Vrae van lesers
Vrae van lesers
Waarom het Moses kwaad geword vir Aäron se seuns Eleasar en Itamar nadat hulle broers Nadab en Abihu gesterf het, en hoe is sy woede tot bedaring gebring?—Lev. 10:16-20.
Kort nadat die priesterdom vir hulle diens by die tabernakel ingehuldig is, het Jehovah Aäron se seuns Nadab en Abihu tereggestel omdat hulle onwettige vuur voor Hom geoffer het (Lev. 10:1, 2). Moses het Aäron se oorlewende seuns beveel om nie te treur oor hulle broers wat gesterf het nie. Kort daarna het Moses toornig geword op Eleasar en Itamar omdat hulle nie die sondofferbok geëet het nie (Lev. 9:3). Waarom het Moses so gereageer?
Die wette wat Jehovah vir Moses gegee het, het bepaal dat die priester wat ’n sondoffer gebring het, ’n deel daarvan in die voorhof van die tent van samekoms moes eet. Dit is beskou as ’n manier om verantwoording te doen vir die sondes van dié wat die offerande gebring het. Maar as van die bloed van die offerande in die Heilige, die eerste afdeling van die heiligdom, ingeneem is, moes die offer nie geëet word nie. Dit moes eerder verbrand word.—Lev. 6:24-26, 30.
Ná die tragiese gebeure van daardie dag het Moses blykbaar gedink dat hy moet seker maak dat al Jehovah se gebooie uitgevoer is. Toe hy uitvind dat die sondofferbok verbrand is, het hy toornig geword en Eleasar en Itamar gevra waarom hulle dit nie geëet het soos beveel is nie, aangesien die bloed daarvan nie voor Jehovah in die Heilige aangebied is nie.—Lev. 10:17, 18.
Aäron het Moses se vraag beantwoord, aangesien die oorlewende priesters klaarblyklik met sy goedkeuring opgetree het. Omdat twee van sy seuns tereggestel is, het Aäron moontlik gewonder of enige van die priesters op daardie dag met ’n goeie gewete van die sondoffer kon eet. Miskien het hy gedink dat dit Jehovah nie sou behaag as hulle daarvan eet nie, al was hulle nie regstreeks verantwoordelik vir die oortreding wat Nadab en Abihu begaan het nie.—Lev. 10:19.
Aäron het moontlik geredeneer dat lede van sy gesin, op die dag toe hulle die eerste keer hulle priesterlike pligte uitgevoer het, beslis moes sorg dat hulle God selfs in die fynste besonderhede behaag. Maar Nadab en Abihu het Jehovah se naam ontheilig, en God se toorn het teen hulle ontvlam. Gevolglik het Aäron dalk gedink dat lede van ’n priesterlike gesin waarin daar so ’n sonde gepleeg is, nie van ’n heilige offer moes eet nie.
Moses het blykbaar sy broer se antwoord aanvaar, want die Skrifgedeelte sluit af: “Toe Moses dit hoor, was dit bevredigend in sy oë” (Lev. 10:20). Jehovah was klaarblyklik ook tevrede met Aäron se antwoord.