Vrae van lesers
Vrae van lesers
Wat het die apostel Paulus bedoel toe hy gesê het dat vroue ‘in die gemeentes moet stilbly’?
Paulus het aan die Christengemeente in Korinte geskryf: “Soos in al die gemeentes van die heiliges: Laat die vroue stilbly in die gemeentes, want hulle word nie toegelaat om te praat nie” (1 Korintiërs 14:33, 34). Om hierdie woorde reg te verstaan, sal dit nuttig wees om na die konteks van Paulus se raad te kyk.
In 1 Korintiërs hoofstuk 14 het Paulus sake bespreek wat verband hou met vergaderinge van die Christengemeente. Hy het beskryf wat by sulke vergaderinge bespreek moes word en aanbeveel hoe dit gehou moes word (1 Korintiërs 14:1-6, 26-34). Daarbenewens het hy die doel van Christelike vergaderinge beklemtoon—“sodat die gemeente opgebou kan word”.—1 Korintiërs 14:4, 5, 12, 26.
Paulus se opdrag om ‘stil te bly’, verskyn drie keer in 1 Korintiërs hoofstuk 14. Dit word elke keer gerig tot ’n ander groep in die gemeente, maar in al die gevalle is dit om dieselfde rede—dat “alles welvoeglik en volgens reëling geskied”.—1 Korintiërs 14:40.
Eerstens het Paulus gesê: “As iemand in ’n taal praat, laat dit dan tot twee of hoogstens drie beperk wees, en by beurte; en laat iemand vertaal. Maar as daar geen vertaler is nie, laat hom dan stilbly in die gemeente en met homself en met God praat” (1 Korintiërs 14:27, 28). Dit het nie beteken dat so iemand nooit by vergaderinge moes praat nie, maar dat daar tye sou wees wanneer hy moes stilbly. Die doel van die vergaderinge—om mekaar op te bou—sou immers nie bereik word as hy in ’n taal gepraat het wat niemand kon verstaan nie.
Tweedens het Paulus gesê: “Laat twee of drie profete praat, en laat die ander die betekenis onderskei. Maar as ’n ander een ’n openbaring kry terwyl hy daar sit, moet die eerste stilbly.” Dit het nie beteken dat die eerste profeet glad nie by die vergaderinge kon praat nie, maar dat hy soms moes stilbly. Dan kon die een wat die wonderdadige openbaring 1 Korintiërs 14:26, 29-31.
ontvang het, die gemeente toespreek, en só sou die doel van die vergadering—dat “almal aangemoedig kan word”—bereik word.—Derdens het Paulus net met Christenvroue gepraat en gesê: “Laat die vroue stilbly in die gemeentes, want hulle word nie toegelaat om te praat nie, maar laat hulle onderdanig wees” (1 Korintiërs 14:34). Waarom het Paulus hierdie opdrag vir susters gegee? Om die orde in die gemeente te bewaar. Hy het gesê: “As hulle dan iets wil leer, laat hulle hulle eie mans by die huis vra, want dit is ’n skande vir ’n vrou om in ’n gemeente te praat.”—1 Korintiërs 14:35.
Dalk het sommige susters bevraagteken wat in die gemeente gesê is. Paulus se raad het susters gehelp om so ’n wanordelike gees te verwerp en hulle posisie in Jehovah se hoofskapreëling nederig te aanvaar, veral met betrekking tot hulle mans (1 Korintiërs 11:3). Deur stil te bly, sou susters ook toon dat hulle nie daarna streef om onderrigters in die gemeente te wees nie. Toe Paulus vir Timoteus geskryf het, het hy getoon dat dit onvanpas sou wees as ’n vrou die rol van onderrigter sou aanneem: “Ek laat ’n vrou nie toe om te onderrig of om gesag oor ’n man uit te oefen nie, maar sy moet stil wees.”—1 Timoteus 2:12.
Beteken dit dat ’n Christenvrou nooit tydens ’n gemeentelike vergadering moet praat nie? Nee. In Paulus se dag was daar geleenthede wanneer Christenvroue in die gemeente gebid of geprofeteer het, moontlik aangedryf deur die heilige gees. By sulke geleenthede het hulle hulle posisie erken deur ’n hoofbedekking te dra (1 Korintiërs 11:5). a Daarbenewens word susters sowel as broers, in Paulus se dag en vandag, aangemoedig om ’n openbare bekendmaking van hulle geloof te doen (Hebreërs 10:23-25). Buiten dat hulle dit in die veldbediening doen, maak susters tydens gemeentelike vergaderinge hulle hoop bekend en moedig hulle ander aan deur weldeurdagte kommentare te lewer wanneer hulle gevra word en deur toewysings te aanvaar om aan demonstrasies of studentetoesprake deel te neem.
Christenvroue sal dus “stilbly” deur nie die rol van die man te probeer oorneem en die gemeente te onderrig nie. Hulle vra nie vrae op ’n stryerige manier wat die gesag van diegene wat onderrig, kan ondermyn nie. Deur hulle regmatige rol in die gemeente te vervul, dra Christensusters grootliks by tot ’n atmosfeer van vrede waarin “alles [by gemeentelike vergaderinge] tot opbouing geskied”.—1 Korintiërs 14:26, 33.
[Voetnoot]
a Vandag volg ryp susters daardie voorbeeld wanneer hulle weens omstandighede in die plek van ’n gedoopte broer in die gemeente moet optree.—Sien Die Wagtoring, 15 Julie 2002, bladsy 26.