sy metgeselle alles in hulle vermoë wil doen om die vreugde van alle lede van die gemeente te bevorder. Vandag het Christen- ouer manne dieselfde begeerte. Hulle wil alles in hulle vermoë doen om hulle broers te help om ‘Jehovah met blydskap te dien’.—Ps. 100:2; Fil. 1:25.
5. Watter vraag is aan party broers en susters gestel, en waaroor moet ons nadink?
5 ’n Groep ywerige broers en susters wat in verskillende dele van die wêreld woon, is onlangs gevra om die vraag te beantwoord: “Wat het ’n ouer man al gesê of gedoen wat tot jou vreugde bygedra het?” Terwyl ons nou die antwoorde van hierdie groep medegelowiges bespreek, moet jy hulle opmerkings met jou antwoord op hierdie vraag vergelyk. En laat ons almal nadink oor hoe ons tot ’n vreugdevolle gees in ons gemeente kan bydra. *
“GROET PERSIS, ONS GELIEFDE”
6, 7. (a) Wat is een manier waarop ouer manne Jesus, Paulus en ander knegte van God kan navolg? (b) Waarom dra dit tot ons broers se vreugde by as ons hulle name onthou?
6 Baie van ons broers en susters sê dat hulle vreugde vergroot word wanneer ouer manne persoonlike belangstelling in hulle toon. Een manier waarop ouer manne dit doen is deur die voorbeeld te volg wat gestel is deur Dawid, Elihu en Jesus self. (Lees 2 Samuel 9:6; Job 33:1; Lukas 19:5.) Elkeen van hierdie knegte van Jehovah het opregte belangstelling in iemand anders getoon deur die persoon se naam te gebruik. Paulus het ook die belangrikheid daarvan besef om medegelowiges se name te onthou en te gebruik. Hy het een van sy briewe afgesluit deur meer as 25 broers en susters by name te groet, insluitende Persis, ’n Christensuster van wie Paulus gesê het: “Groet Persis, ons geliefde.”—Rom. 16:3-15.
7 Party ouer manne vind dit moeilik om name te onthou. Maar wanneer hulle hard probeer om dit te doen, sê hulle as ’t ware vir hulle medegelowiges: ‘Jy is vir my belangrik’ (Eks. 33:17). Ouer manne sal veral tot hulle broers se vreugde bydra as hulle hulle name onthou wanneer hulle gedurende die Wagtoring-studie of ander vergaderinge antwoord.—Vergelyk Johannes 10:3.
“SY HET BAIE IN DIE HERE GEARBEI”
8. Wat was ’n belangrike manier waarop Paulus Jehovah en Jesus se voorbeeld gevolg het?
8 Paulus het ook sy belangstelling in ander getoon deur hulle opreg te prys, wat nog ’n manier is om die vreugde van medegelowiges te vergroot. In dieselfde brief waarin Paulus sy begeerte uitgespreek het om ter bevordering van sy broers se vreugde te werk, het hy dus geskryf: “Ek roem grootliks met betrekking tot julle” (2 Kor. 7:4). Hierdie woorde van lof het die broers in Korinte se harte ongetwyfeld diep geraak. Paulus het soortgelyke gevoelens aan ander gemeentes uitgespreek (Rom. 1:8; Fil. 1:3-5; 1 Tess. 1:8). Trouens, nadat Paulus Persis genoem het in sy brief aan die gemeente in Rome, het hy bygevoeg: “Sy het baie in die Here gearbei” (Rom. 16:12). Hoe bemoedigend moes hierdie kompliment tog vir daardie getroue suster gewees het! Deur ander te prys, het Paulus die voorbeeld gevolg wat Jehovah sowel as Jesus gestel het.—Lees Markus 1:9-11; Johannes 1:47; Op. 2:2, 13, 19.
9. Waarom dra dit tot die vreugde in die gemeente by wanneer ons mekaar opreg prys?
9 Ouer manne van vandag besef ook hoe belangrik dit is om hulle waardering vir hulle broers uit te spreek (Spr. 3:27; 15:23). Wanneer ’n ouer man dit doen, sê hy as ’t ware vir sy broers: ‘Ek sien wat jy doen. Ek gee vir jou om.’ En medegelowiges het beslis die ouer manne se versekering nodig. ’n Suster in haar middelvyftigerjare het namens baie gepraat toe sy gesê het: “By die werk ontvang ek selde ’n kompliment. Daar heers ’n koue en mededingende gees. Wanneer ’n ouer man my dan prys vir iets wat ek vir die gemeente gedoen het, is dit so verkwikkend, so opbouend! Dit laat my voel dat my hemelse Vader my liefhet.” ’n Broer wat twee kinders as ’n enkelouer grootmaak, voel ook so. ’n Ouer man het hom onlangs opreg geprys. Watter uitwerking het dit op ons broer gehad? Hy sê: “Die ouer man se woorde het my werklik ’n hupstoot gegee!” Ja, wanneer ’n ouer man medegelowiges opreg prys, moedig dit hulle aan en vergroot dit hulle vreugde. Dit sal hulle weer versterk om op die weg van die lewe te bly “en nie moeg [te] raak nie”.—Jes. 40:31.
‘HOU AS HERDERS TOESIG OOR DIE GEMEENTE VAN GOD’
10, 11. (a) Hoe kan ouer manne Nehemia se voorbeeld volg? (b) Wat sal ’n ouer man help om ’n geestelike gawe mee te deel wanneer hy herdersbesoeke doen?
10 Wat is ’n uiters belangrike manier waarop ouer manne persoonlike belangstelling in hulle broers toon en tot die gemeente se vreugde bydra? Deur die inisiatief te neem om diegene wat aanmoediging nodig het, te probeer help. (Lees Handelinge 20:28.) Wanneer ouer manne dit doen, volg hulle die voorbeeld van geestelike herders van ouds. Let byvoorbeeld op wat die getroue opsiener Nehemia gedoen het toe hy gesien het dat party van sy Joodse broers geestelik swak geword het. Die verslag sê dat hy onmiddellik opgestaan het en hulle aangemoedig het (Neh. 4:14). Vandag moet ouer manne dieselfde doen. Hulle ‘staan op’—neem die inisiatief—om medegelowiges te help om standvastig in die geloof te wees. Om sulke persoonlike aanmoediging te gee, besoek hulle hulle broers en susters by hulle huise as die omstandighede dit toelaat. Gedurende sulke herdersbesoeke wil hulle “die een of ander geestelike gawe [aan hulle] meedeel” (Rom. 1:11). Wat sal ouer manne help om dit te doen?
11 Voordat ’n ouer man ’n herdersbesoek doen, moet hy tyd maak om te dink aan die persoon wat hy gaan besoek. Met watter uitdagings het die persoon te kampe? Watter gedagtes sal moontlik vir hom of haar opbouend wees? Watter Bybelkarakter se ondervinding of watter teks sal op sy of haar omstandighede van toepassing wees? As ’n ouer man so vir ’n herdersbesoek voorberei, sal dit hom help om ’n gesprek te voer wat betekenisvol is, nie oppervlakkig nie. Gedurende herdersbesoeke gee ’n ouer man sy broers en susters die geleentheid om te praat terwyl hy aandagtig luister (Jak. 1:19). Een suster het gesê: “Dit is so vertroostend as ’n ouer man met sy hart luister.”—Luk. 8:18.
12. Wie in die gemeente het aanmoediging nodig, en waarom?
12 Wie sal by herdersbesoeke baat vind? Paulus het sy mede- ouer manne vermaan om te “let op . . . die hele kudde”. Ja, alle gemeentelede het aanmoediging nodig, insluitende dié verkondigers en pioniers wat jaar ná jaar hulle bediening getrou uitvoer. Waarom het hulle die ondersteuning van geestelike herders nodig? Omdat diegene wat geestelik sterk is, ook soms oorweldig voel deur die druk wat hierdie goddelose wêreld op hulle uitoefen. Om toe te lig waarom selfs ’n sterk kneg van God soms hulp nodig het, kan ons kyk na ’n gebeurtenis in koning Dawid se lewe.
‘ABISAI HET HOM TE HULP GEKOM’
13. (a) Wanneer wou Jisbi-Benob Dawid doodmaak? (b) Waarom was dit vir Abisai moontlik om op die regte tyd tot Dawid se redding te kom?
13 Kort nadat die jong Dawid as koning gesalf is, het hy geveg teen Goliat, een van die Refaïete, ’n ras van reuse. Die moedige Dawid het die reus doodgemaak (1 Sam. 17:4, 48-51; 1 Kron. 20:5, 8). Jare later, tydens ’n geveg teen die Filistyne, het Dawid weer ’n reus aangedurf. Sy naam was Jisbi-Benob, ook een van die Refaïete (2 Sam. 21:16; vtn. in NW). Maar hierdie keer het die reus Dawid amper doodgemaak. Waarom? Nie omdat Dawid sy moed verloor het nie, maar omdat hy sy krag verloor het. Die verslag sê: “Dawid het moeg geword.” Toe Jisbi-Benob agtergekom het dat Dawid fisies swak is, het hy “daaraan gedink om Dawid dood te maak”. Maar toe, net voordat die reus sy wapen in Dawid kon steek, het “Abisai, die seun van Seruja, hom [dadelik] te hulp gekom en die Filistyn neergeslaan en hom doodgemaak” (2 Sam. 21:15-17). Wat ’n noue ontkoming! Hoe dankbaar moes Dawid tog gewees het dat Abisai ’n ogie oor hom gehou het en hom te hulp gesnel het toe sy lewe in gevaar was! Watter lesse kan ons uit hierdie verslag leer?
14. (a) Hoe kan ons Goliatagtige uitdagings oorkom? (b) Hoe kan ouer manne ander help om hulle krag en vreugde te herwin? Gee ’n voorbeeld.
14 As Jehovah se volk voer ons ons bediening regoor die wêreld uit ondanks die struikelblokke wat Satan en sy agente voor ons plaas. Party van ons het voor reusagtige uitdagings te staan gekom, maar met volle vertroue op Jehovah het ons hierdie Goliatagtige struikelblokke tegemoetgegaan en oorkom. Maar soms laat die voortdurende stryd teen die druk van hierdie wêreld ons moeg en mismoedig voel. In hierdie verswakte toestand is ons kwesbaar en loop ons die gevaar om oorwin te word deur druk wat ons andersins suksesvol die hoof sou gebied het. Op sulke tye kan die tydige ondersteuning van ’n ouer man ons help om ons vreugde en ons krag te herwin, soos baie al ondervind het. ’n Pionier in haar middelsestigerjare het gesê: “’n Tyd gelede het ek nie goed gevoel nie, en velddiens het my uitgeput. ’n Ouer man het opgemerk dat ek moeg is en my genader. Ons het ’n aanmoedigende gesprek gehad wat op ’n Bybelgedeelte gebaseer was. Ek het die wenke toegepas wat hy my gegee het en ek het daarby baat gevind.” Sy het bygevoeg: “Hoe liefdevol was dit tog van daardie ouer man om my swak toestand op te merk en my te help!” Ja, dit is bemoedigend om te weet dat ons ouer manne het wat ’n liefdevolle ogie oor ons hou en wat, soos Abisai van ouds, gereed is om ons ‘te hulp te kom’.
“WEET VAN DIE LIEFDE WAT EK . . . VIR JULLE HET”
15, 16. (a) Waarom was Paulus se medegelowiges so lief vir hom? (b) Waarom is ons lief vir ons liefdevolle gemeentelike ouer manne?
15 Om ’n herder te wees, is harde werk. By tye bring ouer manne slapelose nagte deur omdat hulle biddend besorg is oor God se kudde of omdat hulle geestelike ondersteuning aan medegelowiges gee (2 Kor. 11:27, 28). Nogtans kom ouer manne hulle verantwoordelikheid ten volle en vreugdevol na, net soos Paulus gedoen het. Hy het aan die Korintiërs geskryf: “Ek sal my met die grootste genoeë uitstort en heeltemal uitgestort word vir julle siele” (2 Kor. 12:15). Ja, uit liefde vir sy broers het Paulus homself uitgestort om hulle op te bou. (Lees 2 Korintiërs 2:4; Fil. 2:17; 1 Tess. 2:8.) Geen wonder dat die broers so lief was vir Paulus nie!—Hand. 20:31-38.
16 As God se hedendaagse knegte is ons ook lief vir ons liefdevolle Christen- ouer manne en dank ons Jehovah in ons persoonlike gebede dat hy hulle voorsien het. Hulle vergroot ons vreugde deur persoonlike belangstelling in ons te toon. Ons voel opgebou deur hulle herdersbesoeke. Wat meer is, ons is dankbaar dat hulle altyd bereid is om ons te help wanneer ons deur die druk van hierdie wêreld oorweldig voel. Ja, sulke waaksame Christen- ouer manne is werklik ‘medewerkers vir ons vreugde’.
^ par. 5 Dieselfde broers en susters is ook gevra: “Watter eienskap waardeer jy die meeste in ’n ouer man?” Die oorgrote meerderheid het geantwoord: “As hy maklik is om te nader.” Hierdie belangrike eienskap sal in ’n volgende nommer van hierdie tydskrif bespreek word.