Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Openbaar jou geloof deur jou lewenswyse

Openbaar jou geloof deur jou lewenswyse

Openbaar jou geloof deur jou lewenswyse

“Geloof, as dit nie werke het nie, [is] op sigself dood.”—JAKOBUS 2:17.

1. Waarom het die vroeë Christene aandag gegee aan geloof sowel as werke?

 AS ’N groep het die vroeë Christene hulle geloof geopenbaar deur die manier waarop hulle gelewe het. Die dissipel Jakobus het alle Christene aangespoor: “Word daders van die woord en nie net hoorders . . . nie.” Hy het bygevoeg: “Soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook geloof sonder werke dood” (Jakobus 1:22; 2:26). Sowat 35 jaar nadat hy dit geskryf het, het baie Christene steeds hulle geloof deur gepaste werke geopenbaar. Maar ongelukkig was daar party wat dit nie gedoen het nie. Jesus het die gemeente in Smirna geprys; maar vir baie in die gemeente in Sardis het hy gesê: “Ek ken jou dade, dat jy die naam het dat jy lewend is, maar jy is dood.”—Openbaring 2:8-11; 3:1.

2. Wat moet Christene hulle afvra oor hulle geloof?

2 Jesus het dus diegene in Sardis—en by uitbreiding almal wat later sy woorde sou lees—aangespoor om hulle eerste liefde vir Christelike waarheid te bewys en geestelik wakker te bly (Openbaring 3:2, 3). Elkeen van ons kan ons afvra: ‘Wat van my dade? Blyk dit duidelik uit my dade dat ek lewend is en my bes doen om my geloof te openbaar deur alles wat ek doen, selfs op gebiede wat nie regstreeks verband hou met die predikingswerk of gemeentelike vergaderinge nie?’ (Lukas 16:10). Ons kan baie aspekte van die lewe bespreek, maar kom ons kyk na net een: gesellighede, waaronder dié wat dikwels ná Christentroues gehou word.

Klein gesellighede

3. Wat is die Bybel se beskouing van gesellighede?

3 Die meeste van ons hou daarvan om na ’n geselligheid vir gelukkige Christene genooi te word. Jehovah is “die gelukkige God”, wat wil hê dat sy knegte gelukkig moet wees (1 Timoteus 1:11). Hy het Salomo hierdie waarheid in die Bybel laat opteken: “Ek het blydskap geprys, omdat die mensdom niks beters onder die son het as om te eet en te drink en vrolik te wees nie, en dat dit hulle mag vergesel in hulle harde werk gedurende die dae van hulle lewe” (Prediker 3:1, 4, 13; 8:15). Hierdie blydskap kan ervaar word tydens ’n gesinsete of by ’n ander klein geselligheid vir ware aanbidders.—Job 1:4, 5, 18; Lukas 10:38-42; 14:12-14.

4. Wat moet vir iemand wat ’n geselligheid reël, van belang wees?

4 As jy so ’n geselligheid reël en daarvoor verantwoordelik is, moet jy mooi dink aan wat beplan word, selfs al nooi jy net ’n paar gelowiges uit om ’n ete en gesellige verkeer te geniet (Romeine 12:13). Jy moet seker maak dat ‘alles welvoeglik geskied’ en deur “die wysheid van bo” gerig word (1 Korintiërs 14:40; Jakobus 3:17). Die apostel Paulus het geskryf: “Hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot heerlikheid van God. Sorg dat julle nie oorsake van struikeling . . . word nie” (1 Korintiërs 10:31, 32). Wat is party aspekte wat besondere aandag verdien? As ’n mens vooraf daaraan dink, kan dit help om te verseker dat alles wat jy en jou gaste doen, daadwerklike geloof openbaar.—Romeine 12:2.

Watter soort geselligheid sal dit wees?

5. Waarom moet die gasheer goed daaroor nadink of hy alkohol gaan bedien en musiek gaan hê?

5 Baie gashere moes al besluit of hulle alkohol gaan bedien of nie. Alkohol is nie onontbeerlik vir ’n opbouende geselligheid nie. Onthou dat Jesus voedsel voorsien het vir ’n baie groot groep wat na hom toe gekom het—hy het brood en vis vermenigvuldig. Die verslag sê nie dat hy wonderdadig wyn voorsien het nie, hoewel ons weet dat hy in staat was om dit te doen (Matteus 14:14-21). As jy besluit om alkohol by ’n geselligheid te bedien, moet jy net ’n matige hoeveelheid voorsit en seker maak dat daar ander aangename drinkgoed is vir dié wat dit verkies (1 Timoteus 3:2, 3, 8; 5:23; 1 Petrus 4:3). Sorg dat jy nooit enigiemand onder druk plaas om iets te drink wat “soos ’n slang” kan byt nie (Spreuke 23:29-32). Wat van musiek of sang? As jy musiek by jou geselligheid gaan hê, sal jy ongetwyfeld die musiek versigtig kies en let op die ritme sowel as die woorde (Kolossense 3:8; Jakobus 1:21). Baie Christene het al gevind dat dit tot ’n aangename atmosfeer bydra as Kingdom Melodies gespeel word of selfs as hierdie liedere gesing word (Efesiërs 5:19, 20). En maak natuurlik gereeld seker dat die musiek nie so hard is dat dit aangename gesprekvoering belemmer of dalk die bure steur nie.—Matteus 7:12.

6. Hoe kan ’n gasheer toon dat hy ’n lewende geloof het wanneer dit by gesprekke of ander bedrywighede kom?

6 By ’n geselligheid gesels Christene dalk oor verskeie onderwerpe, lees hulle iets voor of vertel hulle interessante ondervindinge. As die gesprek minder opbouend begin raak, kan die gasheer dit taktvol in ’n ander rigting stuur. Hy moet ook seker maak dat een persoon nie die gesprek oorheers nie. As hy dit sien gebeur, kan hy die saak op oordeelkundige wyse regstel deur ander, soos die jonges, te betrek of deur ’n onderwerp in te lei wat ’n verskeidenheid kommentare sal uitlok. Jonk sowel as oud sal hierdie aspek van die geselligheid terdeë geniet. As jy, as die organiseerder, dinge verstandig en taktvol rig, sal jou ‘redelikheid bekend word’ aan al die aanwesiges (Filippense 4:5). Hulle sal kan aanvoel dat jy ’n lewende geloof het, een wat alle fasette van jou lewe beïnvloed.

Troues en onthale

7. Waarom verdien die beplanning van troues en die gepaardgaande gesellighede aandag?

7 Een spesiale geleentheid vir blydskap is ’n Christentroue. God se eertydse knegte, insluitende Jesus en sy dissipels, het graag sulke vreugdevolle geleenthede, wat met feesviering gepaardgegaan het, bygewoon (Genesis 29:21, 22; Johannes 2:1, 2). Maar in onlangse tye het ondervinding duidelik getoon dat dit baie goeie beplanning vereis om te verseker dat die sosiale bedrywighede wat met troues gepaardgaan, goeie oordeel en Christelike balans weerspieël. Nietemin is dit normale aspekte van die lewe wat ’n Christen die geleentheid gee om sy geloof te openbaar.

8, 9. Hoe bevestig wat by baie troues gebeur, die woorde wat ons in 1 Johannes 2:16, 17 lees?

8 Baie mense wat godvrugtige beginsels nie ken nie of hulle nie daaraan steur nie, beskou ’n troue as ’n geleentheid om tot uiterstes oor te gaan, of moontlik as ’n geleentheid waar uiterstes verskoon word. In ’n Europese tydskrif het ’n pas getroude vrou van haar “koninklike” troue gesê: ‘Ons het in ’n sierkoets met vier perde gery, gevolg deur 12 oop kapkarre en ’n perdewa met ’n orkes wat musiek gespeel het. Daarna het ons ’n heerlike ete en uitstekende musiek geniet; dit was fantasties. Ek was daardie dag ’n koningin, net soos ek dit wou hê.’

9 Terwyl gebruike van land tot land kan verskil, bevestig daardie woorde eenvoudig wat die apostel Johannes geskryf het: “Alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld.” Kan jy jou indink dat ’n geestelik volwasse Christenpaartjie ’n “koninklike” troue sou wou hê met ’n spoggerige, sprokiesagtige onthaal? Hulle beskouing moet eerder in ag neem dat ‘hy wat die wil van God doen, vir ewig bly’.—1 Johannes 2:16, 17.

10. (a) Waarom is beplanning noodsaaklik vir ’n troue wat redelikheid weerspieël? (b) Hoe moet besluite gemaak word oor wie genooi sal word?

10 Christenpaartjies wil realisties sowel as redelik wees, en die Bybel kan hulle hiermee help. Al is die troudag baie betekenisvol, weet hulle dat dit bloot die begin is van die getroude lewe van twee Christene wat die vooruitsig het om vir ewig te lewe. Hulle is nie verplig om ’n groot bruilof te hê nie. As hulle wel besluit om ’n geselligheid te hê, moet hulle die koste van die geselligheid bereken en besluit wat die aard van die geselligheid gaan wees (Lukas 14:28). In hulle Christelike lewe saam sal die man die skriftuurlike hoof wees (1 Korintiërs 11:3; Efesiërs 5:22, 23). Die onthaal is dus hoofsaaklik die bruidegom se verantwoordelikheid. Hy sal natuurlik liefdevol sake met sy aanstaande vrou wil bespreek, soos wie hulle graag na die bruilof wil en kan nooi. Dit sal dalk nie moontlik of prakties wees om al hulle vriende en familielede te nooi nie; daarom sal beskeidenheid vereis dat daar sekere besluite gemaak word. Die paartjie moet die vertroue hê dat mede-Christene wat nie genooi kan word nie, sal verstaan en nie aanstoot sal neem nie.—Prediker 7:9.

“Die feesleier”

11. Watter rol kan ’n “feesleier” by ’n troue speel?

11 Hoe kan ’n paartjie wat besluit om ’n geselligheid ter viering van hulle troue te hê, verseker dat die geleentheid waardig bly? Jehovah se Getuies sien al dekades lank die wysheid van ’n aspek wat gemeld word in verband met die geselligheid wat Jesus in Kana bygewoon het. Daar was ’n “feesleier”, sekerlik ’n verantwoordelike medegelowige (Johannes 2:9, 10). ’n Verstandige bruidegom sal eweneens ’n geestelik volwasse Christenbroer kies vir hierdie belangrike rol. Nadat die feesleier uitgevind het wat die bruidegom se wense en voorkeure is, kan hy toesien dat daardie besonderhede voor asook gedurende die geselligheid deurgevoer word.

12. Wat moet die bruidegom in ag neem wat die gebruik van alkohol betref?

12 In ooreenstemming met wat in paragraaf 5 bespreek is, verkies party paartjies om geen alkohol by hulle bruilof te bedien nie, sodat die misbruik daarvan nie afbreuk sal doen aan die blydskap en sukses van die geleentheid nie (Romeine 13:13; 1 Korintiërs 5:11). Maar as daar wel alkohol gaan wees, moet die bruidegom toesien dat ’n matige hoeveelheid bedien word of beskikbaar is. Daar was wyn by die huweliksfees wat Jesus in Kana bygewoon het, en hy het wyn van goeie gehalte voorsien. Interessant genoeg, die feesleier by daardie troue het gesê: “Elke ander mens sit eers die goeie wyn voor, en wanneer mense dronk is, die minderwaardige. Jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou” (Johannes 2:10). Jesus het beslis nie tot enige dronkenskap bygedra nie, want hy het dit afgekeur (Lukas 12:45, 46). Toe die feesleier sy verbasing uitgespreek het oor die gehalte van die wyn, het hy duidelik getoon dat hy al gevalle gesien het waar party gaste by ’n troue dronk geword het (Handelinge 2:15; 1 Tessalonisense 5:7). Gevolglik moet die bruidegom sowel as die betroubare Christen wat hy as feesleier aanstel, seker maak dat al die gaste die duidelike riglyn volg: “Moenie dronk word van wyn, waarin daar losbandigheid is nie.”—Efesiërs 5:18; Spreuke 20:1; Hosea 4:11.

13. Waaraan moet ’n paartjie dink as hulle reël om musiek by ’n bruilof te hê, en waarom?

13 As daar musiek gaan wees, moet daar, soos by ander gesellighede, toegesien word dat dit sag genoeg is sodat dit gemaklik is om gesprekke te voer. Een Christen- ouer man het gesê: “Met die verloop van die aand, wanneer gesprekke lewendiger word of die dansery begin, word die musiek soms al hoe harder. Wat as agtergrondmusiek begin het, kan hard word en dit moeilik maak om gesprekke te voer. ’n Huweliksonthaal bied ’n geleentheid om aangename geselskap te geniet. Hoe hartseer sou dit tog wees as hierdie geleentheid deur harde musiek bederf word!” Ook hier moet die bruidegom en die feesleier verantwoordelik optree en nie beheer oor die soort musiek en hoe hard dit gespeel word, oorlaat aan die musikante nie, hetsy hulle gehuur is of nie. Paulus het geskryf: “Wat julle ook al in woord of in werk doen, doen alles in die naam van die Here Jesus” (Kolossense 3:17). Sal die gaste, wanneer hulle ná die bruilof (of, onthaal) huis toe gaan, aan die musiek kan terugdink as iets wat weerspieël dat die paartjie vasbeslote is om alles in die naam van Jesus te doen? Dit behoort die geval te wees.

14. Watter aangename herinneringe moet Christene van ’n troue hê?

14 Ja, ’n goed georganiseerde troue kan met genoeë onthou word. Adam en Edyta, wat al 30 jaar getroud is, het van een troue gesê: “’n Mens kon regtig die Christelike atmosfeer aanvoel. Daar was liedere tot eer van Jehovah, maar ook ander aangename vermaak. Die dansery en musiek was van minder belang. Dit was aangenaam en opbouend, en alles was in ooreenstemming met Bybelbeginsels.” Dit is duidelik dat die bruid en bruidegom baie kan doen om te toon dat hulle hulle geloof deur hulle werke openbaar.

Trougeskenke

15. Watter Bybelraad kan in verband met trougeskenke toegepas word?

15 In baie lande is dit algemeen vir vriende en familielede om ’n geskenk te gee vir dié wat trou. Wat kan jy in gedagte hou wanneer jy besluit om ’n geskenk te gee? Wel, dink aan die apostel Johannes se kommentaar oor “die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele”. Hy het hierdie vertonerigheid verbind met ‘die wêreld wat verbygaan’, nie met Christene wat hulle geloof deur dade openbaar nie (1 Johannes 2:16, 17). Behoort die pasgetroudes dan, met die oog op Johannes se geïnspireerde opmerking, aan almal bekend te maak wie elke geskenk gegee het? Christene in Masedonië en Agaje het bydraes vir hulle broers in Jerusalem gegee, maar daar is geen aanduiding dat hulle name bekend gemaak is nie (Romeine 15:26). Baie Christene wat ’n trougeskenk gee, sal verkies om eerder anoniem te bly as om onnodige aandag op hulle te laat vestig. Hersien gerus in dié verband Jesus se raad in Matteus 6:1-4.

16. Hoe kan pasgetroudes voorkom dat hulle ander se gevoelens seermaak wanneer dit by trougeskenke kom?

16 As die name bekend gemaak word van dié wat geskenke gegee het, kan dit ‘wedywering aanwakker’ oor wie die duurste geskenk gegee het. Pas getroude Christene sal dus verstandig wees as hulle eerder nie die name aankondig van dié wat geskenke gegee het nie. Om hierdie name aan te kondig, kan diegene in die verleentheid stel wat dit dalk nie kon bekostig om ’n geskenk te gee nie (Galasiërs 5:26; 6:10). Dit is natuurlik nie verkeerd as die bruid en bruidegom weet wie ’n sekere geskenk gegee het nie. Hulle kan dit moontlik uitvind as daar ’n gepaste kaartjie by die geskenk is, wat nie voor almal gelees word nie. Wanneer ons trougeskenke koop, gee of ontvang, het ons almal ’n geleentheid om selfs in so ’n private saak te toon dat ons geloof ons dade beïnvloed. a

17. Watter doelwit moet Christene nastreef wat hulle geloof en werke betref?

17 Om ons geloof te openbaar, behels beslis meer as om net ’n sedelike lewe te lei, Christelike vergaderinge by te woon en aan die predikingswerk deel te neem. Mag elkeen van ons ’n lewende geloof hê wat ’n invloed het op alles wat ons doen. Ja, ons kan ons geloof openbaar deur dade wat ‘ten volle verrig’ word, insluitende dié op gebiede van die lewe wat hierbo bespreek is.—Openbaring 3:2.

18. Hoe kan die woorde in Johannes 13:17 waar bewys word in verband met Christentroues en -gesellighede?

18 Nadat Jesus ’n goeie voorbeeld vir sy getroue apostels gestel het deur die nederige daad om hulle voete te was, het hy gesê: “As julle hierdie dinge weet, gelukkig is julle as julle dit doen” (Johannes 13:4-17). In die omgewing waar ons vandag woon, is dit dalk nie nodig of algemeen om iemand anders, soos ’n gas in ons huis, se voete te was nie. Maar soos ons in hierdie artikel bespreek het, is daar ander aspekte van die lewe waarin ons ons geloof kan openbaar deur middel van liefdevolle, bedagsame dade, waaronder dié wat met gesellighede en Christentroues gepaardgaan. Dit is die geval of dit ons is wat gaan trou en of ons gaste is by ’n troue of die gepaardgaande geselligheid wat bygewoon word deur Christene wat hulle geloof deur hulle dade wil openbaar.

[Voetnoot]

a Verdere aspekte van troues en die onthaal wat daarmee gepaardgaan, word bespreek in die volgende artikel, “Vergroot die vreugde en waardigheid van jou troudag”.

Hoe sal jy antwoord?

Hoe kan jy jou geloof openbaar

• wanneer jy ’n geselligheid reël?

• wanneer jy ’n troue of ’n onthaal reël?

• wanneer jy trougeskenke gee of ontvang?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 24]

Selfs wanneer ons net ’n paar mense nooi, moet ons deur “die wysheid van bo” gerig word