Ons word ryklik beloon as ons in Jehovah se paaie wandel
Ons word ryklik beloon as ons in Jehovah se paaie wandel
HET jy al ooit in die berge gaan stap? Indien wel, het jy waarskynlik gevoel asof jy van bo af op die wêreld afkyk. Hoe heerlik was dit tog om die vars lug in te asem, om tot in die verte te kan sien, om die natuurprag in te neem! Dalk het die sorge van die wêreld daar onder ’n bietjie minder belangrik gelyk.
Die meeste mense gaan selde op so ’n uitstappie, maar as jy ’n toegewyde Christen is, stap jy dalk al ’n geruime tyd in die berge—in ’n geestelike sin. Soos die psalmis van die ou tyd het jy ongetwyfeld al gebid: “Maak u weë aan my bekend, o Jehovah; leer my u paaie” (Psalm 25:4). Onthou jy hoe jy gevoel het toe jy die eerste keer opgegaan het na die berg van die huis van Jehovah en op die hoogtes begin loop het? (Miga 4:2; Habakuk 3:19). Jy het ongetwyfeld gou besef dat jy beskerming en vreugde sal geniet as jy op hierdie verhewe paaie van rein aanbidding wandel. Jy het soos die psalmis begin voel: “Gelukkig is die volk wat die gejuig ken. O Jehovah, in die lig van u aangesig bly hulle wandel.”—Psalm 89:15.
Maar soms moet mense wat in die berge stap, teen lang, steil opdraandes uitklim. Hulle bene begin pyn en hulle raak uitgeput. Ons kan ook moeilikhede ondervind in ons diens aan God. Dalk het ons onlangs ’n bietjie swaar begin stap. Hoe kan ons ons energie en vreugde terugkry? Die eerste stap is om die verhewenheid van Jehovah se weë te erken.
Jehovah se verhewe wette
Jehovah se weë is ‘hoër as die mens se weë’, en sy aanbidding is ‘stewig bo die berge gevestig en bo die heuwels verhef’ (Jesaja 55:9; Miga 4:1). Jehovah se wysheid is “die wysheid van bo” (Jakobus 3:17). Sy wette is verhewe bo alle ander. Byvoorbeeld, in ’n tyd toe die Kanaäniete die wrede gebruik beoefen het om kinderoffers te bring, het Jehovah die Israeliete wette gegee wat sedelik verhewe was en deur medelye gekenmerk is. Hy het vir hulle gesê: “Jy mag die geringe nie partydig behandel nie, en jy mag ’n vername man nie bevoorreg nie. . . . Die inwonende vreemdeling . . . moet vir julle soos ’n boorling onder julle word; en jy moet hom liefhê soos jouself.”—Levitikus 19:15, 34.
Vyftien eeue later het Jesus verdere voorbeelde van Jehovah se ‘luisterryke wet’ gegee (Jesaja 42:21). In die Bergpredikasie het hy vir sy dissipels gesê: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg; sodat julle kan toon dat julle kinders is van julle Vader wat in die hemele is” (Matteus 5:44, 45). “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen”, het hy bygevoeg. “Trouens, dit is wat die Wet en die Profete beteken.”—Matteus 7:12.
Hierdie verhewe wette het ’n uitwerking op die harte van diegene wat daaraan gehoor gee en beweeg hulle om die God wat hulle aanbid, na te volg (Efesiërs 5:1; 1 Tessalonisense 2:13). Dink aan die algehele verandering wat Paulus ondergaan het. Wanneer ons die eerste keer van hom hoor, is hy besig om ‘die moord op Stefanus goed te keur’ en om ‘gewelddadig teen die gemeente op te tree’. Net ’n paar jaar later het hy die Christene in Tessalonika teer behandel soos “’n sogende moeder [wat] haar eie kinders koester”. Goddelike onderrigting het Paulus van ’n vervolger in ’n liefdevolle Christen verander (Handelinge 8:1, 3; 1 Tessalonisense 2:7). Hy was beslis dankbaar dat sy persoonlikheid deur Christus se leringe gevorm is (1 Timoteus 1:12, 13). Hoe kan ’n soortgelyke waardering ons help om aan te hou om op God se verhewe paaie te wandel?
Wandel met waardering
Voetslaners geniet die asemrowende uitsigte wat die berge bied. Hulle leer ook om klein dingetjies langs die voetpad te geniet, soos ’n ongewone rots, ’n pragtige blom of ’n wilde dier wat ’n mens dalk net vlugtig raaksien. In ’n geestelike sin moet ons bewus wees van die belonings—groot en klein—wat ons ontvang omdat ons met God wandel. Hierdie bewustheid kan ons hernieude energie gee en ’n moeisame gestrompel in ’n verfrissende wandeling verander. Ons sal ook soos Dawid sê: “Laat my u liefderyke goedhartigheid in die oggend hoor, want in u het ek my vertroue gestel. Maak aan my die weg bekend waarop ek moet wandel.”—Psalm 143:8.
Mary, wat baie jare lank al in Jehovah se paaie wandel, sê: “Wanneer ek na Jehovah se skepping kyk, sien ek nie net die ingewikkelde ontwerp daarvan nie, maar ook God se liefdevolle persoonlikheid. Of dit nou ’n dier, ’n voël of ’n insek is, elkeen is ’n klein wêreldjie, vol bekoring. ’n Mens put dieselfde genot uit geestelike waarhede wat deur die jare heen duideliker word.”
Hoe kan ons groter waardering opbou? Deels deur wat Jehovah vir ons doen, nie as vanselfsprekend aan te neem nie. “Bid onophoudelik”, het Paulus geskryf. “Betuig dank in verband met alles.”—1 Tessalonisense 5:17, 18; Psalm 119:62.
Persoonlike studie dra tot ’n dankbare gees by. Paulus het die Christene in Kolosse aangespoor: ‘Gaan voort om in eenheid met Christus Jesus te wandel, terwyl julle oorloop van geloof in danksegging’ (Kolossense 2:6, 7). As ons die Bybel lees en peins oor wat ons lees, sal dit ons geloof versterk en ons nader aan die Bybel se Outeur laat kom. Regdeur die Bybel is daar skatte wat ons kan aanspoor om ‘oor te loop van danksegging’.
Om Jehovah saam met ons broers te dien, maak die weg ook makliker. Die psalmis het van homself gesê: “Ek is ’n metgesel van almal wat u vrees” (Psalm 119:63). Van ons gelukkigste oomblikke word by Christenbyeenkomste of by ander geleenthede in die geselskap van ons broers deurgebring. Ons besef dat ons kosbare wêreldwye Christenfamilie sy bestaan te danke het aan Jehovah en sy verhewe weë.—Psalm 144:15b.
Buiten waardering sal ’n verantwoordelikheidsin ons versterk om op Jehovah se verhewe paaie te bly wandel.
Wandel verantwoordelik
Voetslaners met ’n verantwoordelikheidsin besef dat hulle versigtig moet loop sodat hulle nie verdwaal of te na aan die rand van ’n afgrond kom nie. Aangesien ons mense met wilsvryheid is, laat Jehovah ons ’n redelike mate van vryheid en inisiatief toe. Maar hierdie vryheid verg ’n verantwoordelikheidsin terwyl ons ons Christelike verpligtinge nakom.
Jehovah het byvoorbeeld die vertroue dat sy knegte hulle verpligtinge verantwoordelik sal nakom. Hy sê nie hoeveel energie en tyd ons in Christelike bedrywighede moet bestee nie of hoeveel ons finansieel of op ander maniere moet bydra nie. Paulus se woorde aan die Korintiërs is eerder op ons almal van toepassing: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het.”—2 Korintiërs 9:7; Hebreërs 13:15, 16.
Verantwoordelike Christelike mededeelsaamheid behels onder meer die verkondiging van die goeie nuus aan ander. Ons toon ook dat ons verantwoordelik is deur die wêreldwye Koninkrykswerk finansieel te ondersteun. Gerhardt, ’n ouer man, sê dat hy en sy vrou aansienlik meer bydraes begin gee het nadat hulle ’n byeenkoms in Oos-Europa bygewoon het. “Ons het gesien dat ons broers daar so min materiële dinge het; en tog het hulle so ’n groot waardering vir ons Bybellektuur”, sê hy, “daarom het ons besluit dat ons ons behoeftige broers in ander lande soveel moontlik wil ondersteun.”
Hou aan om te volhard
Dit verg stamina om in die berge te stap. Voetslaners oefen wanneer hulle ook al kan, en baie van hulle gaan stap kort ente om hulle vir lang voetslaanroetes voor te berei. Paulus het eweneens aanbeveel dat ons besig bly met teokratiese bedrywighede sodat ons geestelik gesond kan bly. Diegene wat wil “wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is” en “kragtig gemaak” wil word, het Paulus gesê, moet “voortgaan om vrug te dra in elke goeie werk”.—Kolossense 1:10, 11.
Motivering dra by tot die voetslaner se uithouvermoë. Hoe? Dit het ’n stimulerende uitwerking as ’n mens op ’n duidelike doelwit, soos ’n verafgeleë berg, konsentreer. En wanneer die voetslaner by landmerke langs die pad aankom, kan hy sy vordering op die pad na sy einddoel meet. Wanneer hy terugkyk op die afstand wat reeds gedek is, voel hy tevrede.
Net so gee ons hoop op die ewige lewe ons moed en motiveer dit ons (Romeine 12:12). Terwyl ons intussen in Jehovah se weë wandel, kry ons ’n gevoel van bevrediging wanneer ons Christelike doelwitte stel en dit dan bereik. En hoe groot is ons vreugde tog wanneer ons terugkyk op jare van getroue diens of sien watter veranderinge ons in ons persoonlikheid aangebring het!—Psalm 16:11.
Voetslaners beweeg teen ’n konstante pas as hulle lang afstande wil dek en energie wil spaar. Net so sal ’n goeie roetine wat gereelde vergaderingbywoning en velddiens insluit, ons help om doelgerig voort te beweeg. Paulus het mede-Christene dus aangemoedig: “Laat ons . . . voortgaan om ordelik in hierdie selfde roetine te wandel.”—Filippense 3:16.
Ons wandel natuurlik nie alleen op Jehovah se paaie nie. “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor”, skryf Paulus (Hebreërs 10:24). Goeie geestelike omgang sal dit vir ons makliker maak om die pas vol te hou terwyl ons saam met medegelowiges wandel.—Spreuke 13:20.
Laastens is dit van die allergrootste belang dat ons nooit moet vergeet van die krag wat Jehovah ons gee nie. Diegene wie se sterkte in Jehovah is, sal “voortgaan met toenemende lewenskragtigheid” (Psalm 84:5, 7). Hoewel ons soms moeilike situasies moet deurmaak, kan ons dit met Jehovah se hulp doen.