Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat sê jou gebede oor jou?

Wat sê jou gebede oor jou?

Wat sê jou gebede oor jou?

“O Hoorder van die gebed, ja, tot u sal mense van alle vlees kom.”—PS. 65:2.

1, 2. Waarom kan Jehovah se knegte met vertroue tot hom bid?

 JEHOVAH sluit nooit sy ore vir die versoeke van sy getroue knegte nie. Ons kan vol vertroue wees dat hy ons hoor. Al bid miljoene Getuies van Jehovah op dieselfde oomblik tot God, kry niemand ’n ‘besettoon’ nie.

2 Die psalmis Dawid was vol vertroue dat God sy smekinge sal hoor en het gesing: “O Hoorder van die gebed, ja, tot u sal mense van alle vlees kom” (Ps. 65:2). Dawid se gebede is verhoor omdat hy ’n lojale aanbidder van Jehovah was. Ons kan ons gerus afvra: ‘Toon my smeekbedes dat ek op Jehovah vertrou en dat rein aanbidding vir my van die allergrootste belang is? Wat sê my gebede oor my?’

Nader Jehovah in nederigheid

3, 4. (a) Met watter gesindheid moet ons God in gebed nader? (b) Wat moet ons doen as ons worstel met “verontrustende gedagtes” in verband met ’n ernstige sonde?

3 As ons wil hê dat ons gebede verhoor moet word, moet ons God in nederigheid nader (Ps. 138:6). Ons moet Jehovah vra om ons te ondersoek, soos Dawid gedoen het toe hy gesê het: “Deurvors my, o God, en ken my hart. Ondersoek my, en ken my verontrustende gedagtes, en kyk of daar in my enigsins ’n pynlike weg is, en lei my op die weg van onbepaalde tyd” (Ps. 139:23, 24). Laat ons nie net bid nie, maar ons ook aan God se ondersoek en die raad in sy Woord onderwerp. Jehovah kan ons lei op “die weg van onbepaalde tyd” deur ons te help om ’n weg te volg wat tot die ewige lewe lei.

4 Gestel ons worstel met “verontrustende gedagtes” in verband met ’n ernstige sonde. (Lees Psalm 32:1-5.) As ons ’n skuldige gewete probeer onderdruk, kan dit ons van energie beroof, net soos ’n boom sy vog verloor in die intense somerhitte. Weens sy sonde het Dawid sy vreugde verloor en moontlik siek geword. Maar hoe verlig was hy tog toe hy sy sonde voor God bely het! Stel jou Dawid se vreugde voor toe hy besef het dat Jehovah ‘sy opstandigheid vergewe’ het. As ’n oortreder sy sonde voor God bely, kan dit verligting bring, en met die hulp van Christen- ouer manne kan hy ook weer geestelik gesond word.—Spr. 28:13; Jak. 5:13-16.

Smeek God en dank hom

5. Wat beteken dit om Jehovah te smeek?

5 As bekommernisse ons om die een of ander rede oorweldig, moet ons Paulus se raad toepas: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word” (Fil. 4:6). “Om te smeek” beteken “om ’n nederige versoek te rig”. Veral gedurende gevaar of vervolging moet ons Jehovah om hulp en leiding smeek.

6, 7. Om watter redes moet ons danksegging in ons gebede insluit?

6 Maar wat sou dit omtrent ons beweegredes openbaar as ons net bid wanneer ons iets nodig het? Paulus het gesê dat ons ons versoeke “tesame met danksegging” aan God bekend moet maak. Ons het beslis alle rede om gevoelens soos dié van Dawid uit te spreek: “Aan u, o Jehovah, behoort die grootheid en die mag en die luisterrykheid en die voortreflikheid en die waardigheid; want alles in die hemel en op die aarde behoort aan u. Aan u behoort die koninkryk, o Jehovah, u wat u ook as hoof oor alles verhef. . . . En nou, o ons God, dank ons u en loof ons u luisterryke naam.”—1 Kron. 29:11-13.

7 Jesus het God gedank vir kos asook vir die brood en wyn wat by die Here se Aandmaal gebruik is (Matt. 15:36; Mark. 14:22, 23). Ons moenie net soortgelyke dankbaarheid uitspreek nie, maar moet “Jehovah [ook] dank” vir “sy wonderlike werke teenoor die mensekinders”, vir sy “regverdige regterlike beslissings” en vir sy woord, of boodskap, wat nou in die Bybel beskikbaar is.—Ps. 107:15; 119:62, 105.

Bid vir ander

8, 9. Waarom moet ons vir mede-Christene bid?

8 Ons bid ongetwyfeld vir onsself, maar ons gebede moet ook ander insluit—selfs Christene wat ons nie by name ken nie. Al het die apostel Paulus dalk nie al die gelowiges in Kolosse geken nie, het hy geskryf: “Ons dank God, die Vader van ons Here Jesus Christus, altyd wanneer ons vir julle bid, aangesien ons gehoor het van julle geloof in verband met Christus Jesus en die liefde wat julle vir al die heiliges het” (Kol. 1:3, 4). Paulus het ook vir Christene in Tessalonika gebid (2 Tess. 1:11, 12). Sulke gebede sê baie oor ons en hoe ons ons broers en susters in die geloof beskou.

9 Ons gebede vir gesalfde Christene en vir hulle metgeselle, die “ander skape”, toon dat ons besorg is oor God se organisasie (Joh. 10:16). Paulus het medeaanbidders gevra om te bid sodat ‘die vermoë om te spreek aan hom gegee sou word om die heilige geheim van die goeie nuus bekend te maak’ (Ef. 6:17-20). Bid óns ook op hierdie manier vir ander Christene?

10. Watter uitwerking kan dit op ons hê wanneer ons vir ander bid?

10 Wanneer ons vir ander bid, kan dit ons gesindheid teenoor hulle verander. As ons vir iemand bid van wie ons nie juis hou nie, sal ons nie liefdeloos teenoor hom kan optree nie, of hoe? (1 Joh. 4:20, 21). Sulke gebede is opbouend en bevorder eenheid onder ons broers. Wat meer is, sulke gebede toon dat ons Christelike liefde het (Joh. 13:34, 35). Hierdie eienskap is deel van die vrug van God se gees. Bid ons as individue vir heilige gees en vra ons Jehovah om ons te help om die vrug daarvan, naamlik liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing, aan die dag te lê? (Luk. 11:13; Gal. 5:22, 23). Indien wel, sal ons woorde en dade toon dat ons deur gees wandel en lewe.—Lees Galasiërs 5:16, 25.

11. Waarom dink jy is dit gepas om ander te vra om vir ons te bid?

11 As ons uitvind dat ons kinders by die skool in die versoeking kom om in toetse te kul, moet ons vir hulle bid en hulle ook skriftuurlike hulp gee sodat hulle eerlik sal wees en niks verkeerds sal doen nie. Paulus het vir Christene in Korinte gesê: “Ons bid God dan nou dat julle niks verkeerds sal doen nie” (2 Kor. 13:7). Sulke nederige gebede behaag Jehovah en stel ons in ’n goeie lig. (Lees Spreuke 15:8.) Ons kan ander vra om vir ons te bid, net soos die apostel Paulus gedoen het. “Hou aan om vir ons te bid”, het hy geskryf, “want ons vertrou dat ons ’n eerlike gewete het, aangesien ons ons in alles eerlik wil gedra.”—Heb. 13:18.

Ons gebede sê selfs meer

12. Wat behoort belangrike punte in ons gebede te wees?

12 Sê ons gebede dat ons gelukkige, ywerige Getuies van Jehovah is? Handel ons smekinge hoofsaaklik oor gehoorsaamheid aan God se wil, die verkondiging van die Koninkryksboodskap, die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit en die heiliging van sy naam? Dit behoort belangrike punte in ons gebede te wees, soos blyk uit Jesus se modelgebed wat met hierdie woorde begin: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matt. 6:9, 10.

13, 14. Wat openbaar ons gebede oor ons?

13 Ons gebede tot God openbaar ons beweegredes, belangstellings en begeertes. Jehovah weet wat ons innerlik is. Spreuke 17:3 sê: “Die smeltkroes is vir silwer en die smeltoond vir goud, maar Jehovah is die ondersoeker van harte.” God sien wat in ons hart is (1 Sam. 16:7). Hy weet hoe ons voel oor ons vergaderinge, ons bediening en ons geestelike broers en susters. Jehovah is bewus van wat ons van Christus se “broers” dink (Matt. 25:40). Hy weet of ons werklik wil hê waarvoor ons bid en of ons bloot dieselfde woorde herhaal. “Wanneer julle bid”, het Jesus gesê, “moet julle nie dieselfde dinge oor en oor sê, net soos die mense van die nasies nie, want hulle dink [verkeerdelik] dat hulle verhoor sal word omdat hulle baie woorde gebruik.”—Matt. 6:7.

14 Wat ons in ons gebede sê, openbaar ook in watter mate ons op God vertrou. “U [Jehovah] was vir my ’n toevlug”, het Dawid gesê, “’n sterk toring teen die vyand. Ek sal vir onbepaalde tye ’n gas in u tent wees; ek sal in die skuilplek van u vleuels toevlug soek” (Ps. 61:3, 4). Wanneer God figuurlik gesproke “sy tent oor [ons] uitsprei”, geniet ons veiligheid en sy beskermende sorg (Op. 7:15). Hoe vertroostend is dit tog om nader aan Jehovah te kom in gebed met die vertroue dat hy tydens enige toets van ons geloof ‘aan ons kant’ is!—Lees Psalm 118:5-9.

15, 16. Wat kan gebed ons help onderskei omtrent ons begeerte om diensvoorregte te ontvang?

15 Wanneer ons in gebed tot Jehovah eerlik is omtrent ons beweegredes, kan dit ons help om ons ware beweegredes te onderskei. Byvoorbeeld, is ons gretig om as ’n opsiener onder God se volk te dien omdat ons werklik ’n nederige begeerte het om ander te help en ons bes te doen om Koninkryksbelange te bevorder? Of wil ons “die eerste plek” hê of selfs ‘baasspeel’ oor ander? Dit moenie so onder Jehovah se volk wees nie. (Lees 3 Johannes 9, 10; Lukas 22:24-27.) As ons verkeerde begeertes het, sal eerlikheid in ons gebede tot Jehovah God dit aan die lig bring en ons help om te verander voordat dit diepgewortel raak.

16 Christenvrouens wil dalk baie graag hê dat hulle mans as bedieningsknegte en miskien uiteindelik as opsieners, of ouer manne, moet dien. Hierdie susters tree moontlik in ooreenstemming met hulle private gebede op deur voorbeeldig te probeer wees. Dit is belangrik, want die spraak en gedrag van ’n man se gesin het ’n invloed op die gemeente se beskouing van hom.

Wanneer ander in openbare gebede verteenwoordig word

17. Waarom is dit goed om alleen te wees wanneer ons private gebede doen?

17 Jesus het dikwels van die skares af weggegaan om alleen tot sy Vader te bid (Matt. 14:13; Luk. 5:16; 6:12). Ons het dieselfde behoefte aan privaatheid. In ’n kalm gebed in ’n rustige omgewing sal ons waarskynlik besluite neem wat Jehovah sal behaag en ons geestelik tot voordeel sal strek. Maar Jesus het ook in die openbaar gebid, en dit is goed om te sien hoe dit op ’n gepaste manier gedoen kan word.

18. Wat moet broers wat ’n gemeente in openbare gebed verteenwoordig, in gedagte hou?

18 By ons vergaderinge verteenwoordig lojale manne die gemeente in openbare gebed (1 Tim. 2:8). Medegelowiges moet aan die einde van so ’n gebed “amen” kan sê, wat “laat dit so wees” beteken. Maar om dít te kan doen, moet hulle saamstem met wat gesê is. Jesus het in sy modelgebed niks skokkends of taktloos gesê nie (Luk. 11:2-4). Wat meer is, hy het nie al die behoeftes of probleme van elke persoon in sy gehoor opgenoem nie. Persoonlike bekommernisse is gepaste onderwerpe vir private gebede, nie openbare gebede nie. En wanneer ons ’n groep in gebed verteenwoordig, moet ons nie vertroulike sake meld nie.

19. Hoe moet ons ons gedurende ’n openbare gebed gedra?

19 Wanneer ons in openbare gebed verteenwoordig word, moet ons eerbiedige “vrees [vir] God” openbaar (1 Pet. 2:17). Daar is dalk ’n gepaste tyd en plek vir sekere dinge wat by ’n Christelike vergadering onvanpas sal wees (Pred. 3:1). Byvoorbeeld, gestel iemand wil hê dat ’n groep gedurende ’n openbare gebed by mekaar inhaak of hande vashou. Dit sal party dalk aanstoot gee of hulle aandag aftrek, insluitende besoekers wat nie medegelowiges is nie. Sommige huweliksmaats hou dalk onopsigtelik hande vas, maar as hulle mekaar gedurende ’n openbare gebed omhels, kan dit persone wat dit raaksien, laat struikel. Hulle dink dalk of kry moontlik die indruk dat die egpaar eerder op hulle romantiese verhouding konsentreer as op eerbied vir Jehovah. Laat ons dus, uit diepe respek vir God, “alles tot heerlikheid van God” doen en gedrag vermy wat steurend of skokkend is of wat iemand kan laat struikel.—1 Kor. 10:31, 32; 2 Kor. 6:3.

Waarvoor moet ons bid?

20. Hoe sal jy Romeine 8:26, 27 verduidelik?

20 Soms weet ons moontlik nie wat om in ons private gebede te sê nie. Paulus het geskryf: “Ons weet nie waarvoor ons moet bid soos ons moet nie, maar die [heilige] gees self pleit vir ons met onuitgesproke kreuninge. Tog weet hy [God] wat die harte deursoek wat die bedoeling van die gees is” (Rom. 8:26, 27). Jehovah het baie gebede in die Skrif laat opteken. Hy aanvaar hierdie geïnspireerde smekinge as versoeke wat ons graag wil rig en daarom verhoor hy dit. God ken ons en hy ken die betekenis van die dinge wat hy die Bybelskrywers deur sy gees laat spreek het. Jehovah verhoor ons smeekbedes wanneer die gees vir ons “pleit”, of intree. Maar namate ons meer vertroud raak met God se Woord, sal dinge waarvoor ons moet bid, dalk geredeliker in ons gedagtes opkom.

21. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

21 Soos ons gesien het, sê ons gebede baie oor ons. Dit kan byvoorbeeld openbaar hoe na ons al aan Jehovah gekom het en hoe goed ons sy Woord ken (Jak. 4:8). In die volgende artikel sal ons ’n paar gebede en biddende versoeke in die Bybel bespreek. Watter uitwerking kan so ’n ondersoek van die Skrif op ons gebede tot God hê?

Hoe sal jy antwoord?

• Met watter gesindheid moet ons Jehovah in gebed nader?

• Waarom moet ons vir medegelowiges bid?

• Wat openbaar ons gebede dalk oor ons en ons beweegredes?

• Hoe moet ons ons gedurende openbare gebede gedra?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 4]

Loof en dank jy Jehovah gereeld?

[Prent op bladsy 6]

Ons gedrag tydens openbare gebede moet Jehovah altyd eer