Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bly wakker, soos Jeremia

Bly wakker, soos Jeremia

Bly wakker, soos Jeremia

“Ek [Jehovah] bly wakker ten opsigte van my woord om dit uit te voer.”—JER. 1:12.

1, 2. Waarom word die feit dat Jehovah ‘wakker bly’, met die amandelboom verbind?

 EEN van die eerste bome wat op die heuwels van Libanon en Israel bloei, is die amandelboom. Sy pragtige pienk of wit bloeisels kan reeds aan die einde van Januarie of die begin van Februarie gesien word. Sy Hebreeuse naam beteken letterlik “die ontwakende”.

2 Toe Jehovah Jeremia as sy profeet aangestel het, is hierdie kenmerk van die amandelboom gepas gebruik om ’n belangrike feit toe te lig. Aan die begin van sy bediening het die profeet ’n loot van hierdie boom in ’n visioen gesien. Wat het dit beteken? Jehovah het verduidelik: “Ek bly wakker ten opsigte van my woord om dit uit te voer” (Jer. 1:11, 12). Net soos die amandelboom vroeg ‘ontwaak’ het, het Jehovah in figuurlike sin “vroeg opgestaan” om sy profete te stuur om sy volk teen die gevolge van ongehoorsaamheid te waarsku (Jer. 7:25). En hy het nie gerus nie—hy het ‘wakker gebly’—totdat sy profetiese woord volbring is. In 607 VHJ, presies op die vasgestelde tyd, het Jehovah se oordeel oor die afvallige nasie Juda gekom.

3. Waarvan kan ons seker wees in verband met Jehovah?

3 Jehovah is vandag ook wakker, waaksaam ten opsigte van die uitvoering van sy wil. Dit is vir hom onmoontlik om nie sy woord gestand te doen nie. Hoe raak Jehovah se waaksaamheid jou? Glo jy dat Jehovah nou, in 2011, “wakker” is ten opsigte van die vervulling van sy beloftes? As ons enige twyfel oor Jehovah se betroubare beloftes koester, is dit nou die tyd vir ons om wakker te word uit enige geestelike lomerigheid (Rom. 13:11). As Jehovah se profeet het Jeremia wakker gebly. ’n Bespreking van hoe en waarom Jeremia wakker gebly het ten opsigte van sy godgegewe toewysing, sal ons help om te sien hoe ons kan volhard in die werk wat Jehovah ons gegee het.

’n Dringende boodskap

4. Voor watter uitdagings het Jeremia te staan gekom terwyl hy sy boodskap bekend gemaak het, en waarom was dit dringend?

4 Jeremia was moontlik na aan 25 toe Jehovah hom as ’n wag aangestel het (Jer. 1:1, 2). Hy het egter gevoel dat hy maar net ’n seun is, heeltemal onbekwaam om te praat met die ouer manne van die nasie, manne van gevorderde ouderdom en in gesagsposisies (Jer. 1:6). Hy het skerp veroordelings en vreeswekkende oordele gehad om bekend te maak, veral aan die priesters, valse profete en heersers, sowel as aan dié wat “die gewilde weg” gevolg en “’n blywende ontrouheid” ontwikkel het (Jer. 6:13; 8:5, 6). Koning Salomo se glorieryke tempel, wat byna vier eeue lank die middelpunt van ware aanbidding was, sou vernietig word. Jerusalem en Juda sou woes lê, en hulle inwoners sou gevange geneem word. Dit is duidelik dat die boodskap wat Jeremia beveel is om bekend te maak, dringend was!

5, 6. (a) Hoe gebruik Jehovah vandag die Jeremia-klas? (b) Waaroor sal ons studie handel?

5 In hedendaagse tye het Jehovah die mensdom liefdevol voorsien van ’n groep gesalfde Christene wat as ’n figuurlike wag dien om teen sy oordeel oor hierdie wêreld te waarsku. Hierdie Jeremia-klas spoor mense al dekades lank aan om te let op die tye waarin ons lewe (Jer. 6:17). Die Bybel beklemtoon dat Jehovah, die Groot Tydhouer, nie stadig is nie. Sy dag sal presies op tyd kom, op ’n uur dat mense dit nie verwag nie.—Sef. 3:8; Mark. 13:33; 2 Pet. 3:9, 10.

6 Hou in gedagte dat Jehovah wakker is en sy regverdige nuwe wêreld presies op tyd tot stand sal bring. Hierdie wete behoort die lede van die Jeremia-klas aan te spoor en hulle toegewyde metgeselle te help om wakker te bly ten opsigte van hulle boodskap wat al hoe dringender word. Hoe raak dit jou? Jesus het aangedui dat almal standpunt vir God se Koninkryk moet inneem. Kom ons ondersoek drie eienskappe wat Jeremia gehelp het om wakker te bly ten opsigte van sy opdrag en wat ons sal help om dit ook te doen.

Liefde vir mense

7. Verduidelik hoe liefde Jeremia beweeg het om ondanks moeilike omstandighede te preek.

7 Wat het Jeremia beweeg om ondanks moeilike omstandighede te preek? Dit was sy liefde vir mense. Jeremia het geweet dat valse herders die oorsaak was van baie van die probleme waarmee die volk te kampe gehad het (Jer. 23:1, 2). Hierdie kennis het hom gehelp om sy werk met liefde en medelye te doen. Hy wou hê dat sy landgenote God se woorde moet hoor en moet lewe. Hy was so besorg dat hy gehuil het oor die rampspoed wat oor hulle sou kom. (Lees Jeremia 8:21; 9:1.) Jeremia se innige liefde vir en diepe besorgdheid oor Jehovah se naam en volk word op treffende wyse in die boek Klaagliedere weerspieël (Klaagl. 4:6, 9). Wil jy nie, wanneer jy sien dat mense vandag “gestroop en rondgegooi [word] soos skape sonder ’n herder”, graag vir hulle die vertroostende nuus van God se Koninkryk bring nie?—Matt. 9:36.

8. Wat toon dat lyding Jeremia nie bitter gemaak het nie?

8 Jeremia het gely deur die toedoen van juis die mense wat hy wou help, maar hy het nie kwaad vir kwaad vergeld of bitter geword nie. Hy was lankmoedig en goedhartig, selfs teenoor die verdorwe koning Sedekia! Nadat Sedekia hom oorgelewer het om doodgemaak te word, het Jeremia nog steeds by hom gepleit om Jehovah se stem te gehoorsaam (Jer. 38:4, 5, 19, 20). Is ons liefde vir mense so sterk soos dié van Jeremia?

Godgegewe moed

9. Hoe weet ons dat Jeremia se moed van God gekom het?

9 Toe Jehovah die eerste keer met hom gepraat het, het Jeremia probeer verskoning maak. Hieruit sien ons dat die vrymoedigheid en standvastigheid wat hy later getoon het, nie aangebore eienskappe was nie. Nee, die buitengewone krag wat Jeremia gedurende sy profetiese loopbaan geopenbaar het, het in werklikheid uit sy volle vertroue op God gespruit. Jehovah was inderdaad met die profeet “soos ’n verskriklike magtige” in die sin dat hy Jeremia onderskraag het en hom die krag gegee het om sy toewysing uit te voer (Jer. 20:11). Jeremia was so bekend vir sy vrymoedigheid en moed dat party mense gedurende Jesus se aardse bediening gedink het dat Jesus Jeremia is wat weer lewend geword het!—Matt. 16:13, 14.

10. Waarom kan daar gesê word dat die gesalfde oorblyfsel ‘oor nasies en koninkryke’ is?

10 As “Koning van die nasies” het Jehovah Jeremia aangestel om ’n oordeelsboodskap aan nasies en koninkryke bekend te maak (Jer. 10:6, 7). Maar in watter sin is die gesalfde oorblyfsel “oor die nasies en oor die koninkryke”? (Jer. 1:10). Soos die profeet van ouds, het die Jeremia-klas ’n toewysing van die Soewerein van die heelal ontvang. God se gesalfde knegte is dus behoorlik gemagtig om wêreldwyd uitsprake teen nasies en koninkryke te doen. Beklee met gesag van die Allerhoogste God en met behulp van die duidelike taal van sy geïnspireerde Woord, maak die Jeremia-klas bekend dat die nasies en koninkryke van vandag op God se bestemde tyd en op sy gekose manier uitgeruk en vernietig sal word (Jer. 18:7-10; Op. 11:18). Die Jeremia-klas is vasbeslote om nie te verslap in die uitvoering van hulle godgegewe opdrag om Jehovah se oordeelsboodskappe aardwyd te verkondig nie.

11. Wat sal ons help om sonder ophou aan te hou preek wanneer ons met moeilike omstandighede te kampe het?

11 Dit is nie iets ongewoons om soms weens teenstand, onverskilligheid of moeilike omstandighede mismoedig te raak nie (2 Kor. 1:8). Maar laat ons soos Jeremia volhard. Moenie moed verloor nie. Laat ons almal voortgaan om God te smeek, op hom te steun en ‘vrymoedigheid bymekaar te skraap’ terwyl ons op hom vertrou om ons te help (1 Tess. 2:2). As ware aanbidders moet ons voortgaan om wakker te bly ten opsigte van ons godgegewe verantwoordelikhede. Ons moet vasbeslote wees om sonder ophou aan te hou preek oor die vernietiging van die Christendom, wat deur die vernietiging van ontroue Jerusalem voorafgeskadu is. Die Jeremia-klas sal nie net “die jaar van die welwillendheid van Jehovah” bekend maak nie, maar ook “die dag van die wraak van ons God”.—Jes. 61:1, 2; 2 Kor. 6:2.

Hartgrondige vreugde

12. Waarom kan ons tot die slotsom kom dat Jeremia sy vreugde behou het, en wat was ’n sleutelfaktor wat dit moontlik gemaak het?

12 Jeremia het vreugde uit sy werk geput. Hy het vir Jehovah gesê: “U woorde is gevind en ek het hulle opgeëet; en u woord word vir my die verheuging en die blydskap van my hart; want u naam is oor my uitgeroep, o Jehovah” (Jer. 15:16). Dit was vir Jeremia ’n voorreg om die ware God te verteenwoordig en sy woord te verkondig. Dit is interessant dat Jeremia sy vreugde verloor het toe hy op die bespotting van die mense gekonsentreer het. Toe hy sy aandag op die prag en belangrikheid van sy boodskap gerig het, het hy sy vreugde herwin.—Jer. 20:8, 9.

13. Waarom is dit belangrik om ons met dieper geestelike waarhede te voed as ons ons vreugde wil behou?

13 As ons vandag ons vreugde in die predikingswerk wil behou, moet ons ons voed met “vaste voedsel”, diep waarhede van God se Woord (Heb. 5:14). Diepgaande studie bou geloof op (Kol. 2:6, 7). Dit bring by ons tuis hoe ons dade werklik Jehovah se hart raak. As ons sukkel om tyd te vind om die Bybel te lees en te bestudeer, moet ons weer na ons rooster kyk. Selfs ’n paar minute se studie en bepeinsing elke dag sal ons nader aan Jehovah laat kom en sal tot ‘die verheuging en blydskap van die hart’ bydra, soos in Jeremia se geval.

14, 15. (a) Watter vrugte het Jeremia se getroue uitvoering van sy opdrag afgewerp? (b) Wat besef God se hedendaagse volk omtrent die predikingswerk?

14 Jeremia het Jehovah se waarskuwings en oordeelsboodskap sonder ophou bekend gemaak, en tog het hy sy opdrag “om te bou en te plant”, ter harte geneem (Jer. 1:10). Sy werk om te bou en te plant, het vrugte afgewerp. Party Jode sowel as nie-Israeliete het die vernietiging van Jerusalem in 607 VHJ oorleef. Ons weet van die Regabiete, Ebed-Meleg en Barug (Jer. 35:19; 39:15-18; 43:5-7). Hierdie lojale en godvresende vriende van Jeremia beeld gepas diegene af wat vandag ’n aardse hoop het en aan die Jeremia-klas vriendskap betoon. Dit verskaf die Jeremia-klas groot genot om hierdie “groot menigte” geestelik op te bou (Op. 7:9). Ook hierdie lojale metgeselle van die gesalfdes put diepe bevrediging daaruit om opregtes van hart te help om kennis van die waarheid op te doen.

15 God se volk besef dat die verkondiging van die goeie nuus nie net ’n openbare diens is aan diegene wat dit hoor nie, maar ook ’n daad van aanbidding teenoor ons God. Of ons ’n horende oor vind of nie, dit verskaf ons groot vreugde om deur middel van ons predikingswerk heilige diens aan Jehovah te verrig.—Ps. 71:23; lees Romeine 1:9.

‘Bly wakker’ ten opsigte van jou toewysing!

16, 17. Hoe bevestig Openbaring 17:10 en Habakuk 2:3 die dringendheid van ons tye?

16 Die dringendheid van die tye waarin ons lewe, word bevestig wanneer ons na die geïnspireerde profesie in Openbaring 17:10 kyk. Die sewende koning, die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid, het al in aansyn gekom. Ons lees hieromtrent: “Wanneer hy [die sewende wêreldmoondheid] wel kom, moet hy ’n kort tydjie bly.” Die einde van hierdie “kort tydjie” moet nou naby wees. Die profeet Habakuk gee ons die volgende versekering aangaande die einde van hierdie goddelose stelsel: “Die visioen is nog vir die vasgestelde tyd . . . Bly in afwagting daarvan; want dit sal vir seker uitkom. Dit sal nie laat wees nie.”—Hab. 2:3.

17 Vra jou af: ‘Weerspieël my lewe werklik die dringendheid van ons tye? Toon my lewenswyse dat ek verwag dat die einde binnekort sal kom? Of toon my besluite en prioriteite dat ek die einde nie binnekort verwag nie of selfs dat ek nie seker is of dit ooit sal kom nie?’

18, 19. Waarom is dit nie nou die tyd om traag te word nie?

18 Die werk van die wagklas is nog nie klaar nie. (Lees Jeremia 1:17-19.) Wat ’n bron van vreugde is dit tog dat die gesalfde oorblyfsel onwrikbaar vasstaan, soos “’n ysterpilaar” en “’n versterkte stad”! Hulle ‘lendene is met waarheid omgord’ in die sin dat hulle toelaat dat God se Woord hulle versterk totdat die werk wat hulle gegee is, voltooi is (Ef. 6:14). Met soortgelyke vasbeslotenheid ondersteun die lede van die groot menigte die Jeremia-klas daadwerklik in die uitvoering van hulle goddelike toewysing.

19 Dit is nie nou die tyd om traag te word in Koninkryksbedrywighede nie, maar om te let op die betekenis van Jeremia 12:5. (Lees.) Ons almal kom te staan voor beproewinge wat ons moet verduur. Hierdie toetse van geloof kan vergelyk word met “voetgangers” saam met wie ons moet hardloop. Ons kan nietemin verwag dat ontberinge sal toeneem namate die “groot verdrukking” nader kom (Matt. 24:21). Die stryd om die groter moeilikhede wat voorlê, die hoof te bied, kan vergelyk word met ‘’n wedloop wat teen perde’ gehardloop word. Groot uithouvermoë sal nodig wees om by galoppende perde by te hou. Dit is dus voordelig om die beproewinge te verduur waarvoor ons nou te staan kom, want dit kan ons voorberei vir dié wat voorlê.

20. Wat is jy vasbeslote om te doen?

20 Ons almal kan Jeremia navolg en ons predikingstoewysing met welslae uitvoer! Eienskappe soos liefde, moed en vreugde het Jeremia beweeg om sy 67 jaar lange bediening getrou uit te voer. Die pragtige amandelbloeisel herinner ons daaraan dat Jehovah sal ‘wakker bly’ ten opsigte van sy woord om dit uit te voer. Ons het dus goeie rede om dit ook te doen. Jeremia het ‘wakker gebly’, en ons kan ook.

Onthou jy?

• Hoe het liefde Jeremia gehelp om ‘wakker te bly’ ten opsigte van sy opdrag?

• Waarom het ons godgegewe moed nodig?

• Wat het Jeremia gehelp om sy vreugde te behou?

• Waarom wil jy ‘wakker bly’?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 31]

Sal jy aanhou preek ondanks teenstand?