Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons verbly ons in ons hoop

Ons verbly ons in ons hoop

Ons verbly ons in ons hoop

“[Daar is] hoop op die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, lank gelede beloof het.”—TIT. 1:2.

TER HERSIENING

Hoe weet ons dat daar vreugde in die hemel is wanneer een van die gesalfdes ’n lewensweg van onkreukbaarheid handhaaf?

Hoe hou die verwesenliking van die hoop van die ander skape verband met dié van die gesalfdes?

Watter “heilige gedrag” en “dade van godvrugtige toegewydheid” moet ons openbaar as ons die verwesenliking van ons hoop wil sien?

1. Hoe kan die hoop wat Jehovah ons gegee het, ons help om te volhard?

JEHOVAH is “die God wat hoop gee”. So het die apostel Paulus gesê en bygevoeg dat Jehovah ‘ons met alle vreugde en vrede vervul deurdat ons glo, sodat ons oorvloedig kan wees in hoop met krag van die heilige gees’ (Rom. 15:13). As ons hoop oorvloedig is in ons, sal ons enige situasie wat ontstaan, kan verduur, met ons hart vol vreugde en vrede. Soos in die geval van gesalfde Christene, sal hierdie hoop vir ander Christene “’n anker vir die siel [wees], seker sowel as vas” (Heb. 6:18, 19). Ons hoop is iets waaraan ons gedurende die storms van die lewe kan vashou, iets wat ons sal help om nie weg te dryf tot twyfel of ’n gebrek aan geloof nie.—Lees Hebreërs 2:1; 6:11.

2. Watter twee verwagtinge word onder hedendaagse Christene gevind, en waarom stel die “ander skape” belang in die hoop wat die gesalfdes koester?

2 Christene wat in hierdie tyd van die einde lewe, vestig hulle aandag op een van twee verwagtinge. Die oorblywende lede van die “klein kuddetjie” van gesalfde Christene het die hoop op onsterflike lewe in die hemel as konings en priesters saam met Christus in sy Koninkryk (Luk. 12:32; Op. 5:9, 10). Die veel talryker “groot menigte” “ander skape” het die hoop om vir ewig op ’n paradysaarde as onderdane van die Messiaanse Koninkryk te lewe (Op. 7:9, 10; Joh. 10:16). Die ander skape moet nooit vergeet dat hulle redding afhang van hulle daadwerklike ondersteuning van Christus se gesalfde “broers” wat nog op die aarde is nie (Matt. 25:34-40). Die gesalfdes sal in hulle beloning ingaan, maar die hoop van die ander skape sal net so seker verwesenlik word. (Lees Hebreërs 11:39, 40.) Kom ons bespreek eers die hoop wat aan die gesalfdes voorgehou word.

DIE “LEWENDE HOOP” VAN GESALFDE CHRISTENE

3, 4. Hoe ondergaan gesalfde Christene “’n nuwe geboorte tot ’n lewende hoop”, en wat is hierdie hoop?

3 Die apostel Petrus het twee briewe aan gesalfde Christene geskryf, wat hy “dié wat uitgekies is”, genoem het (1 Pet. 1:1). Hy het besonderhede voorsien van die wonderlike hoop wat aan die klein kuddetjie gegee word. In sy eerste brief het Petrus geskryf: “Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus geloof word, want ooreenkomstig sy groot barmhartigheid het hy ons ’n nuwe geboorte tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode gegee, tot ’n onverderflike en onbesmette en onverwelklike erfenis. Dit word in die hemele bewaar vir julle, wat deur God se krag deur middel van geloof beveilig word vir ’n redding wat gereed is om in die laaste tyd geopenbaar te word. In hierdie feit verbly julle julle grootliks.”—1 Pet. 1:3-6.

4 Die beperkte aantal Christene wat deur Jehovah gekies word om saam met Christus in die hemelse Koninkryksregering te heers, ondergaan “’n nuwe geboorte” as geesverwekte seuns van God. Hulle word met heilige gees gesalf om konings en priesters saam met Christus te wees (Op. 20:6). Petrus sê dat hierdie “nuwe geboorte” hulle “’n lewende hoop” bied, wat hy “’n onverderflike en onbesmette en onverwelklike erfenis” noem en wat vir hulle “in die hemele” bewaar word. Geen wonder dat die gesalfdes ‘hulle grootliks verbly’ in hulle lewende hoop nie! Maar die verwesenliking van hierdie hoop hang af van hulle getrouheid.

5, 6. Waarom moet gesalfde Christene hulle uiterste bes doen om hulle hemelse roeping te verseker?

5 In sy tweede brief het Petrus gesalfde Christene gemaan om ‘hulle uiterste bes te doen om hulle roeping en verkiesing vir hulle te verseker’ (2 Pet. 1:10). Hulle moet hulle inspan om Christelike eienskappe soos geloof, godvrugtige toegewydheid, broederlike geneentheid en liefde aan te kweek. Petrus het gesê: “As hierdie dinge in julle bestaan en oorvloedig is, sal dit verhoed dat julle onbedrywig of onvrugbaar word.”—Lees 2 Petrus 1:5-8.

6 In sy boodskap aan die geesverwekte ouer manne in die eerste-eeuse gemeente in Filadelfia in Klein-Asië het die verrese Christus gesê: “Omdat jy die woord oor my volharding bewaar het, sal ek jou ook bewaar van die uur van beproewing, wat oor die hele bewoonde aarde gaan kom om dié wat op die aarde woon, op die proef te stel. Ek kom gou. Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon wegneem nie” (Op. 3:10, 11). As ’n gesalfde Christen ontrou word, sal hy nie “die onverwelklike kroon van heerlikheid” ontvang wat belowe word aan die uitverkorenes wat tot die dood getrou bly nie.—1 Pet. 5:4; Op. 2:10.

INGANG IN DIE KONINKRYK

7. Watter wonderlike hoop het Judas in sy brief gemeld?

7 Omstreeks die jaar 65 HJ het Jesus se halfbroer Judas ’n brief aan sy gesalfde mede-Christene geskryf, wat hy “die geroepenes” genoem het. (Jud. 1; vergelyk Hebreërs 3:1.) Hy wou ’n brief aan hulle geskryf het oor die glorieryke hoop van die “gemeenskaplike” redding van Christene wat tot God se hemelse Koninkryk geroep word (Jud. 3). Hoewel hy ander dringende kwessies bespreek het, het hy aan die einde van sy kort brief verwys na die wonderlike hoop wat gesalfde Christene in gemeen het en geskryf: “En aan hom wat julle van struikeling kan bewaar en julle met groot vreugde smetloos voor sy heerlikheid kan stel, aan die enigste God, ons Redder deur Jesus Christus, ons Here, die heerlikheid, majesteit, mag en gesag in die ganse vergange ewigheid en nou en tot in alle ewigheid.”—Jud. 24, 25.

8. Wat dui aan dat daar, in ooreenstemming met Judas 24, vreugde in die hemel is wanneer een van die gesalfdes sy onkreukbaarheid bewys?

8 Getroue gesalfde Christene wil beslis daarvan bewaar word om as individue te struikel en vernietig te word. Hulle Bybelse hoop is dat Jesus Christus hulle uit die dood sal opwek, wat hulle in staat sal stel om met groot vreugde in geestelike volmaaktheid voor die teenwoordigheid van God te verskyn. Wanneer een van die gesalfdes getrou sterf, is dit met die vaste vooruitsig om “as ’n geestelike liggaam opgewek” te word, “in onverderflikheid . . . , in heerlikheid” (1 Kor. 15:42-44). As daar groot ‘vreugde in die hemel is oor een sondaar wat berou het’, stel jou voor watter vreugde daar in die hemelse hof is wanneer een van Christus se geesverwekte broers ’n lewensweg van onkreukbaarheid voltooi (Luk. 15:7). Jehovah en die getroue geesskepsele sal hulle verbly saam met die gesalfde wat dan sy beloning “met groot vreugde” ontvang.—Lees 1 Johannes 3:2.

9. Hoe word die ingang in die Koninkryk ‘ryklik verskaf’ aan getroue gesalfdes, en watter uitwerking het hierdie hoop op die gesalfdes wat nog op die aarde is?

9 In dieselfde trant het Petrus aan gesalfde Christene geskryf dat “die ingang in die ewige koninkryk van ons Here en Redder Jesus Christus ryklik aan [hulle] verskaf [sal] word” as hulle hulle roeping deur hulle getrouheid verseker (2 Pet. 1:10, 11). Hulle ingang in hulle hemelse beloning sal ‘ryklik verskaf’ word deurdat hulle Christelike eienskappe glansend sal skyn. Dat dit ‘ryklik verskaf’ word, kan ook dui op die hoë mate waarin diegene wat hulle in die wedloop om die lewe ingespan het, geseën sal word. Hulle kan met harte vol vreugde en dankbaarheid terugkyk op hulle getroue lewensweg. Hierdie vooruitsig gee die gesalfde Christene wat nog op die aarde is, ongetwyfeld die krag om ‘hulle verstand vir voortgesette bedrywigheid te versterk’.—1 Pet. 1:13.

GRONDSLAG VIR HOOP VIR DIE ANDER SKAPE

10, 11. (a) Watter hoop word aan die ander skape voorgehou? (b) Hoe hou die verwesenliking van die aardse hoop verband met Christus en met “die openbaring van die seuns van God”?

10 Die apostel Paulus het geskryf van die glorieryke hoop van die geesverwekte “seuns van God” as “mede-erfgename” van Christus. Toe het hy die wonderlike hoop gemeld wat Jehovah aan die onbeperkte aantal ander skape voorhou: “Die [mense]skepping wag met gretige verwagting op die openbaring van die seuns van God [die gesalfdes]. Want die skepping is aan nietigheid onderwerp, nie uit eie wil nie, maar deur hom wat dit onderwerp het, op grond van hoop dat die skepping self ook van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê.”—Rom. 8:14-21.

11 Jehovah het die grondslag vir hoop vir die mensdom voorsien toe hy verlossing belowe het van “die oorspronklike slang”, Satan die Duiwel, deur middel van die beloofde “saad” (Op. 12:9; Gen. 3:15). Hierdie “saad” was hoofsaaklik Jesus Christus (Gal. 3:16). Deur sy dood en opstanding het Jesus ’n vaste grondslag voorsien vir die mensdom se hoop om van die slawerny aan sonde en die dood vrygemaak te word. Die verwesenliking van hierdie hoop hou verband met “die openbaring van die seuns van God”. Die verheerlikte gesalfdes is die sekondêre deel van die “saad”. Hulle sal ‘geopenbaar’ word wanneer hulle saam met Christus Satan se goddelose stelsel van dinge vernietig (Op. 2:26, 27). Dít sal redding meebring vir die ander skape wat uit die groot verdrukking kom.—Op. 7:9, 10, 14.

12. Watter glorieryke voordele sal die openbaring van die gesalfdes vir die mensdom meebring?

12 Watter verligting sal die ‘menseskepping’ tog gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus geniet! Gedurende daardie tyd sal die verheerlikte “seuns van God” verder ‘geopenbaar’ word wanneer hulle saam met Christus as priesters optree en die voordele van Jesus se losprysoffer ten behoewe van die mensdom aanwend. As onderdane van die hemelse Koninkryk sal die ‘menseskepping’ verlossing van die gevolge van sonde en die dood begin ondervind. Gehoorsame mense sal geleidelik ‘vrygemaak word van die slawerny aan die verderflikheid’. As hulle regdeur die Millennium en gedurende die finale toets aan die einde daarvan getrou bly aan Jehovah, sal hulle name permanent in “die boekrol van die lewe” geskryf word. Hulle sal in “die glorieryke vryheid van die kinders van God” ingaan (Op. 20:7, 8, 11, 12). Inderdaad ’n glorieryke hoop!

ONS MOET ONS HOOP LEWEND HOU

13. Waarop is ons hoop gegrond, en wanneer sal Christus geopenbaar word?

13 Petrus se twee geïnspireerde briewe bevat baie inligting om die gesalfdes en die ander skape te help om hulle onderskeie verwagtinge lewend te hou. Hy het daarop gewys dat hulle hoop nie op hulle werke gegrond is nie, maar op Jehovah se onverdiende goedhartigheid. Hy het geskryf: “Bly gebalanseerd en vestig julle hoop volkome op die onverdiende goedhartigheid wat julle deel sal word by die openbaring van Jesus Christus” (1 Pet. 1:13; vtn. in NW). Christus sal geopenbaar word wanneer hy kom om sy getroue volgelinge te beloon en Jehovah se strafgerigte aan die goddeloses te voltrek.—Lees 2 Tessalonisense 1:6-10.

14, 15. (a) Waarop moet ons ons aandag toespits om ons hoop lewend te hou? (b) Watter raad het Petrus gegee?

14 Om ons hoop lewend te hou, moet ons ons aandag op die komende “dag van Jehovah” toespits en ons lewe daarop rig. Hierdie dag sal die vernietiging meebring van die huidige “hemele”, of menseheerskappy, en “aarde”, die goddelose mensegemeenskap en sy “elemente”. Petrus het geskryf: “Watter soort mense behoort julle dan te wees . . . , terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou, waardeur die hemele, wat aan die brand sal wees, tot niet gemaak sal word en die elemente, wat intens warm sal wees, sal smelt!”—2 Pet. 3:10-12.

15 Die teenswoordige “hemele” en “aarde” sal vervang word deur “nuwe hemele [Christus se Koninkryksregering] en ’n nuwe aarde [’n nuwe aardse gemeenskap]” (2 Pet. 3:13). Petrus het toe reguit raad gegee op grond van die feit dat ons hierdie beloofde nuwe wêreld “verwag”, oftewel ons hoop daarop lewend hou: “Daarom, geliefdes, aangesien julle hierdie dinge verwag, moet julle julle uiterste bes doen om uiteindelik deur hom vlekkeloos en smetloos en in vrede bevind te word.”—2 Pet. 3:14.

WANDEL IN OOREENSTEMMING MET ONS HOOP

16, 17. (a) Watter “heilige gedrag” en “dade van godvrugtige toegewydheid” moet ons openbaar? (b) Hoe sal ons hoop verwesenlik word?

16 Ons moenie net ons hoop lewend hou nie, maar ons moet ook in ooreenstemming met ons hoop lewe. Ons moet aandag skenk aan watter soort persoon ons geestelik is. “Heilige gedrag” behels dat ons ‘goeie gedrag onder die nasies handhaaf’ deur middel van ons sedelike opregtheid (2 Pet. 3:11; 1 Pet. 2:12). Ons moet ‘liefde onder mekaar hê’. Dit beteken onder andere dat ons alles in ons vermoë moet doen om die eenheid van ons wêreldwye broederskap selfs onder diegene in ons plaaslike gemeente te bewaar (Joh. 13:35). “Dade van godvrugtige toegewydheid” is dade wat ons hegte verhouding met Jehovah bevestig. Dit sluit in sinvolle gebede, daaglikse Bybellees, diepgaande persoonlike studie, gesinsaanbidding en ’n daadwerklike aandeel aan die verkondiging van die “goeie nuus van die koninkryk”.—Matt. 24:14.

17 Elkeen van ons wil die soort persoon wees wat Jehovah goedkeur en sal red wanneer die teenswoordige goddelose stelsel ‘tot niet gemaak word’. So sal ons hoop verwesenlik word, die “hoop op die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, lank gelede beloof het”.—Tit. 1:2.

[Studievrae]

[Prent op bladsy 22]

Gesalfde Christene ondergaan “’n nuwe geboorte tot ’n lewende hoop”

[Prent op bladsy 24]

Hou die hoop in julle gesin lewend