Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Help jy om Christelike vergaderinge opbouend te maak?

Help jy om Christelike vergaderinge opbouend te maak?

Help jy om Christelike vergaderinge opbouend te maak?

“Wanneer julle bymekaarkom, . . . laat alles tot opbouing geskied.”—1 KOR. 14:26.

1. Wat is volgens 1 Korintiërs hoofstuk 14 ’n belangrike doel van Christelike vergaderinge?

 ‘DIT was ’n baie opbouende vergadering!’ Het jy al soortgelyke gevoelens uitgespreek nadat jy ’n vergadering by die Koninkryksaal bygewoon het? Ongetwyfeld! Gemeentelike vergaderinge is waarlik ’n bron van aanmoediging, maar dit is nie verbasend nie. Soos in die dae van die vroeë Christene is ’n belangrike doel van ons hedendaagse vergaderinge immers om almal wat dit bywoon, geestelik te versterk. Let op hoe die apostel Paulus hierdie spesifieke doel van Christelike vergaderinge in sy eerste brief aan die Korintiërs beklemtoon. Deur die hele hoofstuk 14 heen sê hy keer op keer dat elke deel wat by gemeentelike vergaderinge aangebied word, dieselfde doel moet hê—die “opbouing van die gemeente”.—Lees 1 Korintiërs 14:3, 12, 26. a

2. (a) As gevolg waarvan is vergaderinge opbouend? (b) Watter vraag sal ons bespreek?

2 Ons besef dat opbouende vergaderinge allereers die gevolg is van die invloed van God se gees. Daarom begin ons elke vergadering met ’n opregte gebed tot Jehovah, waarin ons hemelse Vader gevra word om ons vergadering deur middel van sy heilige gees te seën. Tog weet ons dat al die gemeentelede kan help om die program by vergaderinge so opbouend moontlik te maak. Wat kan ons persoonlik doen om seker te maak dat die weeklikse vergaderinge wat by ons Koninkryksaal gehou word, altyd ’n bron van geestelike verkwikking en aanmoediging is?

3. Hoe belangrik is Christelike vergaderinge?

3 Om die antwoord te kry, sal ons aspekte van ons vergaderinge ondersoek waaraan dié moet dink wat die vergaderinge hou. Ons sal ook bespreek hoe die gemeente as ’n geheel kan help om vergaderinge opbouend te maak vir almal wat dit bywoon. Ons stel baie hierin belang, want ons vergaderinge is heilige samekomste. Ja, die bywoning van vergaderinge en deelname daaraan is belangrike aspekte van ons aanbidding van Jehovah.—Ps. 26:12; 111:1; Jes. 66:22, 23.

’n Vergadering om die Bybel te bestudeer

4, 5. Wat is die doel van die Wagtoring-studie?

4 Ons wil almal ten volle baat vind by ons weeklikse Wagtoring-studie. Om goed te verstaan wat die hoofdoel van hierdie vergadering is, sal ons dus party van die veranderinge bespreek wat aan Die Wagtoring en die studieartikels aangebring is.

5 Vanaf die eerste studie-uitgawe van Die Wagtoring, 15 Januarie 2008, is ’n betekenisvolle besonderheid op die voorblad ingesluit. Het jy dit opgemerk? Kyk noukeurig na die voorblad van die tydskrif in jou hand. Daar, aan die voet van die toring, sal jy ’n oop Bybel sien. Hierdie bykomende kenmerk vestig die aandag op die rede vir die Wagtoring-studie. Dit is om die Bybel met behulp van hierdie tydskrif te bestudeer. Ja, by ons weeklikse Wagtoring-studie word God se Woord “uitgelê” en word “betekenis . . . daaraan gegee”, net soos in die tyd van Nehemia van ouds.—Neh. 8:8; Jes. 54:13.

6. (a) Watter verandering is aan die Wagtoring-studie aangebring? (b) Wat moet in gedagte gehou word omtrent tekste waarby daar “lees” staan?

6 Omdat die Bybel ons vernaamste handboek is, is ’n verandering aan die Wagtoring-studie aangebring. By party van die teksverwysings in die studie-artikels staan daar “lees”. Ons word almal aangespoor om in ons eie Bybel te volg wanneer hierdie tekste gedurende die vergadering gelees word (Hand. 17:11). Waarom? Wanneer ons God se raad in ons eie Bybel sien, maak dit ’n dieper indruk op ons (Heb. 4:12). Voordat hierdie tekste hardop gelees word, moet die studiehouer dus almal in die gehoor genoeg tyd gee om hierdie tekste na te slaan en in hulle Bybel te volg terwyl die verse gelees word.

Meer tyd om ons geloof uit te spreek

7. Watter geleentheid het ons gedurende die Wagtoring-studie?

7 Nog ’n verandering wat aan Die Wagtoring aangebring is, hou verband met die lengte van die studieartikels. In onlangse jare is dit korter. Gedurende die Wagtoring-studie word daar dus minder tyd gebruik om paragrawe te lees, terwyl daar meer tyd is om antwoorde te gee. Meer mense in die gemeente het nou die geleentheid om hulle geloof in die openbaar uit te spreek deur onder andere ’n gedrukte vraag te beantwoord, die toepassing van ’n teks te gee of ’n kort ondervinding te vertel wat toelig dat dit verstandig is om Bybelbeginsels te volg. Tyd moet ook daaraan afgestaan word om die kunswerk te bespreek.—Lees Psalm 22:22; 35:18; 40:9.

8, 9. Wat is die rol van die Wagtoring-studiehouer?

8 Maar daar sal net meer tyd wees om ’n verskeidenheid antwoorde te gee as almal kortliks antwoord en die broer wat die vergadering hou, nie te dikwels gedurende die Wagtoring-studie opmerkings maak nie. Wat sal ’n studiehouer dus help om die goue middeweg te vind tussen sy opmerkings en die antwoorde wat die gemeente gee, sodat die vergadering vir almal opbouend sal wees?

9 Om die antwoord te kry, sal ons ’n illustrasie bespreek. ’n Wagtoring-studie wat op die regte manier gehou word, is soos ’n pragtige ruiker. Net soos daar talle afsonderlike blomme in ’n groot ruiker is, is daar tydens ’n Wagtoring-studie talle verskillende antwoorde. En net soos die afsonderlike blomme in ’n ruiker verskil wat grootte en kleur betref, verskil die antwoorde wat tydens die vergadering gegee word in lengte en in die manier waarop dit aangebied word. En wat is die rol van die studiehouer? Sy opmerkings nou en dan is soos die groenigheid wat hier en daar sorgvuldig by ’n ruiker gevoeg word. Hierdie groenigheid oorheers nie die ruiker nie; dit gee eerder vorm daaraan en bind dit tot ’n geheel saam. Net so moet die studiehouer in gedagte hou dat sy rol is om die gemeente se lofbetuigings aan te vul en nie om dit te oorheers nie. Ja, wanneer al die verskillende antwoorde van die gemeente en die paar gepaste opmerkings van die studiehouer op bekwame wyse saamgevoeg word, vorm dit ’n pragtige ruiker van woorde wat almal in die gehoor vreugde sal verskaf.

‘Laat ons altyd aan God ’n lofoffer bring’

10. Hoe het vroeë Christene gemeentelike vergaderinge beskou?

10 Paulus se beskrywing van Christelike vergaderinge in 1 Korintiërs 14:26-33 gee ons insig in hoe hierdie samekomste in die eerste eeu gehou is. ’n Bybelgeleerde skryf die volgende oor hierdie verse: “Wat werklik noemenswaardig is omtrent ’n vroeë Kerkdiens, is dat byna almal gekom het met die gedagte dat hulle die voorreg sowel as die verpligting het om iets daartoe by te dra. Mense het nie gekom om net te luister nie; hulle het nie gekom om net te ontvang nie, maar om te gee.” Ja, vroeë Christene het gemeentelike vergaderinge beskou as geleenthede om hulle geloof uit te spreek.—Rom. 10:10.

11. (a) Wat dra grootliks by tot opbouende vergaderinge, en waarom? (b) Watter wenke kan ons toepas om ons antwoorde by vergaderinge te verbeter? (Sien voetnoot.)

11 Wanneer ons ons geloof by vergaderinge uitspreek, dra ons grootliks by tot die “opbouing van die gemeente”. Jy sal sekerlik saamstem dat ons, ongeag hoeveel jare ons al vergaderinge bywoon, dit nog steeds baie geniet om na die antwoorde van ons broers en susters te luister. Ons word geraak deur ’n opregte antwoord van ’n bejaarde, getroue medegelowige; ons word aangemoedig deur ’n insigryke opmerking van ’n liefdevolle ouer man; en ons kan nie anders as om te glimlag wanneer ’n kind ’n spontane antwoord gee wat sy innige liefde vir Jehovah openbaar nie. Dit is duidelik dat ons almal help om Christelike vergaderinge opbouend te maak deur antwoorde te gee. b

12. (a) Wat kan ons leer uit die voorbeelde van Moses en Jeremia? (b) Hoe kan gebed ’n mens help om antwoorde by die vergaderinge te gee?

12 Maar vir diegene wat skaam is, kan dit ’n groot uitdaging wees om te antwoord. As dit met jou die geval is, sal dit dalk nuttig wees om in gedagte te hou dat jou situasie nie uniek is nie. Trouens, selfs getroue knegte van God soos Moses en Jeremia het nie vertroue gehad in hulle vermoë om in die openbaar te praat nie (Eks. 4:10; Jer. 1:6). Maar net soos Jehovah daardie knegte van ouds gehelp het om hom in die openbaar te loof, sal God jou help om lofoffers te bring. (Lees Hebreërs 13:15.) Hoe kan jy Jehovah se hulp ontvang om jou vrees om antwoorde te gee, te oorkom? Eerstens moet jy goed voorberei vir die vergadering. Dan moet jy, voordat jy Koninkryksaal toe gaan, Jehovah in gebed nader en hom spesifiek vra om jou die moed te gee om te antwoord (Fil. 4:6). Aangesien jy iets vra wat “volgens sy wil” is, kan jy vol vertroue wees dat Jehovah jou gebed sal verhoor.—1 Joh. 5:14; Spr. 15:29.

Vergaderinge wat bedoel is om ‘op te bou, aan te moedig en te troos’

13. (a) Watter uitwerking moet ons vergaderinge hê op diegene wat dit bywoon? (b) Watter vraag is vir ouer manne van besondere belang?

13 Volgens Paulus is ’n belangrike doel van gemeentelike vergaderinge om diegene wat dit bywoon, ‘op te bou, aan te moedig en te troos’ (1 Kor. 14:3). c Hoe kan hedendaagse Christen- ouer manne seker maak dat hulle vergaderingdele werklik hulle broers en susters opbou en troos? Om die antwoord te kry, sal ons ’n vergadering bespreek wat Jesus kort ná sy opstanding gehou het.

14. (a) Watter gebeure het ’n vergadering wat Jesus gereël het, voorafgegaan? (b) Waarom moes die apostels verlig gewees het toe Jesus “nader gekom en met hulle gepraat” het?

14 Let eerstens op die gebeure wat die vergadering voorafgegaan het. Kort voordat Jesus doodgemaak is, het die apostels “hom verlaat en gevlug”, en soos voorspel is, is ‘elkeen van hulle na sy eie huis verstrooi’ (Mark. 14:50; Joh. 16:32). Later, ná Jesus se opstanding, het hy sy mismoedige apostels genooi om ’n spesiale vergadering by te woon. d In reaksie hierop het “die elf dissipels . . . na Galilea gegaan, na die berg waar Jesus met hulle afgespreek het”. Toe hulle daar aankom, het Jesus “nader gekom en met hulle gepraat” (Matt. 28:10, 16, 18). Dink net hoe verlig die apostels moes gewees het toe Jesus die inisiatief geneem het! Wat het Jesus bespreek?

15. (a) Waaroor het Jesus gepraat, maar wat het hy nie bespreek nie? (b) Watter uitwerking het daardie vergadering op die apostels gehad?

15 Jesus het begin deur aan te kondig: “Alle gesag . . . is aan my gegee.” Toe het hy hulle ’n toewysing gegee: “Gaan dus en maak dissipels.” Laastens het hy hulle die liefdevolle versekering gegee: “Ek is met julle al die dae” (Matt. 28:18-20). Maar het jy opgelet wat Jesus nie gedoen het nie? Hy het nie sy apostels berispe nie; hy het ook nie daardie vergadering gebruik om hulle beweegredes in twyfel te trek of om hulle skuldgevoelens te vererger deur na hulle tydelike gebrek aan geloof te verwys nie. Jesus het hulle eerder van sy en sy Vader se liefde verseker deur hulle ’n belangrike toewysing te gee. Watter uitwerking het Jesus se benadering op die apostels gehad? Hulle was so opgebou, aangemoedig en getroos dat hulle ’n ruk ná daardie vergadering weer eens ‘geleer en die goeie nuus bekend gemaak het’.—Hand. 5:42.

16. Hoe volg Christen- ouer manne van vandag Jesus se voorbeeld na wanneer hulle vergaderinge hou wat ’n bron van verkwikking is?

16 In navolging van Jesus beskou ouer manne van vandag vergaderinge as geleenthede om medegelowiges van Jehovah se onveranderlike liefde vir sy volk te verseker (Rom. 8:38, 39). Gevolglik spits ouer manne hulle in hulle vergaderingdele toe op hulle broers se sterk punte, nie op hulle swakhede nie. Hulle bevraagteken nie hulle broers se beweegredes nie. Hulle woorde toon eerder dat hulle hulle medegelowiges beskou as persone wat vir Jehovah lief is en wil doen wat reg is (1 Tess. 4:1, 9-12). Die ouer manne sal natuurlik soms aan die hele gemeente raad moet gee om iets reg te stel, maar as net ’n paar persone reggehelp moet word, is dit gewoonlik die beste om die betrokkenes privaat raad te gee (Gal. 6:1; 2 Tim. 2:24-26). Wanneer die ouer manne met die hele gemeente praat, streef hulle daarna om die gemeente te prys wanneer dit ook al gepas is (Jes. 32:2). Hulle probeer om op so ’n manier te praat dat almal aan die einde van die vergadering verkwik en versterk is.—Matt. 11:28; Hand. 15:32.

’n Veilige hawe

17. (a) Waarom is dit nou belangriker as ooit tevore dat ons vergaderinge ’n veilige hawe is? (b) Wat kan jý doen om vergaderinge opbouend te maak? (Sien die venster “Tien maniere om vergaderinge vir jou en ander opbouend te maak”.)

17 Terwyl Satan se wêreld al hoe meer druk op mense uitoefen, moet ons seker maak dat ons Christelike samekomste ’n veilige hawe is—’n bron van vertroosting vir almal (1 Tess. 5:11). ’n Suster wat ’n paar jaar gelede saam met haar man ’n ernstige beproewing verduur het, vertel: “Wanneer ons by die Koninkryksaal was, het ons gevoel asof ons in Jehovah se liefdevolle hande gehou word. Gedurende die ure wat ons saam met ons Christenbroers en -susters by die vergaderinge deurgebring het, het ons gevoel dat ons ons las op Jehovah kon werp, en ons het ’n mate van innerlike kalmte ervaar” (Ps. 55:22). Mag almal wat ons vergaderinge bywoon, ook so aangemoedig en getroos voel. Om seker te maak dat dit die geval is, moet ons almal aanhou om te help om Christelike vergaderinge opbouend te maak.

[Voetnote]

a Daar is voorspel dat party aspekte van eerste-eeuse Christelike vergaderinge sou ophou. Byvoorbeeld, ons praat nie meer “in tale” nie en ons “profeteer” nie meer nie (1 Kor. 13:8; 14:5). Maar Paulus se instruksies help ons om te verstaan hoe Christelike vergaderinge vandag gehou moet word.

b Vir wenke oor hoe om ons antwoorde by die vergaderinge te verbeter, sien Die Wagtoring van 1 September 2003, bladsye 19-22.

c Met betrekking tot die verskil tussen ‘aanmoedig’ en “troos” verduidelik Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words dat die Griekse woord wat met “troos” vertaal word, op “’n groter mate van teerheid as [aanmoediging]” dui.—Vergelyk Johannes 11:19.

d Dit was dalk die geleentheid waarna Paulus later verwys het toe hy gesê het dat Jesus ‘aan meer as vyfhonderd verskyn het’.—1 Kor. 15:6.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe belangrik is Christelike vergaderinge?

• Waarom dra antwoorde wat by vergaderinge gegee word, by tot die “opbouing van die gemeente”?

• Wat kan ons leer uit ’n vergadering wat Jesus met sy volgelinge gehou het?

[Studievrae]

[Venster/Prente op bladsy 22, 23]

TIEN MANIERE OM VERGADERINGE VIR JOU EN ANDER OPBOUEND TE MAAK

Berei voor. Wanneer jy die inligting voorberei wat by die Koninkryksaal bespreek sal word, sal die vergaderinge jou aandag meer boei en ’n dieper indruk laat.

Woon vergaderinge gereeld by. Aangesien ’n hoë bywoningsyfer bemoedigender is vir almal wat teenwoordig is, maak jou bywoning ’n verskil.

Kom betyds. As jy in jou sitplek is voordat die vergadering begin, kan jy aan die openingslied en -gebed deelneem, wat deel uitmaak van ons aanbidding van Jehovah.

Kom goed toegerus. Bring jou Bybel en die publikasie(s) saam wat gedurende die vergadering gebruik word, sodat jy in die publikasie(s) kan volg en die bespreking beter kan verstaan.

Vermy dinge wat jou aandag kan aflei. Lees byvoorbeeld elektroniese teksboodskappe ná die vergaderinge, nie tydens die vergaderinge nie. Sodoende hou jy persoonlike sake op hulle gepaste plek.

Neem deel aan die vergaderinge. Wanneer meer mense antwoorde gee, word meer aangemoedig en opgebou deur die verskillende maniere waarop geloof uitgespreek word.

Hou jou antwoorde kort. Dit gee soveel mense moontlik die geleentheid om ’n deelname te hê.

Voer toewysings uit. Studente in die Teokratiese Bedieningskool of deelnemers aan die Diensvergadering moet goed voorberei, dele voor die tyd oefen en altyd hulle toewysing probeer uitvoer.

Prys deelnemers. Sê vir dié wat ’n deel op die program het of antwoorde gee, hoeveel hulle pogings waardeer word.

Assosieer. ’n Vriendelike groet en opbouende gesprekke voor en ná afloop van die vergaderinge dra by tot die genot en voordele wat vergaderingbywoning meebring.