Godsdiensikone—Die antieke oorsprong daarvan
Godsdiensikone—Die antieke oorsprong daarvan
“Deur middel van ikone kan ons een word met die goedheid en heiligheid van God en Sy heiliges.”—GRIEKS-ORTODOKSE AARTSBISDOM VAN AUSTRALIË
OP HIERDIE snikhete dag in Augustus bak die son se strale neer op die sementtrap wat oploop na die klooster van die “Allerheiligste Moeder van God”, op die eiland Tínos, in die Egeïese See. Die skroeiende hitte ontmoedig nie die meer as 25 000 opregte Grieks-Ortodokse pelgrims wat stadig voortbeweeg terwyl hulle die ryklik versierde ikon van die moeder van Jesus probeer bereik nie.
’n Jong verlamde meisie wat ooglopend pyn verduur, kruip met ’n desperate uitdrukking op haar gesig op haar erg bebloede knieë. Nie ver van haar af nie is ’n moeë ou vroutjie wat van die ander kant van die land gereis het en treetjie vir treetjie voortsukkel. Die sweet tap van ’n gretige middeljarige man af wat deur die woelige skare beur. Hulle wil ’n ikon van Maria soen en hulle daarvoor neerbuig.
Hierdie uiters godsdienstige mense het ongetwyfeld ’n opregte begeerte om God te aanbid. Maar hoeveel van hulle besef dat hierdie verering van godsdiensikone teruggevoer kan word tot gebruike wat eeue voor die Christelike era beoefen is?
Die algemeenheid van ikone
In die Ortodokse wêreld is ikone oral te vinde. In kerkgeboue neem ikone van Jesus, Maria en baie “heiliges” ’n belangrike plek in. Gelowiges vereer dikwels hierdie ikone deur dit te soen en deur reukwerk en kerse te brand. Daarbenewens het byna alle Ortodokse huise hulle eie ikonhoekie, waar gebede gedoen word. Dit is nie ongewoon vir Ortodokse Christene om te sê dat hulle na aan God voel wanneer hulle ’n ikon aanbid nie. Baie glo dat ikone Goddelike genade en bonatuurlike krag besit.
Daardie gelowiges sou waarskynlik verbaas wees om uit te vind dat eerste-eeuse Christene nie die gebruik van ikone in aanbidding goedgekeur het nie. Die boek Byzantium sê: “Die vroeë Christene, wat ’n afsku van afgodediens van Judaïsme geërf het, het enige verering van prente van heiliges afgekeur.” Dieselfde boek sê: “Van die vyfde eeu af het ikone of beelde . . . al hoe algemener in openbare en private aanbidding geword.” Waar kom die gebruik van godsdiensikone dan vandaan as dit nie by die eerste-eeuse Christene ontstaan het nie?
Die oorsprong
Die navorser Vitalij Iwanowitsj Petrenko het geskryf: “Die gebruik van beelde en die tradisies waarop dit gegrond is, het lank voor die Christelike era ontstaan en is ‘afkomstig uit die heidendom’.” Baie geskiedkundiges stem hiermee saam en sê dat ikonaanbidding tot die godsdienste van antieke Babilon, Egipte en Griekeland teruggevoer kan word. In antieke Griekeland was godsdiensbeelde byvoorbeeld in die vorm van standbeelde. Mense het geglo dat dit Goddelike krag het. Hulle het gemeen dat party van hierdie beelde nie deur mense gemaak is nie, maar uit die hemel geval het. Tydens spesiale feeste is hierdie kultusbeelde in ’n optog om die stad geneem, en offerandes is aan die beelde gebring. “Gelowiges het die kultusbeeld self as ’n god beskou, hoewel daar al probeer is . . . om tussen die god en sy beeld te onderskei”, het Petrenko gesê.
Hoe het hierdie idees en gebruike in die Christelike godsdiens ingesluip? Dieselfde navorser het opgemerk dat Christelike leringe in die eeue ná die dood van Christus se apostels, veral in Egipte, “te staan gekom het voor die ‘heidense mengelmoes’—wat uit Egiptiese, Griekse, Joodse, Oosterse en Romeinse gebruike en opvattings bestaan het en sy aan sy met Christelike belydenis beoefen is”. As gevolg hiervan het “vindingryke Christendenkers ’n metode [van geloofsvermenging] aangeneem en van heidense simbole gebruik gemaak en dit in ’n nuwe konteks geplaas, hoewel hulle dit nie heeltemal van heidense invloede gesuiwer het nie”.
Ikone het gou die middelpunt van die persoonlike sowel as die openbare godsdienslewe geword. In die boek The Age of Faith beskryf die geskiedskrywer Will Durant hoe dit ontstaan het: “Saam met die toename in die aantal heiliges wat aanbid is, het ’n behoefte ontstaan om hulle te identifiseer en te onthou; ’n menigte prente van hulle en van Maria is gemaak; en in die geval van Christus het nie net Sy veronderstelde voorkoms nie, maar ook Sy kruis, voorwerpe van verering—en vir die eenvoudiges
van verstand, selfs gelukbringers—geword. ’n Natuurlike verbeeldingrykheid onder die mense het die heilige relieke, prente en standbeelde in voorwerpe van aanbidding verander; mense het hulle daarvoor neergebuig, dit gesoen, kerse en reukwerk daarvoor gebrand, blomme daarop gesit en probeer om wonderwerke deur hulle geheime krag te laat plaasvind. . . . Kerkvaders en konsilies het herhaaldelik verduidelik dat die beelde nie gode is nie, maar slegs herinneringe daaraan; die mense het nie in sulke onderskeide belanggestel nie.”Vandag sou baie wat godsdiensikone gebruik, ook sê dat beelde bloot voorwerpe van verering is—nie van aanbidding nie. Hulle beweer dalk dat godsdiensprente toelaatbare—selfs onmisbare—hulpmiddele is om God te aanbid. Dalk voel jy ook so. Maar die vraag is: Hoe voel God daaroor? Is dit moontlik dat die verering van ’n ikon in werklikheid op aanbidding daarvan neerkom? Kan sulke gebruike werklik verskuilde gevare inhou?
[Venster/Prent op bladsy 4]
Wat is ’n ikon?
Anders as standbeelde wat baie algemeen in Rooms-Katolieke aanbidding gebruik word, is ikone tweedimensionele voorstellings van Christus, Maria, “heiliges”, engele, karakters en gebeure uit die Bybel of uit die geskiedenis van die Ortodokse Kerk. Gewoonlik word dit op draagbare stukke hout geverf.
Volgens die Ortodokse Kerk “lyk die prente in ikone van die heiliges nie soos prente van gewone mense nie”. In ikone “is die perspektief [ook] omgekeer”—die prent raak nie nouer namate dit dieper raak nie. Gewoonlik “is daar geen skadu’s of maniere om dag en nag uit te beeld nie”. Die hout en verf van ’n ikon kan ook glo “met God se teenwoordigheid gevul word”.
[Prent op bladsy 4]
Die gebruik van beelde kan tot heidense gebruike teruggevoer word
[Foto-erkenning op bladsy 3]
© AFP/CORBIS