Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moedig weens geloof en godvrugtige vrees

Moedig weens geloof en godvrugtige vrees

Moedig weens geloof en godvrugtige vrees

“Wees moedig en sterk . . . Jehovah jou God is met jou.”—JOSUA 1:9.

1, 2. (a) Watter kanse het Israel vanuit ’n menslike oogpunt gehad om die Kanaäniete te oorwin? (b) Watter versekering het Josua ontvang?

 IN 1473 v.G.J. was die nasie Israel gereed om die Beloofde Land binne te gaan. Moses het die volk herinner aan die uitdagings wat voorgelê het: “Jy trek vandag deur die Jordaan om in te gaan en nasies uit hulle besitting te verdryf wat groter en magtiger is as jy, stede wat groot en tot aan die hemel versterk is, ’n volk wat groot en lank is, die kinders van die Enakiete, van wie jy . . . gehoor het dat daar gesê word: ‘Wie kan standhou voor die kinders van Enak?’” (Deuteronomium 9:1, 2). Ja, hierdie reusevegters het spreekwoordelik geword! Daarbenewens het party Kanaäniete goed toegeruste leërs gehad, met perde en strydwaens wat ystersense aan die wiele gehad het.—Rigters 4:13.

2 Israel daarenteen was ’n nasie van slawe en het kort tevore 40 jaar in die wildernis deurgebring. Vanuit ’n menslike oogpunt het hulle kanse om ’n oorwinning te behaal, baie skraal gelyk. Maar Moses het geloof gehad; hy kon “sien” dat Jehovah hulle lei (Hebreërs 11:27). “Jehovah jou God [trek] voor jou [oor]”, het Moses vir die volk gesê. “Hy sal hulle verdelg en hy sal hulle voor jou onderwerp” (Deuteronomium 9:3; Psalm 33:16, 17). Ná Moses se dood het Jehovah Josua van Sy steun verseker en gesê: “Staan nou op, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat ek aan hulle, aan die kinders van Israel, gee. Niemand sal al die dae van jou lewe voor jou standhou nie. Net soos ek met Moses was, sal ek met jou wees.”—Josua 1:2, 5.

3. Wat het Josua gehelp om geloof en moed te hê?

3 Om Jehovah se ondersteuning en leiding te hê, moes Josua God se Wet lees en daaroor peins en daarvolgens lewe. “Dan sal jy jou weg suksesvol maak en dan sal jy wys handel”, het Jehovah gesê. “Het ek jou nie beveel nie? Wees moedig en sterk. Moenie sidder of verskrik wees nie, want Jehovah jou God is met jou waar jy ook al gaan” (Josua 1:8, 9). Omdat Josua na God geluister het, was hy moedig, sterk en suksesvol. Die meeste van sy geslag het egter nie geluister nie. Gevolglik was hulle nie suksesvol nie en het hulle in die wildernis gesterf.

’n Ongelowige volk met ’n gebrek aan moed

4, 5. (a) Hoe het die gesindheid van die tien verkenners met dié van Josua en Kaleb vergelyk? (b) Hoe het Jehovah op die volk se gebrek aan geloof gereageer?

4 Veertig jaar vroeër, toe Israel Kanaän die eerste keer genader het, het Moses 12 manne uitgestuur om die land te gaan verken. Tien het bevrees teruggekeer. “Al die mense wat ons daarin gesien het, is manne wat buitengewoon groot is”, het hulle uitgeroep. “Daar het ons die Nefilim gesien, die kinders van Enak, wat van die Nefilim afkomstig is, sodat ons in ons eie oë soos sprinkane geword het.” Was “al die mense”—nie net die Enakiete nie—reuse? Nee. Was die Enakiete afstammelinge van die Nefilim wat voor die Vloed geleef het? Natuurlik nie! Nietemin het vrees weens hierdie verdraaide stellings soos ’n veldbrand deur die kamp versprei. Die volk wou selfs terugkeer na Egipte, die land waar hulle in slawerny was!—Numeri 13:31–14:4.

5 Twee van die verkenners, Josua en Kaleb, was egter gretig om die Beloofde Land binne te gaan. Die Kanaäniete “is brood vir ons”, het hulle gesê. “Hulle beskutting het van hulle gewyk, en Jehovah is met ons. Moet hulle nie vrees nie” (Numeri 14:9). Was Josua en Kaleb se optimisme ongegrond? Geensins! Soos die res van die nasie, het hulle gesien hoe Jehovah die magtige Egipte en sy gode deur middel van die Tien Plae verneder. Daarna het hulle gesien hoe Jehovah Farao en sy krygsmag in die Rooi See laat verdrink (Psalm 136:15). Dit is duidelik dat die vrees van die tien verkenners en dié wat deur hulle beïnvloed is, onverskoonbaar was. “Hoe lank sal hulle geen geloof in my stel nie, ondanks al die tekens wat ek onder hulle verrig het?” het Jehovah gesê, wat toon dat hy diep seergemaak was.—Numeri 14:11.

6. Hoe is moed verbonde aan geloof, en hoe word dit in hedendaagse tye gesien?

6 Jehovah het dadelik die kern van die probleem geïdentifiseer—die lafhartige gesindheid van die volk het hulle gebrek aan geloof verraai. Ja, geloof en moed is nou verbonde aan mekaar, in so ’n mate dat die apostel Johannes oor die Christengemeente en die geestelike oorlogvoering waarin dit gewikkel is, kon skryf: “Dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin het: ons geloof” (1 Johannes 5:4). Vandag het geloof soos dié van Josua en Kaleb daartoe gelei dat die goeie nuus van die Koninkryk regoor die wêreld verkondig word deur meer as sesmiljoen Getuies van Jehovah, jonges en oues, sterkes en swakkes. Geen vyand kon daarin slaag om hierdie magtige, moedige leërmag stil te maak nie.—Romeine 8:31.

Moenie “terugdeins” nie

7. Wat beteken dit om ‘terug te deins’?

7 Jehovah se hedendaagse knegte verkondig die goeie nuus moedig omdat hulle dieselfde geestesgesindheid het as die apostel Paulus, wat geskryf het: “Ons is . . . nie die soort wat terugdeins tot vernietiging nie, maar die soort wat geloof het tot die behoud van die siel” (Hebreërs 10:39). Hierdie “terugdeins”, waarvan Paulus gepraat het, verwys nie net na ’n tydelike gevoel van vrees nie, want talle getroue knegte van God het al by tye bang gevoel (1 Samuel 21:12; 1 Konings 19:1-4). Dit beteken eerder “om terug te trek, te onttrek”, “traag te wees om vas te hou aan die waarheid”, verduidelik een Bybelwoordeboek. Dit voeg by dat “terugdeins” moontlik ’n metafoor is wat sy oorsprong het by die gebruik om “’n seil in te bind en dus die spoed te verminder” wat God se diens betref. Diegene met sterk geloof oorweeg dit natuurlik glad nie om “die spoed te verminder” wanneer probleme ontstaan nie—hetsy dit vervolging, swak gesondheid of ’n ander beproewing is. Hulle beur eerder voort in hulle diens aan Jehovah, in die wete dat hy diep besorg is oor hulle en bewus is van hulle beperkings (Psalm 55:22; 103:14). Het jy hierdie soort geloof?

8, 9. (a) Hoe het Jehovah die vroeë Christene se geloof versterk? (b) Wat kan ons doen om ons geloof op te bou?

8 Die apostels het eenkeer gevoel dat hulle nie genoeg geloof het nie, en daarom het hulle vir Jesus gesê: “Gee ons meer geloof” (Lukas 17:5). Hulle opregte versoek is toegestaan, veral op Pinkster 33 G.J., toe die beloofde heilige gees oor die dissipels gekom het en hulle ’n dieper insig in God se Woord en voorneme gegee het (Johannes 14:26; Handelinge 2:1-4). Hulle geloof is versterk en die dissipels het met ’n predikingsveldtog begin wat, ondanks teenstand, die goeie nuus versprei het na “die hele skepping wat onder die hemel is”.—Kolossense 1:23; Handelinge 1:8; 28:22.

9 Om ons geloof op te bou en voort te beur in ons bediening, moet ons ook die Skrif bestudeer en daaroor peins en vir heilige gees bid. Slegs deur die waarheid van God in ons verstand en hart in te prent—soos Josua, Kaleb en die vroeë Christendissipels gedoen het—sal ons geloof hê wat ons die nodige moed gee om in ons geestelike oorlogvoering te volhard en te seëvier.—Romeine 10:17.

Geloof—meer as om net te glo

10. Wat behels ware geloof alles?

10 Soos eertydse handhawers van onkreukbaarheid getoon het, behels geloof wat tot moed en volharding lei, meer as om net in God te glo (Jakobus 2:19). Dit vereis dat ons Jehovah as ’n persoon leer ken en ons volle vertroue in hom stel (Psalm 78:5-8; Spreuke 3:5, 6). Dit beteken dat ons met ons hele hart glo dat dit tot ons beswil is om op God se wette en beginsels ag te gee (Jesaja 48:17, 18). Geloof sluit ook in dat ons heeltemal daarvan oortuig is dat Jehovah al sy beloftes sal vervul en “die beloner [sal] word van dié wat hom ernstig soek”.—Hebreërs 11:1, 6; Jesaja 55:11.

11. Hoe is Josua en Kaleb vir hulle geloof en moed geseën?

11 Hierdie geloof is nie staties nie. Dit groei namate ons die waarheid uitleef, die voordele “smaak”, die antwoorde op ons gebede “sien” en Jehovah se leiding op ander maniere in ons lewe ervaar (Psalm 34:8; 1 Johannes 5:14, 15). Ons kan daarvan seker wees dat Josua en Kaleb se geloof sterker geword het namate hulle God se goedheid gesmaak het (Josua 23:14). Dink byvoorbeeld aan die volgende punte: Hulle het die 40 jaar lange trek deur die wildernis oorleef, net soos God hulle beloof het (Numeri 14:27-30; 32:11, 12). Hulle het ’n daadwerklike rol gespeel in die ses jaar lange verowering van Kanaän. Uiteindelik het hulle ’n lang lewe en blakende gesondheid geniet en het elkeen selfs ’n persoonlike erfdeel ontvang. Hoe beloon Jehovah tog diegene wat hom met geloof en moed dien!—Josua 14:6, 9-14; 19:49, 50; 24:29.

12. Hoe ‘maak Jehovah sy woord groot’?

12 God se liefderyke goedhartigheid teenoor Josua en Kaleb herinner ons aan die psalmis se woorde: “U het u woord groot gemaak selfs bo u ganse naam” (Psalm 138:2). Wanneer Jehovah sy naam aan ’n belofte verbind, word die vervulling van daardie belofte “groot gemaak” in die sin dat dit alle verwagtinge oortref (Efesiërs 3:20). Ja, Jehovah stel nooit diegene teleur wat hulle in hom “verlustig” nie.—Psalm 37:3, 4.

’n Man wat “vir God welbehaaglik was”

13, 14. Waarom het Henog geloof en moed nodig gehad?

13 Ons kan baie leer omtrent geloof en moed deur te kyk na die voorbeeld van ’n ander voor-Christelike getuie—Henog. Selfs voordat Henog begin profeteer het, het hy waarskynlik geweet dat sy geloof en moed op die proef gestel sou word. Hoe so? Omdat Jehovah in Eden gesê het dat daar vyandskap, of haat, sou wees tussen diegene wat God dien en diegene wat Satan die Duiwel dien (Genesis 3:15). Henog het ook geweet dat hierdie haat al vroeg in die mensegeskiedenis kop uitgesteek het toe Kain sy broer Abel vermoor het. Daarbenewens het hulle vader, Adam, byna 310 jaar ná Henog se geboorte nog gelewe.—Genesis 5:3-18.

14 Maar ten spyte van hierdie feite het Henog moedig voortgegaan om ‘met die ware God te wandel’ en het hy “die skokkende dinge” wat mense teen Jehovah gespreek het, veroordeel (Genesis 5:22; Judas 14, 15). Hierdie vreeslose standpunt wat Henog vir ware aanbidding ingeneem het, het vir hom baie vyande gemaak en sy lewe in gevaar gestel. In dié geval het Jehovah sy profeet die smarte van die dood gespaar. Nadat Jehovah aan Henog geopenbaar het “dat hy vir God welbehaaglik was”, het Hy hom van die lewe na die dood “weggevoer”, dalk gedurende ’n profetiese beswyming.—Hebreërs 11:5, 13; Genesis 5:24.

15. Watter goeie voorbeeld het Henog vir Jehovah se hedendaagse knegte gestel?

15 Onmiddellik nadat Paulus Henog se wegvoering genoem het, het hy weer die belangrikheid van geloof beklemtoon en gesê: “Wat meer is, sonder geloof is dit onmoontlik om vir [God] welbehaaglik te wees” (Hebreërs 11:6). Ja, geloof het Henog die moed gegee om met Jehovah te wandel en om Sy oordeelsboodskap aan ’n goddelose wêreld te verkondig. Hierin het Henog ’n goeie voorbeeld vir ons gestel. Ons het ’n soortgelyke werk om te doen in ’n wêreld wat gekant is teen ware aanbidding en wat deurtrek is van elke vorm van slegtheid.—Psalm 92:7; Matteus 24:14; Openbaring 12:17.

Moed wat voortspruit uit godvrugtige vrees

16, 17. Wie was Obadja, en in watter omstandighede het hy hom bevind?

16 Benewens geloof is daar nog ’n eienskap wat ’n mens help om moedig te wees, naamlik eerbiedige vrees vir God. Kom ons kyk na ’n uitstekende voorbeeld van ’n godvresende man wat gelewe het in die dae van die profeet Elia en van koning Agab, wat oor die noordelike koninkryk van Israel regeer het. Gedurende Agab se heerskappy is die noordelike koninkryk op ongeëwenaarde skaal deur Baälaanbidding verderf. Trouens, 450 profete van Baäl en 400 profete van die heilige paal, ’n falliese simbool, het “[geëet] aan die tafel van Isebel”, Agab se vrou.—1 Konings 16:30-33; 18:19.

17 Isebel was ’n onverbiddelike vyand van Jehovah en het ware aanbidding uit die land probeer uitroei. Sy het party van Jehovah se profete vermoor en selfs Elia probeer doodmaak, wat op God se bevel oor die Jordaan gevlug en ontkom het (1 Konings 17:1-3; 18:13). Kan jy jou voorstel hoe moeilik dit destyds was om rein aanbidding in die noordelike koninkryk te beoefen? Nog erger, gestel jy het daar ín die koninklike paleis gewerk. Dit was die situasie waarin die godvresende man Obadja, a die bestuurder van Agab se huishouding, hom bevind het.—1 Konings 18:3.

18. Wat het van Obadja ’n uitsonderlike aanbidder van Jehovah gemaak?

18 Obadja was ongetwyfeld versigtig sowel as oordeelkundig in sy aanbidding van Jehovah. Hy het hom nogtans nie aan ontrouheid skuldig gemaak nie. Trouens, 1 Konings 18:3 sê vir ons: “Obadja was iemand wat Jehovah baie gevrees het.” Ja, Obadja se vrees vir God was uitsonderlik! Hierdie heilsame vrees het hom weer buitengewone moed gegee, soos blyk uit wat gebeur het onmiddellik nadat Isebel Jehovah se profete vermoor het.

19. Wat het Obadja gedoen wat sy moed getoon het?

19 Ons lees: “Obadja [het], toe Isebel Jehovah se profete uitgeroei het, honderd profete geneem en hulle vyftig-vyftig in ’n grot weggesteek, en hy het hulle van brood en water voorsien” (1 Konings 18:4). Soos jy jou kan voorstel, was dit baie gevaarlik om honderd manne in die geheim van kos te voorsien. Nie net moes Obadja sorg dat Agab en Isebel hom nie vang nie, maar hy moes ook sorg dat die 850 valse profete wat gereeld na die paleis toe gekom het, hom nie betrap nie. Daarbenewens sou die tallose ander valse aanbidders in die land, van gewone burgers tot vorste, ongetwyfeld enige geleentheid aangegryp het om Obadja aan die kaak te stel sodat hulle die koning en koningin se guns kon wen. Nogtans het Obadja, vlak voor die neuse van al daardie afgodedienaars, moedig omgesien na die behoeftes van Jehovah se profete. Hoe kragtig kan vrees vir God tog wees!

20. Hoe het Obadja se godvrugtige vrees hom gehelp, en hoe help sy voorbeeld jou?

20 Omdat Obadja weens sy godvrugtige vrees moed aan die dag gelê het, het Jehovah hom blykbaar teen sy vyande beskerm. Spreuke 29:25 sê: “Om vir mense te bewe, span ’n strik, maar hy wat op Jehovah vertrou, sal beskerm word.” Obadja was maar net ’n doodgewone mens; hy was bang dat hy gevang en doodgemaak sou word, soos ons ook sou wees (1 Konings 18:7-9, 12). Maar godvrugtige vrees het hom die moed gegee om uit te styg bo enige mensevrees wat hy miskien gehad het. Obadja is ’n goeie voorbeeld vir ons almal, veral vir dié wat Jehovah dien al loop hulle gevaar om hulle vryheid of selfs hulle lewe te verloor (Matteus 24:9). Ja, mag ons almal daarna streef om Jehovah “met godvrugtige vrees en ontsag” te dien.—Hebreërs 12:28.

21. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

21 Geloof en godvrugtige vrees is nie die enigste eienskappe wat ’n mens help om moedig te wees nie; liefde kan selfs ’n kragtiger aansporing wees. “God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag en van liefde en van gesonde verstand”, het Paulus geskryf (2 Timoteus 1:7). In die volgende artikel sal ons sien hoe liefde ons kan help om Jehovah moedig te dien gedurende hierdie kritieke laaste dae.—2 Timoteus 3:1.

[Voetnoot]

a Nie die profeet Obadja nie.

Kan jy antwoord?

• Wat het Josua en Kaleb gehelp om moedig te wees?

• Wat sluit ware geloof in?

• Waarom het Henog God se oordeelsboodskap vreesloos bekend gemaak?

• Hoe word moed deur godvrugtige vrees versterk?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 16, 17]

Jehovah het Josua beveel: “Wees moedig en sterk”

[Prent op bladsy 18]

Obadja het na God se profete omgesien en hulle beskerm

[Prente op bladsy 19]

Henog het God se woord moedig gespreek